Motors

Nuwe Swift vol belofte op pad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die nuwe Suzuki Swift is oor ’n paar maande hier. Hy kry ’n indrukwekkende pakket van veiligheidstelsels en goeie toerusting, als teen ’n steeds lae prys.
Die nuwe Suzuki Swift is oor ’n paar maande hier. Hy kry ’n indrukwekkende pakket van veiligheidstelsels en goeie toerusting, als teen ’n steeds lae prys.

As een van Suid-Afrika se gewildste gesinsmotors - hy's gereeld die tweede of derde beste verkoper in die land - het die nuwegeslag-Swift, wat sy buiging nog voor einde vanjaar hier gaan maak, groot skoene om te vul.

Suzuki SA het onder meer danksy die Swift se sowat 16 000 verkope per jaar in die afgelope twee jaar skielik na die topdrie vervaardigers opgeskiet wat algehele verkope betref. Met sy lae prysband waarin hy beweeg, van tussen R200 000 en R300 000, is hy waarlik 'n bekostigbare klein luikrug wat die middelklas sonder 'n oogknip kan opraap.

Suzuki het pas die naweek op die Festival of Motoring-motorskou, wat by Kyalami in Johannesburg aangebied is, die nuwe Swift uitgestal.

Hou in gedagte dat dit die Indiese weergawe is - dis net die Swift Sport met die 1.4-liter-turbo-enjin wat ons vanuit Japan hierheen invoer.

Die ou Swift-reeks het in 2018 sy buiging gemaak, maar veral die afgelope twee jaar, toe verbruikers werklik onder druk was en na waarde begin soek het, teen die verkoopsleer opgeskiet.

Die ou Swift was 'n heerlike stadsryding met 'n lekker ligte stuuraksie, 'n skerp draaisirkel wat hom uiters prakties in stadstoestande maak en 'n lae verbruik van sy 1.2-liter-viersilinder. Ons het gereeld 4,7 liter in gemengde toestande met die Swift behaal, wat 'n goeie syfer is.

Die nuweling lyk op die oog af of hy effe langer geword het. Die ontwerp is, subjektief, nie so wintie as die huidige model s'n nie en lyk meer volwasse met 'n langer gerekte kajuit-area.

Suzuki sê daar's 'n nuwe enjin onder die enjinkap en heelwat meer veiligheidstoerusting wat standaard ingesluit is.

Die nuwe kragbron is weer 1.2-liter groot, maar bevat slegs drie silinders. Waar die ou enjin 61 kW en 113 Nm wringkrag losgedraai het, bied die nuwe driesilinder-model effens minder (60 kW, 112 Nm).

Volgens Suzuki is die nuwe enjin egter baie ligter op verbruik (4 liter), terwyl die krag ook oor 'n wyer toerestrek beskikbaar is.

Vyf afwerkingsvlakke sal na ons mark kom: Die GL is die intreeweergawe, die GL+ is die middelste model, terwyl die GLX die topmodel sal wees. Die ou GA-model, wat die intreeweergawe tans is, val weg.

Die goedkoper weergawes kry 'n vyfgang-handratkas, terwyl die GLX met 'n handrat of 'n CVT-tipe outomatiese ratkas toegerus sal wees.

Alle modelle sal voortaan met ses lugsakke (tans slegs twee) toegerus wees - 'n eerste in hierdie sakpas segment, sê die Japanse vervaardiger - asook 'n elektroniese stabiliteitstelsel.

Intreemodelle kry parkeer­gonsers agter, elektriese kantspieëls, 'n lugversorger en elektriese vensters.

Die GL+ kry groter 15-duim-sierwiele en 'n digitale raakskerm met 'n trukamera.

Die GLX op sy beurt het 'n groter kleur-raakskerm, klimaatbeheer, outomatiese hoofligte, spoedbeheer en 'n aansitknop.

Dit sal interessant wees of die Swift sy momentum in die mark sal kan voortsit, met dalk hoër pryse en 'n meer Asiatiese voorkoms.

Pryse sal eers bekend wees wanneer die reeks formeel in November bekend gestel word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM