Motors

Die C9 se nege langpad-lewens

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Chery se twee "spruite", Omoda en Jaecoo, is dalk nog in hul kinderskoene, maar het reeds vir hulle 'n plek in die hoogs mededingende plaaslike mark oopgeskouer.

Omoda het in die eerste kwartaal van 2023 sy verskyning met die C5 gemaak, en Jaecoo het 'n jaar later gevolg met sy middelslagsportnuts, die J7. Albei val onder die Chinese moedermaatskappy Chery, wat geen bekendstelling meer nodig het nie.

Vanjaar is 'n groot jaar vir Omoda en Jaecoo met 'n hele paar nuwe modelle wat hul opwagting gaan maak. Dinge begin op 'n opwindende noot met albei wat pas hul eerste tree in die elektriese-voertuigmark gegee het deur 'n inprop- hibriede model (PHEV) by hul voertuigreeks te voeg. Die C9 PHEV sluit hom by Omoda aan, terwyl Jaecoo sy J7 met die J7 SHS (Super Hybrid System) uitgebrei het.

Ons het dié twee "langafstandatlete" op hul onlangse bekendstelling van nader leer ken.

Omoda se C9 PHEV kan lang treë gee en terselfdertyd vinnig spore maak. Foto: Verskaf
Omoda se C9 PHEV kan lang treë gee en terselfdertyd vinnig spore maak. Foto: Verskaf

Ligte drinkers met elektriese skop

Inprop- hibriede voertuie bestaan uit 'n binnebrandenjin en 'n elektriese motor met 'n groterige battery wat by 'n muurprop of laaistasie herlaai kan word.

Dis 'n al hoe gewilder alternatief vir ten volle elektriese voertuie, aangesien hulle die voordele van albei aandrywingsbronne bied.

Die Jaecoo J7 SHS, sowel as die Omoda C9 PHEV word deur 'n 1.5-liter-viersilinder-turbopetrolenjin in kombinasie met 'n elektriese motor aangedryf. In die J7 se geval is die gekombineerde kragsyfer van die petrolenjin en elektriese motor 255 kW en 525 Nm wat na die voorwiele gestuur word via 'n toegewyde hibriede ratkas (DHT). Die e-motor tap sy krag uit 'n 18,3 kWh-battery wat 'n reikafstand van tot 90 km bied. In kombinasie met die enjin is 'n allemintige reikafstand van ongeveer 1 200 km binne bereik.

Die C9 PHEV se binneruim is weelderig affêre met 'n langwerpige skerm vir die nuts- en bestuursfunksies. Foto: Verskaf
Die C9 PHEV se binneruim is weelderig affêre met 'n langwerpige skerm vir die nuts- en bestuursfunksies. Foto: Verskaf

Dié syfers is indrukwekkend, maar die C9 PHEV vat dit na die volgende vlak. Hy span vier elektriese motors en 'n 34,5 kWh-battery in kombinasie met 'n 1.5-liter turbo-enjin in, asook 'n driespoed- hibriede ratkas. Wat dit alles beteken, is gekombineerde kraglewering van 440 kW en 915 Nm wat die redelik lywige C9 in slegs 4,9 sekondes van 0-100 km/h lanseer.

Dít terwyl hy 'n reikafstand van 150 km op elektriese krag bied, en 'n gekombineerde reikafstand van ongeveer 1 100 km.

Die "aërodinamiese" ontwerp van die wiele en 'n PHEV-kenteken op sy stertkant is al wat Jaecoo se J7 SHS van die binnebrandmodelle onderskei. Foto: Verskaf
Die "aërodinamiese" ontwerp van die wiele en 'n PHEV-kenteken op sy stertkant is al wat Jaecoo se J7 SHS van die binnebrandmodelle onderskei. Foto: Verskaf

Ry in styl

Daar is nie veel wat die C9 PHEV en J7 SHS van hul onderskeie petrol-eweknieë in die reeks onderskei nie, behalwe nou vir die ekstra flap waar hulle by 'n laaipunt ingeprop kan word. Die C9 PHEV word basies net deur 'n ander ontwerp vir sy 20-duimers onderskei, terwyl die J7 SHS eweneens met 'n ander stel 19"-wiele pronk.

Albei is aantreklike voertuie wat hul eie ontwerprigting inslaan, met die J7 wat meer vierkantig voorkom met 'n treffende, eiesoortige blokkiesontwerp vir die dagryligte se LED's, en 'n prominente sierrooster wat uit vertikale chroomstawe bestaan, terwyl die C9 heel deftig vertoon en op vloeiender lyne en 'n effense koepee-profiel staatmaak om die koppe te laat draai.

Aan die binnekant is daar ook nie veel onderskeid te tref nie. Die J7 SHS se instrumentpaneel word deur 'n reuse-tabletskerm van 37 cm oorheers met 'n kleiner skerm voor die bestuurder. Daar is byna geen fisieke skakelaars nie, wat 'n netjiese, minimalistiese voorkoms skep, maar dit maak sekere verstellings, vir byvoorbeeld die lugversorging, meer omslagtig. Ook opmerklik is die gebrek aan 'n rathefboom, wat met 'n spriet aan die stuurkolom vervang is. Daar is ook geen fisieke aansitknop nie. Jy hoef bloot die voertuig in "Drive" of trurat te sit, en daar gaan jy.

As 'n groter en meer premium-voertuig straal die C9 PHEV se binneruim 'n luukse atmosfeer uit met sagte materiale wat ruimskoots ingespan word. 'n Skoon ontwerp is hier ook te bespeur, maar dit word gekombineer met fisieke skakelaars, waarvan ons hou.

Die beste van albei wêrelde

Ons bekendstellingsrit in albei voertuie het 'n redelike kort afstand op die pad ingesluit, asook 'n paar hanteringsessies by Gerotek.

Die C9 PHEV beïndruk met sy stil, soepel rit, waarskynlik deels te danke aan 'n elektronies aanpasbare veringstelsel wat die vering-verstellings aanpas na gelang van die bestuurstoestande en padoppervlak.

Jy kan kies om ten volle van batterykrag gebruik te maak of 'n hibriede verstelling, waar die enjin en elektriese motors saamwerk soos die toestande dit vereis. Die enjin help ook om die battery gedeeltelik te herlaai.

Op die toetsbaan en die pad het die C9 PHEV heel goed gevaar, maar dis duidelik sy vering is meer vir gerief ingestel. Selfs in die sportverstelling is daar 'n redelike mate van bakleun.

Sy versnelling is wel blitsig, en oombliklik, en sal verskeie verrigtingsmotors in sy truspieëltjie agterlaat.

Hoewel die J7 SHS se kragsyfers nie so indrukwekkend soos die C9 PHEV s'n is nie, is dit glad nie te versmaai nie en versnel dit ook teen 'n haastige pas met vinnige reaksies.

Soos met die C9 PHEV kan jy ook tussen volle elektriese krag of hibriede krag kies, gekombineer met verskeie bestuursmodusse.

Sy ritgehalte is wel fermer, maar nie ongemaklik nie. Die stuurgevoel is 'n raps te lig na ons smaak.

Slotsom

Omoda en Jaecoo het moontlik die spreekwoordelike knuppel in die hoenderhok gegooi met die C9PHEV en J7SHS. Albei is kompeterend geprys, omvangryk toegerus en bied imposante verrigtingsyfers. Boonop is suinige verbruiksyfers en 'n indrukwekkende reikafstand van oor 'n 1000km wortels voor die neus van skeptiese kopers wat nie geïgnoreer kan word nie.

Daar is 'n skerp toename in die aantal hibriede en inprop- hibriede voertuie in die plaaslike mark, met nog talle wat op pad is, maar vir nou staan die J7SHS en C9PHEV in baie opsigte aan die bopunt van die podium.

CTA