PASGEBORENE | Drie opwindende maande

Getty Images
Getty Images

Dalk skrik jy op die eerste dag vir jou nuwe baba, wat so vreemd en anders lyk as die babas in die sjampoe- advertensies. Maar moenie die fout maak om te dink dat daar nie veel in daardie koppie aan die gebeur is nie, om van die lyfie nie eens te praat nie. Ons bekyk 'n paar van die vernaamste mylpale aan die fisieke, intellektuele en emosionele front en deel wenke ook.

Week 1

Teen die einde van baba se eerste dag in die wêreld sal sy al jou reuk herken. Sy word gebore met sintuie wat al goed werk (buiten sig, wat aan die begin maar swak is), en haar breintjie begin onmiddellik met die leerproses om sin te maak van alles wat haar sintuie haar voed. 'n Paar dae later herken sy haar gunsteling-mense aan hul stem, en al is haar sig nog maar beperk, herken sy teen die einde van die eerste week haar gunsteling-mense se gesig ook.

Week 2

Jou baba kan jou bui aanvoel, al verstaan sy nog nie woorde nie. Net soos sy jou nou leer ken, moet jy haar ook leer ken. Jy sal weet dat sy negatiewe en positiewe reaksies het, en eintlik is haar behoeftes nog eenvoudig. Onthou dat sy heeltemal van jou afhanklik is. Reageer dus dadelik as sy huil en koester haar liefdevol. Borsvoed op aanvraag - dis jul bindingstyd ook.

Week 3

Die manier waarop jou baba beweeg is baie anders as 'n ouer baba. Die vreemde bewegings wat jy nou al sou gesien het, is nie willekeurig nie - dis reflekse. Hulle verswak ook mettertyd. Daar is 'n paar van dié reflekse, maar die bekendstes is: ¦ die Moro-refleks, waar sy haar arms en bene oopgooi asof sy skrik, ¦ die suigrefleks, en ¦ die gryprefleks - almal se gunsteling, want dis wanneer sy jou vinger so styf vashou.

Week 4

As jy jou baba op haar magie neerlê, sal sy moontlik haar kop vir 'n kort rukkie kan oplig. Dis 'n belangrike mylpaal dié! 'n Sterk nek en skouers is die fondament waarop baie van haar toekomstige fisieke mylpale gebou gaan word.

Wenke vir die eerste maand

Hou jou pasgeborene se omgewing vir eers kalm en waak teen oorstimulering.

  • Wikkel haar styf toe in 'n kombersie met haar handjies by haar gesig.
  • Reageer dadelik wanneer sy huil en koester haar.
  • Gesels met haar, sing vir haar en maak oogkontak.
  • Hou haar styf vas wanneer jy borsvoed, en ook as jy dalk bottelvoed.

Week 5

Jou baba stel intens belang in gesigsuitdrukkings. Onthou dat sy nog nie so goed kan sien nie - hou haar so 30 cm van jou gesig af wanneer julle "gesels". Sy sal haar tongetjie uitstoot en haar lippe beweeg asof sy wil saampraat.

Week 6

Sy het nou behoorlik haar stem gevind en huil soos die spreekwoordelike baba. As jy fyn ingestel is, sal jy kan agterkom dat sy 'n verskeidenheid klanke gebruik vir honger, moegheid, pyn ... Huil is hoe sy met jou kommunikeer.

Week 7

Jou baba werk hard om beheer oor haar spiere te kry. Veral haar nek- en rugspiere word ál sterker en sy kan haar kop al vir kort rukkies mooi regop hou. Jou baba se sig is ook aan die verbeter en sy kan beweging met haar ogies begin volg. Die meeste van haar reflekse verdwyn namate sy beheer oor haar eie lyfie begin neem.

Week 8

Waar's die kamera? Jy kry 'n regte, egte glimlag van jou liefkind! En boonop begin sy die oulikste geluide in haar keel maak en reageer sy op klanke.

Wenke vir die tweede maand

  • Herhaal haar naam wanneer jy haar in die oë kyk.
  • Steek vir haar tong uit en kyk of sy jou naboots.
  • Volg 'n baba-masseerkursus.
  • Magietyd elke dag is 'n moet.
  • Hang 'n bewertjie bo haar doekruiltafel sodat sy haar ogies oefening kan gee.
  • Vryf jou baba se handjies met verskillende teksture.

Week 9

As julle gereeld magietyd toegepas het, sal jou baba nou al sy koppie tot 10 sekondes lank teen 45 grade kan lig. Wanneer hy regop is, kan hy sy koppie mooi hou en selfs draai in die rigting van 'n geluid wat hom interesseer. Hy word ook bewus van sy eie handjies en vind hulle fassinerend. Die fontanelle op sy kop - dis daai duike in die skedel - begin toegroei.

Week 10

Jou baba reageer aktief op ander (die hond ook!) en begin persoonlikheid wys. Hy sal sy voorkeure en buie goed kan uitdruk met sy gesig, sy lyfie en sy stem. Jou baba is bewus van voorwerpe en sal hard probeer om daarna uit te reik of daarna te skop.

Week 11

Jou baba maak geselsgeluidjies, of koer, gil en babbel. Sy sal ook baie fyner begin luister. Beter handjiebeheer beteken alles gaan mond toe om verder verken te word.

Week 12

Kopbeheer in 'n regop en lêende posisie is al baie beter. Jou baba sal ook nou 'n ratel kan vashou as jy dit in sy handjie sit. Jou baba kan vir veel langer wakker en gelukkig bly sonder om oorgestimuleer te word.

Wenke vir die derde maand

  • Speel met jou baba se lyfie wanneer hy helder wakker is. Buig sy knietjies, trek sy armpies, kielie sy voetjies.
  • Trek vir jou baba dramatiese gesigte en praat dramaties, en kyk hoe hy reageer.
  • Speel ritmiese musiek en dans met hom in jou arms.
  • Vryf sy lyfie met verskillende teksture.
  • Gee vir hom helder voorwerpe om met sy ogies te volg, en sit dit in sy handjie ook.
  • Laat lê hom op sy rug onder 'n babagim, en op sy maag op 'n tekstuurkombersie.
  • Lewer deurlopend kommentaar op alles wat jy met jou baba doen, byvoorbeeld tydens badtyd en doekruiltyd.

SPELETJIES VANDAG

CTA