Wen 'n Pigeon/Mamy Poko-geskenkpak ter waarde van R2 500!
Dit was nog nooit so maklik om doeke te ruil as met MamyPoko (BabyJoy) nie. Dié doekbroeke is ultradroog, maklik om te dra en gerieflik om te ruil danksy die 360°-rekbare middellyfband. Dis boonop vir tot 12 uur absorberend.
Die doeke is te kry in vier groottes by Babies R Us en takealot.com. Vul jou mandjie aan met Pigeon se Natural Botanical Skincare-reeks, wat dermatologies getoets, veilig en sag is vir baba se delikate vel. Die reeks bevat geen parabene, formaldehied of etielalkohol nie.
Om af te rond, voeg Pigeon se ekstrasagte en dik 100% Pure Water Baby Wipes by, wat tegelyk reinig en bevogtig. Dis geskik vir alle veltipes, ook sensitiewe en ekseem-vel en is geur-, parabeen- en alkoholloos.
* Te kry by Baby City, Dis-Chem, Babies R Us, aanlynwinkels en uitgesoekte kleinhandelwinkels.

Wenbrief
MERWE SE REIS
Hier sit ek vanaand in ongevalle. Boeta Merwe is siek en die mamma is verby moeg - ek het drie aande laas geslaap. Maar ek sal dié reis weer oor en oor aanpak. Ek het in 2020 gehoor ek is swanger nadat ek 'n miskraam gehad het. Ons het twee dogtertjies, maar ek wou graag 'n derde een gehad het.
Op 21 weke het ons uitgevind dis 'n seuntjie en hy het Downsindroom. Maar toe kom die nuus: Jou seuntjie het 'n hartafwyking. My kop draai. Ek is verwys na die genetiese konsultant wat 'n aborsie aangeraai het - hy gaan kan sterf voor geboorte, met geboorte, of net daarna.
Hulle kan 'n pilletjie gee en die volgende dag is als verby. Hoe neem jy daardie besluit op 21 weke en jy voel lewe beweeg? My man was baie bekommerd oor my, maar saam het ons besluit om voort te gaan. Die sonars het gewys ons seuntjie groei. Ek was bang en opgewonde, en op 38 weke is boeta deur 'n keisersnee gebore. Dit was alles tydens Covid en ek was alleen. Merwe was nogal 'n groot baba: 4 kg met geboorte. Hy is dadelik NICU toe.
Die kardioloog was tevrede en wou ons op ses weke weer sien. Ek het hom in die NICU gesien. Hy was perfek en hy was myne. Ek kon hom selfs later borsvoed. Ons is huis toe met my pragtige perfekte seuntjie met sy ekstra chromosoom. Ons hoor toe hy moet wel 'n hartoperasie kry. Maar die lewe gaan voort. Sonars wys 'n gaatjie van 2,5 cm in die middel van sy 5 cm-hartjie. Die operasie moet tydens Covid plaasvind.
Ná ses uur in die teater is hy uit, vol pype. Maar hy leef en hy is 'n vegter. Later in hoësorg ontmoet ek vier ander ma's wat ek steeds in my hart dra. Van die vyf kinders is daar vandag net twee oor. My hart breek vir hulle; jy dra die seer en bang saam met jou. 'n Week later kom haal pappa en die girls ons. Met Merwe se opvolg is die dokter tevrede. Tans lyk sy hartjie goed.
Sy immuunstelsel is baie laag weens Downsindroom en hy word dus vinnig siek. Ek het uit my werk bedank om na Merwe om te sien. Ons is so geseënd, want die Worcester-hospitaal het 'n Downsindroom-kliniek waar Merwe gereeld gemonitor word. Hy kry spraakterapie, fisio, arbeidsterapie en swem; sy spiertonus is laag. Ons het met geldinsameling begin om alles te kan bekostig. Ons pak elke dag soos ons dit kry; soms is daar goeie dae, soms moeilikes. Op twee jaar en nege maande kan hy al 'n bietjie loop en 'n paar woorde sê. Sy gunstelingwoord is Bella, sy Deense hond.
'n Dokter het eendag vir my gevra hoe ek teenoor God voel nadat ons van die diagnose gehoor het. Ek was nooit kwaad nie; die Downsindroom het my nooit gepla nie. Ons bly op 'n dorp met baie mense met gestremdhede. Ek het wel gestres oor sy hart, want daaraan kon ek niks self doen nie.
Elke dag word hy wakker met 'n glimlag. Hy bring soveel liefde. Hy is 'n vegter wat dit ver gaan bring. Hoe ek tot hier gekom het, weet ek werklik nie. Dag vir dag, tree vir tree. Maar ek sal dit alles weer doen.
- VILLERIA DAVIS, WORCESTER, WES-KAAP

GROOT MYLPAAL
Ons miracle microprem word amper vyf! Van 440 gram by geboorte (toe sy op 25 weke gebore is) na 14 kg het soos 'n ewigheid gevoel. Maar die wonderwerkkind, Ruaché, het nog elke dag die berge voor haar versit asof dit ballonne met helium is wat net losgeknip moet word om weg te sweef. Ná 330 dae in die NICU en 'n baie lang pad van herstel, terugslae en teleurstellings, het sy onlangs 'n plekkie gekry by 'n LSEN- (Learners With Special Education Needs) skool in Pretoria waar sy al die terapie wat sy nodig het, ontvang, en oral waar sy gaan verander haar ongelooflike geaardheid mense se harte. Haar trageabuis is in April uitgehaal en die gaatjie in haar keel is amper toe.
Dit help dat sy nie meer so gereeld hospitaal toe hoef te gaan nie. Sy haal nou heeltemal op haar eie asem, een van die grootste wonderwerke, ná talle kere dat haar longetjies platgeval het. Sy het daarna ook heelwat beter begin praat, maar gebaretaal bly steeds 'n groot deel van haar kommunikasie.
Sy het nog die voedingsbuis-apparaat in haar maag waardeur sy nog soms gevoer word. Sy sukkel nog met haar balans en spraak, en kenners noem toestande soos serebrale verlamming, ataksie en apraksie, maar ons weet sy het net haar eie spesiale manier om in mense se hart te kruip en hulle van voor af te oortuig dat Jesus werklik lewe, in en deur ons, elke dag. Maak nie saak wat jy deurmaak nie, Jesus is en sal altyd die lig en die waarheid bly!
- MARI BOTHA, PRETORIA, GAUTENG

VEGTER MALAN
Elke mammahart dra swaar aan die seer vir ons kinders. Vir elke mamma wat 'n prem baba het, of 'n siek baba: Staan sterk in geloof. Ons bid hulle gesond. Maar elke kind is 'n warrior, nes my Malan.
Ek sê altyd: Jy kan, jy wil en jy sal. Ek het eers op 20 weke uitgevind ek is swanger, ek was op die Pil en het nog geborsvoed aan my ander seun, NJ, wat toe 11 maande oud was. My babatee was 'n sprokie-Saterdag. Ek het baie seer gehad, nie na my liggaam geluister nie en is die Maandag werk toe. Ek is wel later weens die pyn dokter toe en hy besluit toe net daar dat baba uitgehaal moet word omdat sy hartklop laag en my bloeddruk hoog was.
Pappa moes tasse kry, NJ uitsorteer en ek het net gebid vir 'n gesonde baba. Malan is 9 Mei verlede jaar op 34 weke gebore. Die spinale verdowing het my bloeddruk laat daal en ek was in die herstelkamer en het Malan nie dadelik gesien nie. My mooiste Malan was vier weke in die NICU.
Die eerste twee weke moes ek uitmelk en kon eers teen week twee self begin voed. Op week vier is ons huis toe, maar ek het baie met Malan gesukkel. Hy was so siek! Hy het swaar asemgehaal en baie opgegooi. Dis eers ná vele dokters- en hospitaalbesoeke en 'n paar weke in die Nelson Mandela-kinderhospitaal dat ons uitgevind het Malan het hewige refluks en dat sy larinks vernou is. Ek kan vir geen ouer beskryf hoe jou kind klink as hulle moeilik asem haal nie. Ons was ses weke in die hospitaal en verlig om huis toe te gaan met ons Warrior Malan, soos een dokter hom beskryf het.
'n Maand later is ons weer hospitaal toe. Malan moes 'n Nissen-funduplikasie ondergaan - 'n ses uur lange refluksoperasie het op die klein baba gewag. Hy was daarna 'n week in die kinderwaakeenheid en het almal verras. Ek is ewig dankbaar vir elke dokter wat 'n rol gespeel het in Malan se lewe. Vandag is Malan 'n gesonde klein seuntjie wie se tweede verjaardag om die draai is.
Elke kind is 'n gawe van Bo, elke klein mensie het 'n doel in die lewe. Hulle is sterk en ons dink nie altyd so nie. Baie mense het gesê Malan gaan agter wees en dinge anders doen, maar hy is heeltemal normaal en toets bo sy ouderdom.
- CHANTELLE KRIEK, STANDERTON, MPUMALANGA
















