Kos + wyn

KYK + KOOK | Rysgevulde groente

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
  • 6 - groot tamaties
  • 1 - rooi soetrissie
  • 1 - geel soetrissie
  • 1 - groen soetrissie
  • 2 - klein eiervrugte
  • 60ml - olyfolie
  • 1 - ui, gekap
  • 2 - knoffelhuisies, gekap
  • 350ml - rou basmatirys
  • 30ml - gekapte ment
  • 30ml - gekapte pietersielie
  • 400ml - groente-aftreksel
  • 6 - Mediterreense aartappels, elk in 8 wiggies gesny
  • 2 - takkies origanum

1. Sny 'n deksel uit elke tamatie (hou vir later) en hol die tamatie uit. Hou die sap eenkant en kap die vlees in blokkies. Sny ook 'n dekseltjie in elke soetrissie (hou vir later) en hol die pitte en membrane uit; gooi dit weg.

2. Sny oor die lengte van die eiervrug, sowat 5 mm diep, 'n deksel af (hou vir later) en hol die eiervrugte uit. Kap die vlees wat jy uithol fyn en hou eenkant.

3. Verhit 30 ml olyfolie in 'n dikboompan en braai die ui tot glansend. Skep die eiervrugvlees wat jy in stap 2 gekap het by en braai verder tot dit begin sag word. Roer die knoffel by en braai vir 'n minuut. Voeg die rou rys by en roerbraai tot die korrels bedek is met die geurige olie. Roer die stukkies tamatie en al die kruie by en meng. Roer die helfte van die aftreksel by, kook vir 'n paar minute en verwyder van die hitte.

4. Voorverhit die oond. Vul die uitgeholde groentes twee derdes vol met die rysvulsel, geur met sout en peper na smaak, giet die behoue tamatiesap en aftreksel oor die rys. Sit die dekseltjies terug op die gevulde groente en rangskik in 'n groot oondbak.

5. Meng die aartappelwiggies met die oorblywende olyfolie, geur met sout en peper en rangskik tussen die gevulde groente in die oondbak saam met die origanum. Bak oop vir 1 uur of tot goudbruin en gaar. Roer die aartappels na 45 minute deur en bedruip die rysvulsel in die gevulde groente met van die pansappe in die oondbak. Sit warm voor.