KOMPETISIE | Baba & Kleuter se Voorbladwenner

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Malia Swart van Durbanville is ons voorbladwenner!
Malia Swart van Durbanville is ons voorbladwenner!

Wat beteken haar naam en hoe het julle daarop besluit?

Haar volle naam is Malia Arabella Swart. Malia beteken "gelief, vreedsaam, rustig" en Arabella beteken "pragtig, liefdevol, grasieus". Die Here het haar naam vir ons gefluister nog lank voordat ons geweet het ons is swanger. Dit is vir ons regtig besonders, want dis die naam wat Hy oor haar uitgespreek het, en dit pas so perfek by haar.

Vertel ons meer van haar geboorte

Ons was geseënd met 'n gesonde swangerskap en het besluit om op 39 weke en vier dae 'n amniotomie te laat uitvoer (dis wanneer die dokter 'n mens se water laat breek). Ná 20 uur van natuurlik probeer kraam kon ek nie verder as 8 cm ontsluit nie en moes 'n noodkeiser uitgevoer word. Sy het eindelik haar verskyning gemaak: 4:03 vm. op 9 Junie. Sy het 'n gesonde 4,07 kg geweeg en was 50 cm lank, met 'n pragtige kop vol hare.

Vertel ons meer van jul familie en waar julle woon?

Malia is nou 'n baie besige peuter en bly saam met haar mamma en pappa in 'n intieme cul-de-sac in Graanendal, Durbanville. Haar twee viervoet-maats by die huis is haar kat, Chloe, en Mason, die springerspanjoel. Saam vorm die drie 'n prettige trio wat elke dag groot vermaak in die huis verskaf.

Na wie aard Malia?

Met haar mooi donker hare en blas velletjie lyk sy baie soos haar pappa, Peet. Sy het haar ma se blougroen oë en fyn kenmerke geërf en het alreeds die maniere van 'n klein dame. Sy is baie nuuskierig oor die wêreld om haar en dis baie duidelik dat sy 'n analitiese breintjie het - beslis 'n eienskap wat sy gekry het by haar ingenieur-pappa! Sy is vinnig met haar mylpale en ons moet haar voortdurend uitdaag om haar genoeg te stimuleer. Malia is 'n vriendelike klein meisie wat graag soentjies en drukkies uitdeel.

Wat is jul hoop vir Malia se toekoms?

Ons hoop Malia word groot met die ongetwyfelde wete dat sy bitter gelief is en dat sy enigiets kan bereik waarna sy strewe. Mag sy weet sy is bemagtig en sy word nie gedefinieer deur hoe sy lyk nie, maar eerder deur die eienskappe wat haar 'n intelligente, liefdevolle en verantwoordelike vrou maak.

Fotograaf: Karien Burke Photograph

Baba & Kleuter

SPELETJIES VANDAG

CTA