1. Trek warm aan en gaan stap in 'n park naby jul huis.
2. Stel 'n vroegaand-Milo-ritueel in, waar julle almal saam 'n koppie geniet en net gesels, sonder skerms en ander afleiding.
3. Laat elke lid van die gesin 'n wens neerskryf. Verbrand elkeen se papier met die wens daarop in die kaggel nadat julle dit hardop vir mekaar gelees het. Die kleinstes kan 'n prentjie van die wens teken.
4. Soek na 'n 5 km-pretdraf in jul omgewing en begin as gesin saam daarvoor oefen.
5. In die winter kan 'n mens se tuin maar valerig lyk. Koop of maak hangvlaggies wat julle in die bome kan ophang om die tuin op te kikker.
6. Hou 'n groot sopkook-naweek en vries porsies van verskillende soorte.
7. Skaf mooi potte en huisplante aan om 'n bietjie groenigheid in die huis te bring.
8. Druk vars lemoene uit vir lemoensap saam met jul ontbyt.
9. Skaf kinderbreinaalde en lekker dik wol aan en wys jou kinders hoe om 'n serp te brei. Tolletjiebrei is ook 'n lekker aktiwiteit.
10. Stof die bordspeletjies af, hou die weertoep dop en as daar 'n aaklige dag op pad is, kan julle heeldag binne bly en speel.
11. Hou 'n kruiwaloop-kompetisie in die gang. Dis pret en baie goeie oefening.
12. Vra vir ouma vir haar gesondheidsbeskuitresep en bak 'n slag. Dis gerieflik en lekker op koue dae wanneer almal iets ekstras wil eet.
13. Bou 'n kombersfort oor die etenstafel.Laat die kinders dit baie knus inrig en sommer een aand daar slaap.
14. Koop klaarbereide blaardeeg om bo-op 'n pastei te sit. Laat jou kinders 'n mooi vorm uitsny om bo-op te bak.
15. Die winter begin met W. Begin 'n plakboek met kenmerkende wintervoorwerpe wat julle uit tydskrifte knip.
16. Vertroetel die kinders met 'n tuisgemaakte voetskropsessie. Maak n mengsel van ½ koppie bruinsuiker, ½ koppie sout, ½ koppie olyfolie en10 druppels lekkerruikolie van jou keuse. As julle klaar is, trek dik, warm sokkies aan.
17. Blaai saam deur jou kinderalbums en gesels oor jou kinderjare.
18. Geniet 'n heerlike middagslapie saam met jou kind. Wees sommer net saam lui - dis een van die lekkerste dinge om te doen.
19. Skaf 'n pomelo-messie aan sodat julle gereeld pomelo's kan eet, sonder moeite.
20. As julle moeg word vir Milo, drink geurige goue melk: Meng knippies borrie, kaneel en gemmer deur warm melk en versoet dit met heuning.
21. Maak 'n weerkaart en vul elke dag se temperature in.
22. Bou 'n poppekas uit 'n kartonboks en hou vir mekaar konsert.
23. Steek kerse in die badkamer aan en geniet saam 'n borrelbad.
24. Stel jou kind aan kerrie bekend. Koop 'n botterhoender-en-basmatigereg by 'n Indiese restaurant. Dis geurig sonder die brand.
25. Gaan help by 'n sopkombuis en neem jou kinders saam. Berei voor hoe jy die vrae oor armoede gaan beantwoord.
26. Gun jou 'n blaaskans by die gim … sit in die stoomkamer of sauna. Jy hoef nie vir enigiemand te vertel nie.
27. Lees Hans Christian Andersen se klassieke verhaal Die Sneeukoningin.
28. Laat sny jou kinders se hare. Hoe korter, hoe makliker in die winter.
29. Was julle al by 'n planetarium? Dis altyd lekker. Kyk of jou naaste museum of universiteit een het.
30. Die gewildheid van plakkerboeke ken geen einde nie. Bederf die kinders met pakke nuwe plakkers.
31. Wys jou kind hoe om 'n lemoen pap te rol en die sap dan deur 'n gatjie uit te suig.















