BMW het so stilweg sy nuwe 2-reeks Gran Coupé plaaslik bekend gestel.
Die Gran Coupé is die sportsedan-weergawe van die 1-reeks en deel ook dié se platform, maar bied aan kopers 'n pragtige, sportiewe profiel met 'n dalende daklyn agter en 'n meer sportiewe aanslag in die kajuit en buite-afwerkings.
Daar sal drie modelle beskikbaar wees, maar interessant genoeg geen diesel-weergawe meer soos in die verlede nie. Al drie is nou petrolgedrewe.

Die 218 dien as die intreemodel en benut 'n 1.5-liter-turbo wat 'n raps warmer gemaak is om meer krag te bied. Die 218 sal ook as 'n sportiewer weergawe te kry wees in die 218 M Sport.
Die topmodel in die reeks is die M235, wat 'n 2.0-liter-turbo benut.
Ook dié enjin is aangepas deur die witjasse by München, om meer krag (+ 7 kW) maar heelwat minder wringkrag (- 50 Nm) los te draai (sien kassie vir die nuwe kragsyfers).
Wakker lesers sou nog 'n nuwigheid waargeneem het, naamlik dat BMW nou voortgaan om die "i" weg te laat agteraan sy petrolmodelle se syfernaam.
Die "i" sal voortaan net gebruik word by sy batterygedrewe voertuie, soos die iX3 of i5.
Die Gran Coupé ding met Mercedes se CLA mee en kombineer 'n kompakte lyf met 'n sportiewe profiel en 'n dinamiese rit. Ons hou van sy platter rooster, die swart aksente wat mildelik ingespan word, en die klein drukvlerk (op die M235) agter.
Dis veral die M235 se voorkoms wat die kol tref.
Soos gewoonlik is die lysprys bloot 'n beginpunt. Danksy 'n rits afwerkingspakkette kan jy jou Beemer nog heelwat geriefliker inrig met geriefs-, veiligheids- en dinamiese ekstras.
Pakkette sluit in die Equipment-pakket (R24 500), die Equipment Professional-pakket (R47 000) en die M Sport Pro-pakket (R30 000).
Vir die 218 is daar ook nog 'n Pure Design Edition- (R24 000) en Deluxe-pakket (R32 000). Dis grootliks om die valerige intreemodel 'n bietjie van 'n visuele hupstoot te gee dat hy meer ramkat vertoon.






















