So drie, vier dekades gelede was die minibus daardie gesinsryding waarmee groter families die hond, strykplank en trekker-tjoep kon inlaai vir die jaarlikse Kersvakansietog na die see of oord.
So gewild het hierdie konsep van die uitgebreide familie in een bus geword dat Volkswagen selfs vir David Kramer en sy rooi vellies gekry het om 'n reeks TV-advertensies om dié tema te bou.

Wat praat ons, daar was selfs 'n Volksiebus - 'n spesiale Kombi kompleet met 'n ikoon agterop van 'n paar rooi vellies.
Vandag woon ons in 'n ander land, waar mense eerder vlieg of in sportnutse toer. Maar daar is steeds 'n mark vir groot busse.
Dié het nou geskuif na die toerismesektor, en 'n kleiner groep vir die vervoer van BBP's.
Hotelle en oorde het almal vandag 'n bus of drie waarmee gaste by die lughawe opgelaai en na die Bosveld gekarwei word. Terwyl groot maatskappye 'n fris bus met swart vensters onweerstaanbaar vind om 'n BBP mee te vervoer.
In hierdie segment is dit die Hyundai Staria met sy futuristiese snoetbus-voorkoms en die VW Caravelle wat die kitaar slaan wat verkope betref. In die afdeling vir weeldebussies is Mercedes se V-klas weer 'n gunsteling.
Ford se aanbod waarmee hy graag 'n hap van die koek wil kry, is sy Tourneo Custom, waarmee hy in die verlede gemengde sukses behaal het.
Die nuwe Tourneo, wat pas bekend gestel is, ry op 'n nuwe onderstel wat hom meer ruimte binne bied, maar ook 'n laer dak en 'n laer vloer. Ford sê die Tourneo is nou ook 'n gawe 100 kg ligter, en danksy groter glydeure weerskante is in- en uitklim van passasiers - veral na die agterste ry sitplekke - makliker as om die Wi-Fi-wagwoord te vra.

Agt sitplekke
Daar's 'n hele reeks Tourneo-bussies op pad, maar die eerste wat Ford hier bekend kom stel het, is die basiese Trend-afwerkingsvlak, wat iets van 'n werkesel vir personeel-vervoer of as gesinsryding sal kan dien.
Hy's boonop hier in die lang-asafstand, en toegerus met agt sitplekke in drie rye versprei.
Die agterste twee rye se sitplekke (nou ligter gemaak as vantevore) kan op spore vorentoe en agtertoe gly, die middelste ry kan heeltemal omswaai dat die twee rye na mekaar toe kyk soos om 'n eettafel, en les bes kan jy al die sitplekke selfs uithaal om 'n massiewe laairuim soos in 'n paneelwa vir jou te skep.
As die Trend-model is die afwerkings redelik basies. Daar's 'n groot raakskerm wat horisontaal geplaas is in die instrumentpaneel, en 'n elektroniese handrem en koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon. Die kajuit het twee USB-sokke voor en twee agter.
Van die plastieke voel hard, maar die latere, deftiger modelle sal meer weeldes hê.
Hulp-aspekte vir die bestuurder sluit in 'n vashoufunksie as jy wegtrek, 'n terugdu-funksie as jy uit jou baan dwaal, en 'n selfstop-funksie as die blikbrein vermoed jy gaan teen iets vasry.
Lig op brandstof
Onder die enjinkap sit Ford se intree-dieselenjin, die 2.0-liter-turbodiesel met een turbo toegerus. Die bussie kry ook nie Ford se gewone tiengang- outomatiese ratkas nie, maar eerder 'n agtgang-outomaties.
Die voordeel van die eenvoudiger diesel is dat hy redelik lig op brandstof is - ons het so 8,6 liter gehandhaaf.
Maar vir verbysteek moet jy kole gooi en in die regte rat wees.
Helaas kon Ford nog nie vir ons meedeel wat sy finale prys gaan wees nie - die boontjietellers kruis die vingers dat die rand in die volgende week of twee nog 'n aks sal versterk.
Die Staria is egter sy groot mededinger teen sowat R909 000.
Ford sal goed doen om die basiese Tourneo onder die R1 miljoen-kerf te kan kry, of selfs nader aan R900 000.

Alte slim met die laaiplek
Die nuwe Tourneo Custom-bussie is 'n heel buigsame vragdraer.
Van die netbalspan, die bure se potplant-versameling tot 'n kajak en bergfiets sal jy agter kan inlaai, as jy net weet hoe om die laairuim te konfigureer.
Met al die sitplekke uitgehaal, is die ruimte 6,8 m3 groot. Die bussie kan 'n vrag van 1,2 ton dra, en 'n sleepwa van 2,5 ton sleep wat sy eie remme het.
Van sleep gepraat, die Tourneo het vier ritmodusse waarvan een juis 'n sleep-modus is. Dit pas die ratkas aan sodat hy onder meer langer in die laer ratte bly.
Slim bêreruimtes in die kajuit sluit in 'n laaitjie onder elke voorste sitplek, en 'n toesluitkissie voor die passasier. Daar is ook openinge agter vir die lugversorger.
Sleutellose toegang, slim LED-hoofligte en 'n tru-kamera is van die praktiese elemente wat ons baie geniet het met die rondry in die bussie.




















