Motors

Nuwe lyf, nuwe hoogtes vir Swift

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die luikrugmark het dit nie maklik met die onverbiddelike aanslag van sportnutsvoertuie wat kopers links en regs wegrokkel nie. Die stryd is besonder fel in die boonste dele van die B-segment, waar kopers eerder sportnutse oorweeg as die luikrûe waarop hulle dikwels gegrond is, al is hulle soortgelyk geprys.

Strydrosse soos Volkswagen se Polo voer nog 'n dapper stryd en verkoop steeds goed, so ook die Suzuki Baleno en sy Toyota-tweeling, die Starlet, laer af. Maar dis op die onderste trappie, waar die Polo Vivo hom ook bevind, waar Suzuki met sy Swift goud raakgeboor het.

Die nuwe Swift is 'n netjiese knaap wat danksy skerper lyne meer volwasse en sportief lyk.
Die nuwe Swift is 'n netjiese knaap wat danksy skerper lyne meer volwasse en sportief lyk.

Danksy 'n waarde-vir-geld-aanbod wat moeilik geklop kan word, het die Swift sedert hy sy verskyning in 2008 plaaslik gemaak het, al meer as 85 000 eenhede verkoop, wat hom nie net Suzuki se topverkoper maak nie, maar ook een van die topverkoper-gesinsmotors in die land. Boonop het hy 'n indrukwekkende internasionale verkoopsyfer van meer as 9 miljoen op sy kerfstok.

Die vierde generasie is uiteindelik hier en ons reken hy het al die eienskappe om die Swift-naam na nuwe hoogtes te neem.

Nuwe sprankel vir 'n staatmaker

Die vierde generasie word op dieselfde Heartect-platform as sy voorganger gebou en het dus wat grootte betref grotendeels dieselfde gebly, behalwe vir 'n lyf wat met 2 cm gerek is.

Menings oor sy voorkoms sal natuurlik verskil en daar is aspekte waaroor nie almal sal saamstem nie, soos die "skulpvorm" van die enjinkap en die agterligte wat uit sekere hoeke half vreemd opval.

Tog is baie van die basiese elemente van die vorige model, soos die redelik hoekige profiel en verdonkerde A- en B-pilaar, steeds in die nuwe ontwerp te bespeur, maar die geronde lyne is styfgetrek, wat 'n bietjie ekstra houding en sportiwiteit verskaf wat in 'n mate by die vorige generasie ontbreek het. Die deurhandvatsel by die C-pilaar het ook in die slag gebly, wat straks 'n goeie ding is.

So lyk die reeks

Soos voorheen word die Swift wat ons kry in Indië gebou, wat natuurlik prysvoordele inhou. Die reeks bestaan uit vyf modelle wat almal deur Suzuki se nuwe­ Z12E-petrolenjin aangedryf word. Die nuwe enjin is nou sans een silinder, terwyl die kraglewering 'n fraksie minder is (60 kW en 112 Nm teenoor 61 kW en 113 Nm vroeër), maar soos voorheen tel die Swift se lae gewig van onder 1 ton in sy guns, asook die nuwe enjin se laer verbruik.

Daar is drie afwerkingsvlakke, die GL, die GL+ en die topmodel, die GLX. Al die modelle, behalwe die intree-GL-model, bied die keuse van 'n vyfgang-handratkas of 'n CVT-tipe- outomatiese ratkas. Die GL-model kom met net die handratkas.

Aan die binnekant het die Swift ook "grootgeword" en lyk die instru­mentpaneel moderner en meer gesofistikeerd.
Aan die binnekant het die Swift ook "grootgeword" en lyk die instru­mentpaneel moderner en meer gesofistikeerd.

Minder ‘intreevlak' binne

Groot spronge is ook in die binneruim gegee. Die vorige model se taamlik saai instrumentpaneel het vir 'n veel moderner en netjieser een plek gemaak. Die mediaskerm pryk nou soos 'n tablet bo-op die instrumentpaneel en lyk meer gesofistikeerd met duidelike en aantreklike grafika. Buiten die intree-GL-model, is koordlose konnektiwiteit met jou foon deur Apple CarPlay en Android Auto ook moontlik.

Harde plastiek is 'n gegewe in hierdie marksegment, maar die gehalte lyk goed en daar is hier en daar wisselende patrone en teksture om dinge interessant te hou. Suzuki was ook heel vrygewig met die standaardtoerusting. Al die modelle het elektriese vensters voor en agter, lugversorging, elektries verstelbare kantspieëls, 'n ritrekenaar en parkeersensors agter, terwyl die duurder GL+ ook 'n trukamera en raakskerm insluit.

Die vlagskip-GLX voeg onder meer sleutellose toegang, snelheidsbeheer, klimaatbeheer, outomatiese ligte en 'n leeroorgetrekte stuurwiel met ratspane (CVT-modelle) by. Sy veiligheidstoerusting is eweneens indrukwekkend vir sy klas, met onder meer ses lugsakke en elektroniese stabiliteitsbeheer in al die modelle wat jou veiligheid verseker.

Klein, maar vlugvoetig

Die 1.2-liter-enjin se kragsyfers lyk dalk nie te waffers op papier nie, maar in die praktyk is die enjin heel gewillig en soms selfs rats.

Die enjin hou van effens hoër toere, sowat 3 000 r/min. waar jy die beste uit hom sal kry, terwyl die driesilinder met 'n lekker grom saamgesels as jy vet gee. Onder 2 500 r/min. verloor hy egter vinnig fut en teen steiler opdraandes moet 'n mens wel gereeld afrat om hom in die regte toereband te hou en nie momentum te verloor nie. Gelukkig kan jy die ratskakelings met 'n redelik soliede en bevredigende gevoel plant.

Ons kon ongelukkig nie die CVT-model bestuur nie, maar ons reken dit kan net 'n verbetering op die gerobotiseerde handrat (AMT)-ratkas van vroeër­ wees, hoewel CVT's soms met hul eie irritasies kom.

Aangesien hy gebou is met slegte Indiese paaie ook in gedagte, voel die ritgehalte heel aangenaam met min oppervlakke wat hom sal ontsenu en vasvoetige hantering om draaie, ondanks 'n stuur wat meer op gemak as opwinding gemik is. Boonop dring verbasend min geraas die kajuit binne.

Slotsom

Suzuki het mooi raakgevat met Swift nommer vier. Die goeie van die ou resep is behou en verder verfyn, terwyl nuwe bestanddele bygevoeg is wat hom 'n noemenswaardige opvolger maak. Met sy netjiese, moderne voorkoms sal hy jong kopers lok, terwyl hy steeds getrou bly aan sy wortels.

En die kersie op die koek is sy baie mededingende prys, wat van die Swift steeds een van die hoofaanspraakmakers in sy marksegment maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM