VRAAG: Ek beplan om normaal te kraam, maar sal tog die opsie van epidurale verdowing wil hê as dinge dalk te seer word. Nou hoor ek dat 'n epiduraal soms geweier word as 'n mens te laat daarvoor vra, of uitgewerk is voor jy klaar gekraam het. Hoe werk dit?
TINA OTTE ANTWOORD: Spanning en uitputting kan veroorsaak dat die kraamproses lank en uitgerek word, en epidurale verdowing op die regte tyd kan help om die spanning te verlig en toelaat dat die kraamproses vorder. Soos met enige kraam-ingryping beteken epidurale verdowing dat die bestuur van jou bevalling verander. Dis meer waarskynlik dat jy dan "medies bestuur" sal word as wanneer jy sonder ingryping kraam.
Dis die moeite werd om te wag vir die aktiewe fase van kraam (wanneer jy tussen 4 en 8 cm ontsluit het) voor jy vir epidurale verdowing vra, anders is dit dalk te gou. Epidurale verdowing laat die bevalling stadiger geskied, wat beteken dat meer ingryping nodig kan word in die vorm van medikasie wat sterker kontraksies veroorsaak.
Al kry jy 'n epiduraal, probeer steeds om so regop as moontlik te bly (dis moeilik, maar probeer maar) sodat die swaartekrag steeds saam met jou kan werk. 'n Narkotiseur of ervare vroedvrou kan indien nodig die middel aanvul.
Het jy 'n vraag?
E-pos jou vrae na sharing@ypbmagazine.com. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.


















