Motors

Nuwe Territory bied hope waarde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vir middelslag-nutse het kopers vandag 'n wye reeks modelle om van te kies.

Die gewildste is Volkswagen se Tiguan, Toyota se RAV4 en die Koreane se Kia Seltos en die Hyundai Creta.

Dis almal mediumgrootte sportnutse wat in die prysband tussen R500 000 en R700 000 boks.

Ons hou van die nuwe Ford Territory se meer konserwatiewe stilering. Danksy 'n kompakte 1.8-liter-turbo draf hy gemaklik en glad nie te dors nie oor die pad.Foto:MarnusHattingh
Ons hou van die nuwe Ford Territory se meer konserwatiewe stilering. Danksy 'n kompakte 1.8-liter-turbo draf hy gemaklik en glad nie te dors nie oor die pad.Foto:MarnusHattingh

Hoewel die meeste Suid-Afrikaners kyk na voertuie om die R350 000-kerf, is die merk net bokant 'n halfmiljoenrand steeds belangrik, want dis daar waar die laaste van die middelklas - waar sowel die man as die vrou 'n goeie werk het - na 'n gesinsmodel kyk.

Bokant die driekwartmiljoen-kerf raak die getal kopers drasties minder.

Sielkundig is dit dus belangrik vir vervaardigers om 'n produk net bo R500 000 in die mark geplaas te hê. En dit was waar Ford SA 'n ruk lank 'n leë kol gehad het.

Met die verdwyning van die Kuga en die koms van die nuwe maar veel duurder Everest, sit Ford slegs met die klein Puma as 'n middelslag-sportnuts in sy portefeulje. Die Puma is egter peperduur vir wat jy kry en dit het min verbaas dat die mark glad nie vatplek aan die Puma kon kry nie.

'n Slim plan B was om by sy Chinese aanleg by die JMC-fabriek in China aan te klop.

Daar is 'n middelslag-nuts vir die Chinese mark gebou wat Ford toe besluit het om van sy tweedegenerasie-model ook na die res van die wêreld uit te voer.

Die nuwe nuts is vroeër vanjaar hier bekend gestel onder die ou bekende naam van die Territory­. Nou, jy sal onthou sowat twee dekades gelede het Ford ook 'n Territory hier gehad, maar dit was 'n Australiese model met 'n vet 4.0-liter-V6 onder die enjinkap. Dit was ook 'n groter, langer sewesitplek-model.

Die nuwe Territory is 'n Ti­guan- grootte nuts en toegerus met 'n 1.8-liter-turbo. Die kragsyfers (138 kW, 318 Nm) is maar gemiddeld en Ford maak aanspraak op 'n goeie verbruiksyfer van net 7 liter.

Ek het die topmodel van die drie afwerkingsvlakke plaaslik te kry, die Titanium, weer 'n paar dae onder hande geneem nadat die vorige weergawe 'n paar meganiese haakplekke getoon het.

Draadwerk opgelos

Goeie nuus is dat die ergste probleem wat ons ondervind het - 'n gepluk van die stuurwiel kort-kort na links - uitgeskakel is.

Die Territory draf steeds na links as jy die stuurwiel los, maar daar is nou darem nie meer 'n gewoel van die stuurwiel onder jou hande nie.

Ons vermoed daar is 'n sensor-fout met die voertuig se terugdu-funksie. As die topmodel kan die blikbrein hom terug in sy baan dwing as jou wiele oor die stippellyn ry.

Wat weer opgeval het van die Territory, is sy netjiese ontwerp buite en binne. Kyk net na hom: Anders as talle ander nuwe Chinese produkte, is die Territory heel konserwatief en bedees. Geen tierlantyntjies nie. Ek hou daarvan.

Ook die kajuit in die topmodel is modern en smaakvol. Daar is talle houtinvoegsels en die digitale raakskerm sit netjies in die middel van die instrumentpaneel.

Op vaart is die Territory se kajuit lekker stil en dis maklik om 'n gesprek met ander in die motor te voer. Ander moderne items is die draaiknop vir jou ratkeuse, die elektroniese handrem en die veiligheidstelsels, soos 'n blindekolgonser en trukamera, asook 'n self-oop-en-toesluit-funksie.

Die 1.8-liter bied billike krag vir 'n gesin van vier en die verbruik as jy bedees ry, kan ook onder die 7 liter-merk daal as jy sorgvuldig is.

Afsaal

In sy geheel is die Territory een van my gunstelingrygoed in hierdie segment. Die Seltos kom met 'n lekker turbodiesel-keuse, wat die kombinasie van krag en lang bene gee waarvan ons hou. Maar vir sy afwerkings, die mooi voorkoms en die stil rit bied die nuwe Territory sommer hope motor vir jou rande.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM