Motors

Maskas vir hierdie Maxus!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
MG se Maxus-leefstylhandelsnaam bied hierdie lekker sportnuts met puik veldryvaardighede, die Territory. Hy kom straks later volgende jaar na Suid-Afrika. Foto: Marnus Hattingh
MG se Maxus-leefstylhandelsnaam bied hierdie lekker sportnuts met puik veldryvaardighede, die Territory. Hy kom straks later volgende jaar na Suid-Afrika. Foto: Marnus Hattingh

Op 'n onlangse besoek aan MG se moderne fabriek in Shanghai het die Chinese vervaardiger aan ons onder meer 'n voorsmaak van twee nuwe produkte gegee wat hy graag volgende jaar na die Suid-Afrikaanse mark wil bring.

En te oordeel na wat ons gesien het en wat ons van die plaaslike mark weet, is ons daarvan oortuig dat MG hier 'n wenner beet het.

Maxus Territory

Die eerste model is die Maxus Territory, 'n Toyota Fortuner-agtige leefstyl-sportnuts met 'n hardebaard-voorkoms en DNS.

Maxus is een van die handelsname in die SAIC-stal (Shanghai Automotive), saam met MG en Roewe (die ou Rover, soos dit deesdae in China bemark word).

SAIC gebruik Maxus vir al sy bakkies en sportnutse om dit te onderskei van die gewone, gesinsgerigte MG-modelle.

Die Territory is op die T90-bakkie geskoei en benut dus dieselfde leerraamonderstel as die eenton-werkesel. In sy struktuur is hy dus eenders as wat Ford (met sy Territory-sportnuts), Toyota (Fortuner, op die Hilux geskoei) en Mitsubishi (Pajero Sport, op die Triton gebou) doen.

Soos op die foto's en video-beeld (op Netwerk24) gesien kan word, het die Maxus Terri­tory 'n lekker omgekrapte voorkoms. Daar is die uitgeboude wielboë, die fris buffers voor en agter, en die fors, hoekige neus en enjinkap.

Die lang lyf bied drie rye sitplekke met plek vir sewe insittendes. Hy word aangedryf deur 'n 2.0-liter-turbodiesel met matige (48 V) elektriese hulp.

Kragsyfers kom op 'n billike 160 kW en 500 Nm te staan.

Die Territory het 4x4-aandrywing, maar ook drie sluitewenaars: voor, agter en 'n sentrale grendel. Daar is ook 'n laestrek-ratkas. Om sy veldryvernuf verder te beklemtoon bied die Territory 'n naderhoek van 28° en 'n vertrekhoek van 26°. Die grondvryhoogte is 'n goeie 23 cm.

In die kajuit vind jy twee herlaaivakkies vir jou slimfoon, twee digitale skerms met kamerabeelde reg rondom en aparte skakelaars vir die lugversorging.

Albei die voorste asook die middelste ry sitplekke is verhitbaar.

Die voorste sitplekke bied ook 'n masseerfunksie.

Pryse in China begin by sowat R660 000, so dit sal interessant wees om te sien teen watter prys MG sy Maxus Territory hier sal kan aanbied. Teen daardie prys sal hy baie mededingend wees teenoor die gevestigde handelsname uit Japan.

Fris bakkie ook na SA

MG het ook sy omgekrapte weergawe van sy eie bakkie-reeks, die nuwe Maxus T90, aan ons gewys. Hy lyk sommer lus vir speel in die stof.

Die leefstyl-weergawe van die T90, wat met die Ford Ranger Wildtrak en Toyota Hilux GR-S sal meeding, bied 'n netjiese voorkomspakket, asook 'n moderne kragbron en lang lys veldry-gerigte eienskappe wat hom gedug in die veld behoort te maak. Onder die enjinkap sit 'n 2.0-liter-biturbodiesel (soos Ford ook in sy Ranger gebruik) wat 160kW en 500Nm wringkrag uitstoot. Die topmodelle kry 'n outomatiese ZF-tipe-agtgangratkas met 'n laestrekfunksie ingesluit. Krag gaan na al vier die wiele. Die bakkie kan in agterwiel-aandrywing gery word of in die ry oorskakel na 4x4-vastrap. Daar is ook drie ritmodusse: Eco, Power en Normal.

Ons hou van die pakket waarmee hy uitgestal is. Daar is 'n bonkige, swart sierrooster, uitgeboude wielboë met swart plastiekskerms en 'n breë rolstaaf agter die kajuit. Ook 'n stel fris knoppiesbande van 18-duim-grootte, breë kanttrappe en snorkel. Geen pryse is nog vasgestel vir ons mark nie, maar as MG sy Maxus-bakkie teen enigiets onder R800000 hier kan plaas, sal hy heelwat kopers lok

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM