Kos + wyn

Vol geur sonder die rooi kleur! Dié wit bolognaise is ’n treffer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 1 - groot ui
  • 2 - wortels
  • 2 - selderystele
  • 2 eetlepels - olyfolie
  • 200 g - dik repe spek (smoked pork rashers), gekap
  • 600 g - maalvleis (helfte beesvleis, helfte vark)
  • 3 - knoffeltoontjies, fyngedruk
  • 1 teelepel - vinkelsaadjies
  • ’n takkie elk - roosmaryn en salie (’n knippie elk droë kruie werk ook)
  • 1 koppie - droë witwyn
  • 2 koppies - hoenderaftreksel
  • 1 koppie - melk
  • ½ koppie - room (opsioneel)
  • 500 g - pastalinte
  • 1 - suurlemoen se sap en gerasperde skil
  • - baie gerasperde parmesaan om voor te sit

Só maak jy

1 Rasper die groente fyn (jy kan ook 'n voedselverwerker vir dié taak gebruik).

2 Verhit die olie en braai die spek tot baie bros. Skep die helfte uit en hou dit vir later.

3 Roer die maalvleis by die pot en braai dit verder. Breek die vleis met 'n spaan in stukkies op.

4 Voeg al die fyn groente, knoffel, vinkel en wyn by. Wanneer die potjie lekker gesels, voeg al die aftreksel en melk by.

5 Krap die kole onder die potjie uit sodat dit net saggies prut - nou begin die kuier. Die vleissous is tegnies reg ná 1 uur se oop prut, maar is wenslik vir geurontwikkeling. Loer gereeld om seker te maak die sous kook nie droog nie. Net voor opdiening kan jy 'n ½ koppie room byroer. Dit maak die sous weelderiger.

6 Kook die pasta in soutwater tot al dente en roer dit by die sous. Geur dit met die suurlemoensap en -skil plus sout en varsgemaalde swartpeper. Sit die pasta voor met parmesaankaas en die bros­gebraaide spekstukkies. óf sit die gaar pasta en sous apart voor - roer dan net 'n skeut olyoflie deur die linte sodat dit nie aan mekaar vassit nie. Met dié metode prut die pasta nie oorgaar in die sous nie en jy kan enige oorskietvleissous die volgende dag in jaffels gebruik!

Ry & Sleep sê

As jy baie oulik is, maak die fyn groentebasis tuis en vries dit saam met die knoffel en geurmiddels (apart van die vleis). Dit sal jou bereidingstyd halveer!

Johané Neilson | Foto: Ed O’Riley