Agoa: Bedryf kou naels stomp

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Werkers vier ’n mylpaal by Isuzu se fabriek in die Baai. Motoruitvoere na Amerika speel ’n groot rol in die volhoubaarheid van Suid-Afrika se motorvervaardigingsbedryf.
Werkers vier ’n mylpaal by Isuzu se fabriek in die Baai. Motoruitvoere na Amerika speel ’n groot rol in die volhoubaarheid van Suid-Afrika se motorvervaardigingsbedryf.

Daar is groot kommer onder plaaslike motorvervaardigers oor wat die negatiewe impak kan wees sou Suid-Afrika uitgesluit word van die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa).

Amerika het verlede maand aangedui dat hy straks Suid-Afrika uit dié voordelige stelsel vir plaaslike handel en uitvoere na die VSA kan skop.

Benewens die vervaardigers soos Ford en BMW wat 'n groot persentasie van hul voertuie na Noord-Amerika uitvoer, sal die opskorting van die toegewing vir tariefvrye uitvoere ook die plaaslike onderdele- en bandvervaardigers raak.

Volgens prof. Jannie Rossouw, besoekende professor aan die sakeskool van die universiteit van die Witwatersrand, bied die Agoa-ooreenkoms aan Suid-Afrika die geleentheid om toegevoegdewaarde-produkte tariefvry na Amerika uit te voer. Dit is belangrik, want dit beteken die moedermaatskappye van Ford, Volkswagen en BMW (onder meer) sal die hand diep in die sak steek om in hul Suid-Afrikaanse fabrieke te belê.

Dit nou omdat die SA fabrieke die Agoa-ooreenkoms tot hul voordeel kan benut om uitvoer goedkoper te maak as sou dit van Europa verskeep moes word. Dit hou dus die groot vervaardigers in die land.

Elke fabriek bied werkgeleenthede aan duisende blouboordjiewerkers. Die motorfabrieke sorg ook dat daar 'n rits verskaffers is wat aan die lewe kan bly - kleiner fabrieke wat items soos deurpanele of sitplekbekleedsels hier in Suid-Afrika vervaardig.

Nagenoeg 35 000 mense werk in die motor- en onderdelefabrieke, terwyl die motorbedryf in sy geheel werk aan 110 000 mense verskaf. Nagenoeg R34,8 miljard se voertuie is verlede jaar na Amerika uitgevoer.

Sou die handelsooreenkoms sneuwel, kan dit dus 'n enorme impak op die werkloosheidsyfer, die ekonomie en die wisselkoers hê.

Die waarde van die plaaslike motorbedryf lê daarin dat dit rou staal verwerk na iets met veel meer waarde. Pleks daarvan om net staal of selfs ystererts uit te voer, benut ons dus die rou materiaal en verryk dit tot 'n produk met 'n duur prys wat dan uitgevoer word. Dit is dus baie meer waardevol vir die land om sulke fabrieke hier te hê.

Nog geen finale besluit is oor Suid-Afrika se betrokkenheid by die Agoa-ooreenkoms geneem nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA