VRAAG: My kind is in graad R en ek sien wanneer sy skryf, draai sy haar hele gewrig na binne - dit lyk amper asof sy links moes gewees het. Sy is taamlik onhandig en laat gereeld dinge val. Wat is die oorsaak en wat moet ons doen? Is sy eintlik links?
LIZANNE ANTWOORD: Wat jy beskryf, behels twee aspekte van jou dogtertjie se fyn motoriese ontwikkeling: die ontwikkeling van 'n dominante hand en die ontwikkeling van 'n optimale greep. Ek wil jou graag gerusstel dat ons wel soms die handhouding wat jou pla, by kinders sien.
Hou jou dogtertjie se ontwikkeling fyn dop en speel die speletjies hieronder met haar. In die meeste gevalle is 'n bietjie ekstra oefening en tyd nodig om dié vaardighede vas te lê. Kom ons kyk eers na die ontwikkeling van haar dominante hand.
Dominansie of handvoorkeur ontwikkel van vroeg af - gewoonlik tussen twee en vier jaar. Hou jou dogtertjie dop. Jy sal waarskynlik opmerk dat sy een hand meer as die ander gebruik wanneer sy dinge doen soos met blokkies bou, bal gooi, tandeborsel, eet of iets optel. As sy meestal haar regterhand gebruik, dan is dit waarskynlik haar dominante hand.
As jy voel dat jou dogtertjie se handvoorkeur nog nie heeltemal vasgelê is nie, of dat sy dikwels onhandig is, sal die volgende speletjies help.
- Hang aan 'n balk en/of doen apieswaaie op die klimraam.
- Voer verskillende dierbewegings uit: Seil soos 'n slang, of spring handeviervoet soos 'n hasie of padda.
- Maak slangetjies, balletjies en nessies van klei.
- Rol klei of deeg met 'n roller uit.
Ons sien soms dat kinders met hul hand na binne gebuig skryf en dit is gewoonlik 'n aanduiding dat die boustene vir fyn motoriese vaardighede nog oefening nodig het. Dit kan ook op lae spiertonus dui. Dis belangrik vir handskrif dat kinders hul pols kan verleng, want dit verseker voldoende vingerbewegings en goeie potloodbeheer. Ideaal gesproke is 'n posisie waarin die pols stabiel en effens opgelig is, 'n meer doeltreffende skryfposisie.
Die volgende speletjies is goed vir die ontwikkeling van die spiere wat vir 'n potloodgreep nodig is.
- Kruip onderdeur en bo-oor hindernisse.
- Loop soos 'n krap sywaarts of agteruit.
- Maak krabbelprente deur 'n kryt of pastel plat vas te hou.
- Doen aktiwiteite teen 'n vertikale oppervlak, soos om te teken of verf op skeerroom teen die kant van die bad (met die vingers), 'n spieël, 'n esel of papier wat teen die muur vasgeplak is.
Opsoek na nog hulp?
Gaan gerus na www.ot-mom-learning-activities.com vir nog interessante inligting, aktiwiteite en 'n gratis e-boek - die webtuiste word bedryf deur 'n arbeidsterapeut wat ook 'n ma is.
Het jy 'n vraag?
E-pos jou vrae na sharing@ypbmagazine.com. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.

















