Die tweede model waarna jy kan uitsien in MG se terugkeer na Suid-Afrika is die groter sportnuts, die HS.
Die HS is 'n Haval H6- en Volkswagen Tiguan-mededinger wat sy grootte betref. Die vyfsitplekker se voorkoms is heel sportief, met 'n lae daklyn en 'n C-pilaar en luikdeur wat sterk na vorentoe gekantel is.
Die kajuit is net so modern afgewerk, met 'n groot raakskerm wat die instrumentpaneel oorheers. Daar is ook stemmingsbeligting wat veral saans die kajuit 'n sagte atmosfeer gee.
Daar is vier modelle in die HS-gesin, almal met 'n 1.5-liter-turbopetrol toegerus (sien kassie).
Soos die geval is met ander Chinese produkte kom die HS met 'n lang lys van standaardtoerusting. Dit sluit in 'n selfstop-funksie, parkeergonsers voor en agter, 'n trukamera, 'n terugdu-funksie sou jy uit jou baan dwaal, volgbeheer en 'n gonser wat jou dophou - en sal raas - as jy nie wakker genoeg is of jou oë op die pad hou nie.
Topmodelle kry ook 'n panoramiese sondak, elektriese en verhitbare sitplekke voor, 'n fris radio en 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon.
- Die HS kom standaard met 'n 5 jaar/200 000 km-waarborg, 'n 7 jaar/onbeperkte-kilometer-waarborg op die enjin en 'n 5 jaar/90 000 km-versienplan.



















