VRAAG
My kinderoppasser dra my ses maande oue baba in 'n handdoek op haar rug. Is dit gesond? Die beentjies lyk vir my so wyd uitmekaar.
LIZANNE DU PLESSIS ANTWOORD
Om rondgedra te word, hou heelparty voordele vir sowel baba as versorger of ma in.
Navorsing wys dat babatjies wat gedra word, minder huil en goed gewig aansit, en dat hul ma's minder tot postnatale depressie geneig is. Babas word in verskeie kulture op die versorger se rug gedra en dis 'n noodsaaklike deel van die grootmaakproses. Dit beteken dat mammas en versorgers kan voortgaan met hul werk en dat take soos kos maak en stryk veilig uitgevoer kan word.
Die riglyne vir die abbategniek is: Doen dit net wanneer jou baba al onafhanklik kan sit en goeie nek- en kop- beheer het. Dit wissel van baba tot baba, maar is van tussen ses en agt maande af moontlik. Voor dié mylpale word die tegniek nie aanbeveel nie.
Die kombers moenie te hoog op geplaas word nie. Baba se arms moet onbedek wees sodat hy of sy dit kan beweeg. Die Internasionale Heupverplasings- instituut beveel aan dat baba se beentjies nie reguit moet afhang nie, want dit plaas stremming op die heupies en rug. Maak seker dat baba se knieë gebuig en hoër as sy heupe is, amper soos 'n paddatjie s'n.
Wanneer babas in dié posisie aan die slaap raak, moet hulle liewer losgemaak en in hul bedjies neergelê word. Die kombers en beweging van die ma of versorger sal nie genoeg ondersteuning aan 'n slapende nekkie bied nie. Ek beveel ook aan dat babas nie vir lang rukke op die rug gedra word nie.
Hulle behoort op dié ouderdom 'n groot deel van hul wakker tyd op die grond deur te bring waar hul kan rol, tyd op hul magie kan bestee, met mense kan kommunikeer en met speelgoed kan speel.
Dit is alles noodsaaklik vir hul emosionele, sosiale en motoriese ontwik- keling.















