VRAAG: My driejarige dogtertjie is glo afknouerig by die kleuterskool, gewoonlik wanneer kinders met haar gunsteling-speelding wil speel. Ons het 'n jonger seuntjie by die huis vir wie sy soms afknou, maar nie uitermatig nie. Ek sien dus nooit hierdie gedrag by haar nie.
Dit is nie lekker om daarvan te hoor nie, maar terselfdertyd wil ek ook nie hê sy moet 'n kind wees wat sommer vou as ander kinders haar dreig nie. Waar lê die balans en hoe pak ek die probleem aan?
LIZANNE DU PLESSIS ANTWOORD: Jou dogtertjie is besig om te leer hoe om haar aksies (lyfie), gevoelens en denke te reguleer. Ons noem hierdie vaardigheid selfregulering. Kleuters se brein is nog aan die ontwikkel en so ook hul vermoë om hul idees en behoeftes in woorde uit te druk.
Die onvolwasse brein van 'n jong kleuter word maklik oorweldig deur groot gevoelens soos frustrasie, angs en woede, en daarom reageer hulle deur te skree, slaan, skop of selfs deur te byt.
Daarby vind kleuters dit ook moeilik om hul beurt af te wag. Nog 'n rede waarom jou dogtertjie by die kleuterskool dalk meer afknouerig is as tuis, kan wees dat die bedrywige omgewing van die kleuterskool haar oorweldig.
Sy het dus dalk 'n sensories sensitiewe temperament. Ter gerusstelling: Jou dogtertjie se gedrag is heeltemal normaal en iets wat gereeld voorkom. Hoewel kinders aangemoedig moet word om 'n wye spektrum van emosies te ervaar, is dit ons plig om hulle te help om die groot emosies te hanteer.
Hier volg 'n paar riglyne.
1. PRAAT OOR GEVOELENS. Lees boekies saam en gesels oor hoe die karakters voel. Byvoorbeeld: Die hasie is bang want die boer het haar gevang, die padda is hartseer, die seuntjie is kwaad, want sy boetie het sy bal oor die muur geskop. Beskryf jou eie emosies deur die loop van die dag en wys dit deur jou lyftaal en gesigsuitdrukking: "Mamma is gefrustreerd, want die oom het voor mamma ingery." Beskryf dadelik die emosies wat jy sien jou dogtertjie ervaar: "Ek sien jy is kwaad, want boeta het jou gunsteling-speelding gegryp."
2. STEL GRENSE. Noem die uitdagende gedrag by die naam. Byvoorbeeld: "Ons slaan nie"; "in hierdie huis byt ons nie"; "ons gryp nie" of "ons maak beurte".
3. GEE 'N KEUSE. "Jy kan óf vir jou beurt wag óf jy kan met iets anders speel"; "jy kan ophou neul en lekker speel of as jy aanhou, gaan ons huis toe." Maak seker jou keuse is realisties en dat jy dit kan deurvoer. Volg hierdie stappe konsekwent en jy sal die vrugte pluk!
Lees gerus meer in my boek Maak gelukkige kinders groot: die sleutel tot 'n kalm, gebalanseerde kind.

















