- 3 eetlepels - olyfolie
- 2 - vet repe gerookte spek (rashers), in blokkies gesny
- 1 - eiervrug, in blokkies gesny
- 200 g - knopiesampioene, in dun skyfies gesny
- 1 - rooi soetrissie, pitte verwyder en gekap
- 1 - geel soetrissie, pitte verwyder en gekap
- 1 eetlepel - tamatiepasta
- 2 - knoffelhuisies, fyn gekap
- ½ koppie - droë witwyn
- 1 blik (400 g) - kersietamaties (of gekapte tamaties)
- 1 teelepel - ligbruinsuiker
- - sout en varsgemaalde swartpeper
- 2 - lourierblare
- 1 koppie - orzopasta
- - Maldon-seesout
- ’n strooisel - basilieblare
- ’n paar eetlepels - goeie olyfolie
Só maak jy
1 Verhit 'n lepel olyfolie en braai die spek tot bros en goudbruin. Skep uit en hou eenkant. Voeg nog 'n lepel olyfolie in dieselfde pan en braai die eiervrug en sampioene saam tot gaar en sag. (Ek voeg 'n skeutjie kookwater by die pan en laat dit dan heeltemal wegkook om seker te maak die eiervrug is is deurgaar en sappig.) Skep uit, voeg die laaste olie by en braai die soetrissieblokkies tot geurig.
2 Roerbraai die tamatiepasta en knoffel vir 'n paar minute saam met die soetrissies. Skep die spek, sampioene en eiervrug terug in die pan, skink die wyn by en laat dit vir nog 3 minute driftig kook. Skraap die bodem van die pan terwyl die wyn kook om seker te maak al die geurige stukkies meng saam met die sous.
3 Voeg die kersietamaties by, skink die blik vol kookwater en voeg dit by die pan. Geur met die suiker, sout en peper. Roer die lourierblare en pasta by en bring tot kookpunt. Draai die hitte laer en laat prut vir 8 tot 10 minute of totdat die pasta al dente is. Hou dit maar dop - as die pasta lyk asof dit te droogkook, roer dit en vul die vloeistof met 'n skeutjie kookwater aan.
4 Sodra die orzopasta reg is, haal die pan van die hitte, garneer met 'n ruim skeut goeie olyfolie en 'n strooisel Maldon-seesoutvlokkies en sit voor met 'n strooisel vars basilie.
Wenk
Jy kan die eiervrug of sampioene met ander groente vervang. Murgpampoentjies is ook heerlik in hierdie geurkombinasie.






