Vars Creta bly waarde vir jou geld

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hyundai se gewilde Creta is opgeknap en lyk nou weer nuut en vars met sy tweekleur-afwerking op die topmodelle.
Hyundai se gewilde Creta is opgeknap en lyk nou weer nuut en vars met sy tweekleur-afwerking op die topmodelle.

Die opgeknapte weergawe van die Hyundai Creta is pas bekend gestel en sy voorkoms neig nou meer na sy supermodel-boetie, die Tucson s'n.

En, vir die eerste keer lyk dit asof dit dieselfde ontwerper is wat die voorkant sowel as die agterkant neergepen het.

SangYup Lee en sy mense het hulle gewis goed van hul taak gekwyt.

Die Creta se nuwe snoet (wat my herinner aan iets uit Black Panther se Wakanda met swart, futuristiese "skubbe"), het geïntegreerde diodeliggies wat daarmee saamsmelt, terwyl die moderne stertkant met sy kontemporêre lig-ontwerp sag op die oog is.

Die groot nuus is dat die Creta nie meer in Indië vervaardig word nie, maar in 'n splinternuwe fabriek in Indonesië, en 'n mens kan duidelik die verskil sien (en voel) vanuit 'n gehalte-oogpunt.

In die vorige Creta het die plastiek van die middelkonsole gekraak wanneer die bestuurder se knie daarteen gedruk het as jy om 'n draai gaan, maar dis nou iets van die verlede.

Ons hou van die skoon kajuit en groot raakskerm, wat al jou nutsfunk­sies huisves.
Ons hou van die skoon kajuit en groot raakskerm, wat al jou nutsfunk­sies huisves.

Die binneruim is lieflik skoon uitgelê. 'n Mens raak sommer rustig as jy jou agterstewe in die gemaklike bestuurdersitplek neerplak, amper soos wanneer jy by jou netjiese, stil huis instap ná 'n chaotiese vakansie.

Ons toetsrit van Stellenbosch na die Wellington-omgewing in die vlagskip Executive-model het in tipiese koue, Wes-Kaapse reënweer geskied, en die gladde padoppervlak was ideaal om die Creta se vastrapbeheer tot die uiterste te beproef.

'n Kronkelende bergpad net buite die Paarl was veral groot pret - nie net omdat dit 'n grondpad is wat heeltemal toe van die mis was nie, maar omdat my medebestuurder, wat in sy jong dae aan tydrenne daar deelgeneem het, hom in dié toestande kon verlustig. En ja, hoewel die Creta heel modieus lyk, beteken dit nie hy's bang vir uitdagings nie - hy het die rit soos 'n Sondagmiddag-uitstappie laat voel.

Daar is min geraas en geskud in die kajuit, sy 17-duim-allooiwiele se rubber klou om die draaie en ek was nie regtig van enige bakleun bewus nie. Boonop speel die klankstelsel 'n hond uit 'n bos (CarPlay en Android Auto is standaardtoerusting in alle variante), en Executive-modelle bied jou 'n nessie vir jou foon wat die battery koordloos herlaai.

Terloops, die Executive se sitplekke is van kunsleer gemaak terwyl die ander variante s'n van materiaal is.

Die outomatiese Cretas word toegerus met 'n palwisseltipe-ratkas wat die toere presies hou waar hulle moet wees, en die 1.5-liter (turbo-lose) enjin (met 84 kW en 144 Nm) voel energiek genoeg vir die daaglikse lewe. Hy's boonop verbasend lig op brandstof - ons gekombineerde verbruik was 'n gawe 5,9 liter, maar ek moet byvoeg dat ons meestal op die oop pad gery het. Vir 'n splinternuwe motor wat nog nie regtig "ingery" is nie, is dit nogal imponerend!

Noudat die Creta heelwat meer houding het en meer duursaam voel, sou ek minder omgee om "die wet van Transvaal" toe te pas.

  • Hyundai se sewejaar/ 200 000 km waarborg, asook 'n vierjaar/60 000 km diensplan en sewe jaar se padbystand geld. (Sou jy 'n diesel-Creta wou hê, gaan jy 'n Grand Creta moet aanskaf wat in Indië aanmekaargesit word.)
Ané Albertse

SPELETJIES VANDAG

CTA