Tariewe laat suur smaak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daar is groot kommer onder sitruskwekers oor die stygende uitvoertariewe na die VSA. Foto: VERSKAF
Daar is groot kommer onder sitruskwekers oor die stygende uitvoertariewe na die VSA. Foto: VERSKAF

Met die addisionele 30%-tarief op uitvoere na die VSA wat Woensdag in effek gebring is, het dit 'n enorme impak op sitrusprodusente wat vandeesweek hul eerste sitrus vir die VSA se markte verpak het.

Luidens 'n verklaring van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA) sal hierdie verhoging in tariewe Suid-Afrikaanse sitruskwekers én die landelike gebiede wat hulle ondersteun, seermaak. Hulle doen 'n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om onderhandeling met die VSA te prioritiseer om sodoende die tariewe te verlaag of om sitrus hierby uit te sluit.

"('n Verlaging) word dringend benodig om werksverlies en die verlies van winste in die sitrusbedryf - Suid-Afrika se grootste landbou-uitvoerbedryf - te verhoed," sê die CGA.

Volgens Gerrit van der Merwe, die CGA se voorsitter en 'n sitruskweker van die Olifantsriviervallei, word 'n totaal van 35 000 werke verbind tot uitvoere tussen Suid-Afrika en die VSA.

"Terwyl Suid-Afrika slegs 5%-6% van ons sitrus na die VSA uitvoer, is baie landelike gebiede in die Wes- en Noord-Kaap afhanklik van die uitvoere na die VSA. 'n Goeie voorbeeld hiervan is Citrusdal waar uitvoere na die VSA die ekonomiese hart van hierdie dorp is.

"Die erns en onmiddellike aard van die tariewe kan beteken dat dorpe soos dié nou óf groter werkloosheid óf dalk selfs algehele ekonomiese ineenstorting in die gesig staar. Daar is geweldige angs in ons gemeenskappe," sê hy.

Die CGA deel dat die bykomende 30% sal veroorsaak dat Suid-Afrikaanse sitrus nie kompeterend in die VSA se mark sal wees nie, want die basis 10%-tarief van die VSA sal geldig wees vir Suid-Afrika se kompetisie in die sitrusbedryf - dié wat meestal in Suid-Amerika geleë is.

Volgens die bedryfsliggaam sal die 30%-tarief 'n addisionele $4,25 per kartonhouer op Suid-Afrikaanse sitrus in die VSA plaas.

Boitshoko Ntshabele, uitvoerende hoof van die CGA, sê daar is duidelike en oortuigende argumente waarom die regering vinnig moet optree om sitrus te beskerm.

"Sitrus word nie in 'n fabriek geproduseer nie. Suid-Afrikaanse sitruskwekers kompeteer nie met Amerikaanse sitrusprodusente nie. Inteendeel, ons hoëgehalteprodukte onderhou verbruikersbelangstelling wanneer Amerika se plaaslike sitrus buite seisoen is, wat uiteindelik Amerikaanse produsente bevoordeel wanneer ons aan die einde van ons seisoen oorgee," sê hy.

Ntshabele sê verder dat sitrus ook 'n belangrike rol speel in die gesonde dieet van Amerikaners en dat hierdie tariewe waarskynlik 'n verhoging op pryse vir Amerikaanse gebruikers tot gevolg sal hê.

"Sitrus behoort op die Withuis se vrystellingslys te wees. Dit is seisoenaal en ondersteun die VSA se gesondheid en die VSA se sitrusbedryf terwyl dit help om kosinflasie laer te hou," sê Van der Merwe. Volgens die CGA is daar 'n groot aanvraag in die VSA vir sitrus vanuit Suid-Afrika, want die hoeveelheid sitrus wat na die VSA uitgevoer is, het sedert 2017 amper verdubbel.

Die groot rede vir die groot uitvoere van die Wes- en Noord-Kaap se sitrus na die VSA is weens die plantgesondheid-maat­reëls van die Europese Unie (EU).

"Die VSA se volumes gaan nie so maklik op kort kennisgewing na elders uitgevoer kan word nie. Ons staar reeds baie hoë tariewe in die gesig as dit kom by uitvoere na die belowende markte van Indië en China.

"Ons waardeer die regering se aankondiging dat dit pogings sal verskerp om uitvoerbestemmings te diversifiseer - gerig op Asië, Europa, en die Midde-Ooste, om maar 'n paar te noem, maar ons moet ook huidige markte behou, aangesien ons sitrusproduksie na verwagting in die volgende paar jaar aansienlik sal toeneem," sê Ntshabele.

Landbou-Redaksie

SPELETJIES VANDAG

CTA