Stanley-motors
Stanley-motors, met sy monteeraanleg in Johannesburg, het in 1960 Willys-Overland Jeeps, Hudsons en Peugeots aanmekaargesit. Toe Willys-Overland deur Kaiser Manufacturing Co gekoop word, moes Stanley-motors sy Jeep afstaan aan Preator-monteerders, die voorganger van BMW Suid-Afrika.
Stanley-motors het hom daarop geroem dat hy die eerste aanleg is wat petroleumgasoonde gebruik om die emaljeverf op voertuigbakke droog te bak, maar ook dat hy 'n spesiale opleidingsentrum vir "nie-blankes" het.

Ford
Die eerste fabriek van Ford Suid-Afrika, 'n filiaal van Ford Kanada, was in 'n ou wolpakhuis in Grahamstadweg, Port Elizabeth (deesdae Gqeberha) wat die maatskappy in 1923 oorgeneem het.
Die tweede aanleg was in Harrowerweg, om by te hou met die aanvraag na Model T's. In 1962 het die twee aanlegte gesamentlik sowat 2 000 werkers gehad en hulle kon meer as 120 voertuie per dag produseer.
Die man aan die stuur van sake in 1960 was Cecil Dace, die eerste nie-Kanadees wat die aanlegte namens Ford Kanada bestuur het. Ford SA kap uiteraard vandag nog aan, in groter aanlegte.

S.A.M.M.V.
Die Suid-Afrikaanse Motormonteerders en Verspreiders Bpk. is in 1949 in die lewe geroep toe £500 000 aan 'n voormalige ondervoorsitter by die Amerikaanse Studebaker Corporation oorhandig is om dié handelsmerk op eie bodem te vestig. Die aanleg in Uitenhage (vandag Kariega) het in die jare sestig sowat £1,2 miljoen per jaar aan die regering betaal in die vorm van verskeie belastings.
Buiten Studebakers het hy ook Austins gebou, en sedert 1951 is ook Volkswagens hier aanmekaargesit. Studebaker en Austin is intussen tot niet, en Volkswagen het die aanleg in 1966 oorgeneem.

General-motors
GM het sy eerste monteerfabriek in Darlingstraat, Port Elizabeth, in 1926 opgerig en Cadillacs, Oaklands en Lasalles gebou. Teen 1962 was hulle in Kempstonstraat en het meer as 'n halfmiljoen voertuie vervaardig - nou ook Chevrolet en Vauxhall - en in Suid-Afrika verkoop.
Kajuite en bakke is van plaaslike staal gemaak. GM het in 2017 nie net uit Suid-Afrika onttrek nie, maar ook uit heelparty ander lande. Dié voertuigreus was vir 90 jaar die topverkoper in Amerika, maar hy moes sy status verlede jaar afstaan aan Toyota.
Bron Die gees van vooruitgang onder redaksie van Felix Stark, Felstar-uitgewers, 1960
Het jy iewers dalk 'n seldsame sleepsel of ryding raakgeloop? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na







