Borsvoeding is 'n lekker, bevredigende ervaring. Wanneer probleme opduik, is dit egter stresvol. 'n Honger, skreeuende baba of pynlike voedings is genoeg om enigeen se selfvertroue te kelder.
Gelukkig kan die meeste borsvoedkrisisse opgelos word, veral met die hulp van kundiges. Maar hoe gemaak as jy die hele nag - of naweek - moet wag?
IS DAAR FOUT?
Sommige "probleme" (soos dat jou baba 10 tot 12 keer binne 24 uur drink), is in werklikheid normaal.
Omdat bottelvoeding die norm geword het, verwag ouers - en selfs mediese personeel - dieselfde voedingsgedrag van borsbabas. Tog verskil borsmelk se samestelling van formule, en suig babas anders aan die bors as aan 'n bottel.
Gebruik die volgende riglyne om te besluit of julle professionele hulp nodig het. Raadpleeg 'n borsvoedingkonsultant as jou tepels…
- Pynlik of stukkend is;
- Plat of ingetrek is;
- Ná weke of maande van gemaklike voeding skielik seer word, brand en/of jeuk tydens of ná voedings; of wanneer jou bors …
- 'n Seer, rooiwarm knop het;
- So gestu is dat baba sukkel om te drink. Soek professionele hulp wanneer jou baba
- In die eerste ses weke, nadat jou melk ingekom het, minder as vyf nat en/of twee tot drie vuil doeke binne 24 uur het;
- Meer as 24 uur lank elke uur wil voed;
- Dikwels langer as 'n uur voed;
- Meer as een keer binne 24 uur vir langer as vyf uur voed;
- Tien persent of meer van haar geboortegewig verloor het;
- Teen twee weke nog nie haar geboortegewig herwin het nie;
- Tussen twee weke en drie maande minder as 140 gram per week optel;
- Die bors weier;
- Tydens voedings klikgeluide maak, haar wange in- en uitsuig, en/of gedurig die bors los.
OP JOU BORS
Borsvoeding is instinktief. Onlangse navorsing toon dat 'n pasgebore baba 'n reeks voedingsreflekse het wat op hul beste werk wanneer hy op sy magie bo-op sy ma lê. Hierdie posisie word laid-back breastfeeding genoem omdat jy op 'n bed of gemakstoel terugleun. Die voorkant van baba se lyfie rus teen joune, waar swaartekrag hom stabiliseer. Sodra sy wang naby die ontblote bors kom, sal hy sy mond oopmaak, sy koppie lig en die bors vat. Laid-back breastfeeding is vir julle albei gemaklik en is dikwels al wat nodig is om 'n borsvoedingsprobleem op te los.
VERSTOPTE MELKBUISE EN MASTITIS (MELKKOORS)
'n Pynlike, rooiwarm knop in jou bors dui op ontsteking of infeksie. Vra professionele hulp as jy grieperig voel, 'n koors hoër as 38,4 grade Celsius het, of as jou simptome langer as 24 uur voortduur.
Tuisbehandeling
- Voed baba minstens twee-uurliks.
- Melk ná of tussen voedings met 'n borspomp uit om jou borste te ledig.
- Wissel voedingsposisies af.
- Gebruik warm kompresse voor voedings, of melk uit in 'n warm stort.
- Masseer die knop met ligte sirkelbewegings tydens voedings of pompsessies.
- Rus genoeg en drink genoeg water.
- Moenie jou baba speen terwyl jy 'n borsinfeksie het nie, want dit kan 'n abses veroorsaak. Tensy jou baba vroeg gebore is, is jou melk veilig terwyl jy mastitis het.
STUWING
Ongemaklike, vol borste is algemeen in die week ná geboorte. Dis seer, geswel, rooi en warm, en jy kan selfs 'n ligte koors hê.
Voorkoming is beter as genesing: Voed in hierdie tyd dadelik en dikwels, en maak seker baba suig reg vas. As jou borste steeds stu, sal die volgende verligting bring:
- Borsvoed so dikwels moontlik.
- Beproef vel-tot-vel kontak en laid-back breastfeeding om jou kleinding se ingebore voedingsrefleks te prikkel. Babas drink dikwels beter in hul slaap omdat hulle rustiger is.
- Melk met die hand of 'n borspomp uit as jou voorraad baba se aptyt oorskry. Hou matigheid voor oë: Jy wil komplikasies soos verstopte melkbuise voorkom, maar nie jou produksie oorstimuleer nie.
- Gebruik koue kompresse tussen voedings. Jelpakke, koolblare of pakkies bevrore groente werk goed.
- Sit net voor voedings 'n warm waslap op jou bors. Hitte bevorder melkvloei. ¦
- As jou areola erg geswel is, kan baba sukkel om te drink of die bors weier. Jou tepels duik dalk selfs effens in. Melk 'n bietjie met die hand uit, of span areola-versagting in. Dit werk so: Lê op jou rug en ondersteun jou bors met jou linkerhand. Plaas die vingerpunte van jou regterhand in 'n sirkel om die areola en druk daarop. Hou die drukking sowat twee minute lank, herposisioneer jou vingers, en herhaal. Voed baba sodra jou areola sagter voel.
SEER TEPELS
Tepelpyn is algemeen in die eerste twee weke. Solank jou tepels normaal voorkom en die pyn binne 'n minuut of wat verdwyn, hoef jy nie bekommerd te wees nie. As dit dwarsdeur die voeding seer bly, het jy professionele hulp nodig - veral as jou tepel stukkend is en/of misvorm lyk.
Noodhulp vir seer tepels
- Probeer laid-back breastfeeding. Baba sal haar mond groter oopmaak, dieper vassuig en nie afgly weens swaartekrag nie.
- Ondersteun jou bors gedurende voedings. Plaas jou vingers agter die areola om te verseker dat sy 'n behoorlike mond vol borsweefsel kry. Sy moet borsvoed, nie tepelvoed nie.
- Voed gereeld: 'n Honger baba suig harder.
- Begin aan die minder seer kant.
- Sit voor voedings 'n warm waslap op jou bors of melk met die hand uit om jou sakrefleks aan te moedig.
- Stuwing kan seer tepels veroorsaak. Volg die wenke in hierdie artikel om jou areola te versag.
- Reinig jou borste met warm water (geen seep nie) en vermy tepelsalf wat voor voedings afgewas moet word.
- Sonlig en vars lug bevorder genesing.
- Dra borsskerms (breast shells, nie nipple shields nie). Dit voorkom dat jou bra drukking en wrywing veroorsaak.
- Borskompressie verbeter melkvloei sodat baba nie so hard hoef te suig nie. Druk die vingers wat jou bors ondersteun terselfdertyd na agter (in die rigting van jou ribbes) en na mekaar toe. Hou die drukking terwyl baba suig; moenie vat en los nie.
- Tepels wat jeuk en brand is dikwels 'n teken van sproei, 'n gisinfeksie. Raadpleeg 'n kundige om 'n diagnose en behandeling te kry. Indien baba sproei in haar mondjie het, moet jou tepels ook behandel word en andersom.
Ongemaklike, vol borste is algemeen in die week ná geboorte. Dis seer, geswel, rooi en warm, en jy kan selfs 'n ligte koors hê.
Boererate vir stuwing?
Help koue koolblare vir stuwing? Inderdaad. Sny gate in die middel om jou tepels droog te hou en plaas 'n verkoelde blaar in elke brakeël. Staak die behandeling ná 24 uur om te keer dat jou melkvoorraad afneem.
Moet ek my vloeistofinname beperk? Nee, dis 'n ouvroustorie. Drink genoeg om jou dors te les.
TE MIN MELK?
Een van 'n nuwe ma se grootste vrese is dat haar kleinding honger ly. Die meeste vroue kan meer as genoeg melk vir een - of selfs twee - babas maak, mits borsvoeding reg bestuur word.
VALS ALARMS
Jou melk is nie noodwendig min omdat …
- Baba twee-uurliks of meer gereeld voed nie. Borsmelk verteer binne sowat 90 minute.
- Baba meteens aanhoudend wil drink nie. Groeiversnellings is algemeen in die eerste paar maande. Voed op aanvraag; baba se eetlus behoort binne 24 uur na normaal terug te keer.
- Baba nog uit 'n bottel sal drink ná 'n borsvoeding nie. Hy is heelwaarskynlik versadig, maar die bottelspeen stimuleer sy suigrefleks.
- Jou borste 'n paar weke ná geboorte sag voel nie. Jou melkvoorraad pas aan by jou baba se behoefte.
- Jy aanvanklik net 'n paar druppels uitgemelk kry met die hand of 'n borspomp nie. Dit verg oefening, en alle pompe is nie ewe doeltreffend nie. Jou baba kry waarskynlik genoeg indien sy in die eerste ses weke vyf of meer nat doeke en binne 24 uur minstens drie stoelgange van groter as 'n vyfrandstuk het. Weeg haar op 'n betroubare baba- skaal as jy onrustig is.
Stimuleer jou melkvoorraad so
- Voed meer gereeld vir solank as wat baba sal drink. Melkproduksie werk op die beginsel van vraag en aanbod: Hoe leër jou borste tussen voedings is, hoe oorvloediger jou melkvoorraad.
- Gebruik albei borste per voeding.
- Beproef borskompressie.
- Laat baba al sy suigwerk aan die bors doen: Vermy bottels, fopspene en byvoedings, behalwe op mediese aanbeveling.
- In ernstige gevalle kan jy tussen voedings met 'n borspomp uitmelk vir bykomende stimulasie.
Kry onmiddellik mediese hulp indien baba …
- So swak of lusteloos is dat hy nie wil wakker word of drink nie;
- Se fontanel ingeduik is;
- Se vel, mond of lippe baie droog is;
- Se urine donker en gekonsentreerd is.
MY BABA WIL NIE BORSVOED NIE!
Daar is verskeie redes waarom 'n baba nie wil drink nie, en vanselfsprekend moet mediese oorsake uitgeskakel word.
Beproef die volgende kunsies
- Vel-tot-vel kontak en laid-back breastfeeding.
- Ondersteun baba se nekkie eerder as haar agterkop.
- Borsvoed wanneer sy rustig is of slaap - of in 'n warm bad.
- Bied kort-kort die bors aan, maar nooit onder dwang nie. Troos baba eers teen jou skouer wanneer sy huil sodat sy borsvoeding nie met stres verbind nie.
- Raadpleeg 'n chiropraktisyn. Baba se nek kan seer wees weens haar posisie in die baarmoeder of weens geboorte-trauma.
- Melk uit en voer baba met 'n teelepel, spuit of koppie. Vermy bottels in die eerste maand, asook tydens borsvoedstakings. Sommige babas ontwikkel 'n voorkeur vir die fermer bottelspeen en vinniger melkvloei.
Moenie borsweiering as persoonlik beskou nie. Daar is meestal 'n fisieke rede voor; baba verwerp jou nie. Moontlike oorsake is geboortetrauma (soos instrumentverlossing), epidurale verdowing of petidien tydens kraam, kwaai borsstuwing, plat of ingetrekte tepels, of voortydige blootstelling aan bottels. Borsvoedkonsultante spesialiseer in tegnieke om sulke probleme te oorkom.
Melkproduksie werk op die beginsel van vraag en aanbod: Hoe leër jou borste tussen voedings is, hoe oorvloediger jou melkvoorraad.
KRY HIER HULP
Skakel 'n La Leche League-leidster (kontaknommers by llli.or) of vra hulp op hul Facebook-blad (facebook.com/groups/lalecheleaugesouthafrica).
Leidsters is ervare borsvoedma's wat ander vroue ondersteun en inlig. Hulle is vrywilligers, dus is tuisbesoeke selde moontlik. Sou 'n leidster dink dat jy professionele hulp nodig het, sal sy laktasiekonsultante in jou omgewing voorstel.
Laktasiekonsultante is gekwalifiseerde gesondheidsorgverskaffers wat in borsvoeding spesialiseer. Hulle kry omvattende teoretiese en praktiese opleiding en laat hulle gereeld hersertifiseer om met nuwe navorsing tred te hou.
Sommige privaat konsultante spreek kliënte by klinieke of spreekkamers, ander doen tuisbesoeke.
Vind 'n konsultant naby jou deur na die webtuiste www.salactationconsultants.co.za te gaan of na "Lactation Consultants of South Africa" op Facebook te soek.
Belangrik
Gebruik tepelskerms net onder toesig van 'n borsvoedingkonsultant. Dis ontwerp vir plat of ingetrekte tepels, nie seer tepels nie. Dit verlig selde die pyn en kan sake vererger omdat baba verkeerd vassuig, wat weer jou melkvoorraad kan verminder.















