Kos + wyn

Eers oor die kole, dan pot toe: Hoender met spek, kerrie en appelkooskonfyt

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 4 - hoenderdye
  • 4 - hoenderboudjies
  • 1 teelepel elk - paprika en fyn koljander
  • 2 eetlepels - olyfolie
  • 4 - dik repe spek (gerookte vark-“rashers”), middeldeur gesny
  • 2 - middelslag-uie, middeldeur en dungesny
  • 1 - rooi soetrissie, pitjies uitgeskraap en in repies gesny
  • 1 blik (400 g) - gekapte tamatie (met brandrissie as jy wil)
  • 1 eetlepel - tamatiepasta
  • 1 teelepel - kerriepoeier
  • 1 eetlepel - appelkooskonfyt
  • - pap of rys om voor te sit

Só maak jy

1 Sny 2-3 diep kepe in elke hoenderstuk (tot op die been) en vryf dit met die speserye in.

2 Braai die hoender in 'n toeknyprooster oor die kole tot dit 'n mooi kleurtjie het, maar nie noodwendig deurgaar is nie.

3 Verhit die olyfolie in 'n groot potjie oor die kole en braai die spekrepe tot gekaramelliseer. Skep die spek uit, maar behou die gegeurde olie. Braai die ui en soetrissie tot sag.

4 Roer die tamatiepasta, kerriepoeier en appelkooskonfyt by die uiemengsel en smoor dit vir 'n paar minute saam.

5 Voeg die hoender, spek, tamatie en 'n tamatieblik vol water by, en prut alles saam tot die sous dik en die vleis gaar is. Sit dit voor met pap of rys.

Ry & Sleep sê

Die spek-en-soetrissiesous van die potjie kan ook as 'n smoor voorgesit word saam met gebakte foelieaartappels óf op gourmet-boereworsrolle. Kap eenvoudig die spek fyner en volg die stappe minus die hoender.

Johané Neilson | Foto: Ed O’Riley