Daar's weer 'n skemering van hoop dat 'n opvolger vir die Nissan NP200 tog gevind is - in die onwaarskynlike uithoek van Córdoba, Argentinië.
Renault se Argentynse grootbaas, Pablo Sibilla, het verlede maand aangekondig dat die Franse motorreus miljoene euro belê het in die opgradering van sy fabriek in Córdoba.
Die vervaardiger gaan sy nuwe halftonbakkie, gegrond op die Niagara-konsepmodel, daar bou.
Die nuwe halftonbakkie sal die huidige Oroch vervang wat op die Duster gegrond is.
Die bakkie sal 'n enkelrompbakwerk hê en voorwielaangedrewe wees.
Renault Suid-Afrika wou graag die Oroch na ons mark gebring het, veral omdat daar altyd 'n sterk vraag na klein halftonbakkies in ons mark sal wees. Die swak wisselkoers het egter gemaak dat Renault hom nie teen 'n billike prys hier sou kon bemark nie.
Interessant egter is dat die Argentyne in hul aankondiging ook genoem het dat hulle mik na 'n uitvoerkoers van 70% van totale produksie, wat op sigself op 100 000 modelle per jaar gereken word.
Nou, Renault het nêrens iets genoem dat die nuwe klein bakkie ook in regterstuur gebou sal word nie - 'n voorvereiste sou Renault SA hom wou invoer.
Maar dis duidelik die bakkie is nie net vir die Suid-Amerikaanse mark bedoel nie, maar ook vir ontwikkelende lande in Oos-Europa, Suidoos-Asië en bes moontlik Afrika.
Dit is dus 'n wêreldmodel wat oral gewild moet wees.
Die Niagara-konsepmodel lyk heel treffend met sy groot, hoekige en aggressief uitgeboude wielboë, 'n skuins skerm by die laaibak en LED-ligstrepe voor en agter. Ons merk ook dat hy 'n dubbelkajuit is, met die agterdeure waarvan die handvatsels netjies bo in die deur versteek is.
Ons verwag egter dat die produksiemodel meer besadig sal wees in sy voorkoms, en dat hy ook in enkelkajuit-weergawes gebou sal word.
Renault se verbintenis met Nissan maak natuurlik ook dat die bakkie eindelik hier eerder as 'n Nissan-halfton bemark kan word pleks van 'n Renault-bakkie, wat onbekend sou wees.
Eindelik hang als van die wisselkoers af. Die rand het die afgelope maand heelwat versterk, maar teen R19 vir €1 is hy steeds nie heeltemal waar hy moet wees om pariteit op koopkrag-vlak te bereik met oorsese markte nie.
Ons hou intussen die oor op die grond of die bakkie wel sy weg na Suid-Afrika sal vind.





















