VRAAG: Hoe kan ek my baba aanmoedig om te loop? Hy kruip al van nege en 'n half maande af en is nou 14 maande oud. Hy loop teen meubels, maar wil nie alleen begin loop nie. Wat is die normale ouderdom waarop 'n peuter begin loop? Moet ek bekommerd wees?
ANRO-MARI COHEN ANTWOORD: Voor jou baba kan begin loop, moet hy eers sekere vaardighede bemeester. Hy het 'n kombinasie nodig van voldoende balans, rompbeheer, heupstabiliteit, genoeg krag in sy beenspiere, selfvertroue en die vermoë om volgorde van aksies te beplan en uit te voer. Dit is die norm dat peuters tussen 12 en 15 maande begin loop.
Wat belangrik is, is dat jou baba sy ander mylpale op die regte tye en in die regte volgorde bereik het. Solank jou baba gewig op sy beentjies plaas, teen meubels loop, belangstelling toon in nuwe dinge en van punt A tot by punt B beweeg, hoef jy nie bekommerd te wees nie. As 'n baba eers later begin sit of kruip het, is dit moontlik dat hy 'n laat loper sal wees.
As hy teen 18 maande nog nie op sy eie wil loop nie, is dit dalk 'n goeie idee om hom te laat evalueer. So kan jy jou peuter aanmoedig om te loop: Laat hom in knielende en half-knielende posisies speel. Help hom om met ondersteuning te loop: teen meubels terwyl jy sy hand vashou, of terwyl hy iets stabiels stoot. Laat hom kaalvoet op verskillende oppervlaktes loop. Dit verbeter sy balans en koördinasie. Laat hom op 'n oefenbal bons. Speel kruiwa-loop.




















