Die Creta is een van Hyundai SA se beste verkopers en daarom altyd 'n kardinale deel van sy arsenaal modelle in die land.
Met 'n rits nuwe en baie goedkoper Chinese aankomelinge juis in hierdie middelslag-sportnuts-segment waarin die Creta meeding, het Hyundai SA se baadjiedraers vroeër vanjaar na Suid-Korea gevlieg met die basiese boodskap: "Help ons met pryse, dan help ons julle met verkope."

Die resultaat is dat die opgeknapte Creta nou tussen sowat R5 000 en R20 000 goedkoper is as vantevore, maar boonop met meer standaardtoerusting ingesluit.
Onthou, die Creta is Hyundai se sakpas model in die nuts-segment. Waar die mooi, Europees-vervaardigde Tucson heelwat duurder is, moet die Creta die middelklas as teiken stel. Daarom was dié Indies geboude nuts nog altyd Hyundai se waarde-vir-geld-aanbod in sy portefeulje.

Meer toerusting ingevoeg
Vir die opknapping bestaan die reeks steeds uit twee afwerkingsvlakke, die Premium en die Executive. Maar jy kry nou ook 'n spesiale model by elk ingesluit wat met 'n mooi, dowwe verfafwerking spog. Daardie verf-jas verg wel heelwat spesiale aandag, waaroor ek later meer sal sê.
Die opknapping self is maar baie eina. Die buffers het 'n nuwe ontwerp en die LED-dagryligte by die sierrooster sit nou laer op die hoeke.
Die dowwe verf-afwerking is slegs in wit, silwer en swart te kry.
In die kajuit is daar nou 'n groter kleur-raakskerm, terwyl die standaardlysie vir albei modelle langer gemaak is. Ons sien byvoorbeeld almal kry nou sleutellose toegang en aansitknop, 'n koordlose herlaaivakkie vir jou slimfoon, twee USB-sokke voor, en Apple CarPlay en Android Auto-aanpasbaarheid.
Die Premium vind nou baat by elektriese vensters wat net met een druk van die skakelaar oop- of toegemaak kan word en die kantspieëls vou nou vanself plat wanneer jy die motor sluit. Die bekleedsel en stuurwiel is ook met kunsleer oorgetrek.
Die deftiger Executive het voortaan ekstras soos 'n terugdu-funksie sou jy uit jou baan uit dwaal, 'n selfstop-funksie as die blikbrein vermoed jy gaan in iets vasry en 'n blindekolgonser.
Onder die enjinkap het Hyundai niks verander nie. Die Creta ry steeds met 'n natuurlik-geaspireerde 1.5-liter-petrolenjin wat 'n rustige 84 kW en 144 Nm wringkrag na die voorwiele losdraai. Kies tussen 'n sesgang-handratkas of 'n CVT-tipe outomatiese ratkas.
Weelde-gevoel op die pad
Op die oop pad het ons die Creta as 'n gawe stadsnuts gevind. Die outomatiese ratkas werk moeiteloos en bied geen van daardie tipiese, harde dreunings wat so irriterend van CVT-'kaste kan raak nie.
Op die oop pad sou ons wel 'n frisser kragbron wou hê. Verbysteek verg beplanning en 'n lang oop pad, want die in-rat-versnelling is geduldig. Aan die ander kant, die verbruiksyfer het pal net onder die 7 liter-kerf gebly, wat gaaf is.
Ek het gehou van die stil kajuit en die mooi, eenvoudige afwerkings van die instrumentpaneel. Die blikbrein se funksies is maklik om te verstaan en in die geheel is die kajuit 'n heerlike plek om in tyd te verwyl.
Net iets oor daardie spesiale, dowwe verf-afwerking wat jy opsioneel kan kies. Dit kom nogal met 'n lang lysie van voorbehoude wat jy as koper sal moet onderteken alvorens jy ontvangs van jou Creta kan neem.
Jy moet hom byvoorbeeld nie by 'n motorwasplek gaan was nie of 'n spuit met hoë druk gebruik nie. Verkieslik net 'n handwas met 'n sagte lap, verstaan ons.
Hyundai vergelyk sy Creta met voertuie soos die Renault Captur en die Mazda CX-3, maar ons dink dié knape is darem heelwat kleiner.
Eerder sou ons sê die Creta se mededingers is die Kia Seltos en selfs die Toyota Urban Cruiser, en dan die rits Chinese nuwelinge soos die Omoda C5 en die Haval Jolion.
















