Motors

BAIC het groot planne in Baai

Die Chinese vervaardiger BAIC staan eindelik - ná 'n lang stilte waarin allerhande vrae oor die groep se bedoelings in die land ontstaan het - op die punt om sy produksievermoëns by sy moderne fabriek in Kariega in die Oos-Kaap uit te brei.

Die mikpunt: verskeie nuwe modelle wat wissel van bakkies tot vragmotors en sportnutse, en die meeste daarvan bestem vir die uitvoermark na die res van Afrika.

Die skeptisisme van die groep ouskool-joernaliste wat die BAIC-aanleg verlede week besoek het, was tasbaar. Maar ook met reg so, want sedert die fabriek in 2016 met groot seremonie deur oudpres. Jacob Zuma geopen is, het daar letterlik net meer as 200 modelle van die produksielyn gerol.

Die moderne monteeraanleg net buite Gqeberha word tans ingespan om die X55-sportnuts te bou.
Die moderne monteeraanleg net buite Gqeberha word tans ingespan om die X55-sportnuts te bou.

Die fabriek het 'n vermoë van 50 000 eenhede per jaar, maar met die deurstap tussen die lyne oorhoofse kabels, hyskrane en moderne, oranje robotarms, was dit rillerfliek-stil: Min voertuie wat op die lyn beweeg en nog minder werkers wat iets doen.

Trouens, tans is daar slegs 45 werkers in die ganse fabriek doenig. Die BAIC-fabriek sit op die oomblik die X55-sportnuts hier aanmekaar, op 'n SKD-grondslag (semi knocked-down), wat beteken al die bakpanele word in China gepers en kom dan in kiste verpak in Gqeberha aan.

Die Kariega-fabriek sweis en skroef dus net 'n paar bakpanele aanmekaar, wat reeds minder arbeidsintensief is as 'n volledige produksiegerief soos die ander motorfabrieke in Suid-Afrika (BMW, Mercedes-Benz, Volkswagen, Ford, Isuzu en Nissan).

Die fabriek werk met SKD-eenhede - al die bakpanele word in China gepers, waarna dit verpak en na Suid-Afrika verskeep word. In die fabriek word die panele dan net vasgesweis en die kajuit en aandryfstelsel gemon­teer.
Die fabriek werk met SKD-eenhede - al die bakpanele word in China gepers, waarna dit verpak en na Suid-Afrika verskeep word. In die fabriek word die panele dan net vasgesweis en die kajuit en aandryfstelsel gemon­teer.

Die doel van die besoek aan die fabriek was eintlik om BAIC SA se groot toekomsplanne aan te kondig.

Die groep hoop om sy vragmotor-filiaal, Foton, nader te trek om enkele van sy produkte hier te bou. Ons het juis drie Foton-vragmotors in die fabriek gesien waar hulle tans gemeet en gepas word.

Die plan is ook om 'n Foton-bakkie hier te bou, as die nuwe bakkie (wat vroeër vandeesmaand bekend gestel is) beter verkoopsyfers kan toon.

Daarmee saam sal die fabriek ook voortgaan met produksie van sy X55-sportnuts.

BAIC se opgeknapte BJ40 herinner sterk aan 'n Jeep Wrangler. Die stile­ring lyk treffend binne en buite, en danksy 'n laestrekratkas is hy heel gedug in die veld. Foto: Marnus Hattingh
BAIC se opgeknapte BJ40 herinner sterk aan 'n Jeep Wrangler. Die stile­ring lyk treffend binne en buite, en danksy 'n laestrekratkas is hy heel gedug in die veld. Foto: Marnus Hattingh

BJ40 kry 'n opknapping

Saam met die fabriekbesoek het BAIC ook een van sy ander produkte aan die media gewys, sy netjiese veldryer die BJ40.

Die BJ40 lyk op 'n druppel soos 'n Jeep Wrangler, maar dis darem ook nie te vreemd nie, want "BJ" staan inderdaad vir "Beijing Jeep". Dis hoe die motorvervaardiger sy ontstaan gehad het kort ná die Tweede Wêreldoorlog, toe China sy eie Jeeps vir sy weermag wou bou.

Terloops, in Suid-Afrika word die BJ40 as die B40 om verstaanbare redes bemark, al pronk daar prominent op elke kanttrap en kenteken "BJ40" in vet letters.

Die BJ40 is 'n lekker kompakte "Wrangler" met uitgeboude wielboë, 'n goeie grondvryhoogte van 20 cm, vierwielaandrywing met 'n laestrekratkas, en goeie nader-, vertrek- en oorbruggingshoeke.

Die swart plastiekdak kan afgehaal word en die voorruit vooroor platgeslaan word sodat jy al fresco soos 'n Kaliforniër in die duine kan rondrits.

Onder die enjinkap sit 'n 2.0-liter-turbo-petrolenjin wat 'n billike 165 kW en 380 Nm wringkrag losdraai. Krag gaan met 'n agtgang- outomatiese ZF-ratkas na die wiele.

Dis eintlik vreemd dat die mooi BJ40 met sy lekker gemaklike rit en tegniese vermoëns nie meer kopers in die land vind nie. Dalk kan BAIC 'n bietjie meer bemarking vir hom doen, want hy verdien 'n groter gehoor.

Intussen hou ons die oor teen die grond wanneer BAIC sy massiewe, spookagtige fabriek vir meer werk gaan inspan as net 'n handvol X55's per dag.

Daar's wel fronse oor stil fabriek

Een van die redes waarom die BAIC-teenwoordigheid in Suid-Afrika met soveel wantroue bejeën is, is omdat die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) 35% aandele in die maatskappy het, met die Chinese moedergroep die ander 65%.

Dis 'n groot hap van jou belastinggeld wat namens jou in hierdie fabriek ingestoot is, maar wat sedert 2016 vir alle praktiese doeleindes basies leeg staan.

Trouens, in die BAIC-direkteure se eie woorde maak die fabriek tans geen wins nie. Dit het straks vir die afgelope agt jaar ook geen wins getoon nie, want net 'n handvol voertuie is gebou.

Die transaksie is boonop in die berugte Jacob Zuma-era van staatskaping beklink. Daar was ook ander staatsbeleggings wat die wenkbroue in daardie tyd laat lig het, soos die inpomp van staatsgeld in die Independent-mediagroep.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM