RAAD | My melk het opgedroog

Getty Images
Getty Images

VRAAG:Ons baba is vandag 10 dae oud. Ek het van dag een af probeer borsvoed, maar het gevind dat sy nie genoeg melk inkry nie. Sy is ons derde baba. Ons eerste twee kon ek wonderlik borsvoed. Ek het sedertdien 'n borsverkleining gehad en neem nou aan dat van my melkbuise dalk in die operasie "afgesny" is. Ek het met die ander twee normaal gekraam, maar met Francine moes ek 'n keisersnee kry omdat sy stuitliggend was. Die keisersnee is onder volle narkose gedoen omdat twee vorige rugoperasies 'n spinale blok onmoontlik gemaak het. Het al hierdie faktore 'n rol gespeel in my melkproduksie? Ek melk steeds uit sodat ek haar darem 'n bietjie borsmelk kan gee.

PROF LISANNE DU PLESSIS ANTWOORD: Eerstens wil ek sê: Welgedaan! Jy het twee babas geborsvoed en jy voed steeds jou derde baba met uitgemelkte borsmelk, al moes jy 'n hele paar uitdagings trotseer. 'n Bietjie borsvoeding is beter as geen borsvoeding nie.

Al die faktore wat jy noem, kan 'n invloed op melkproduksie en die borsvoedingverhouding hê. Alle ma's is bekommerd dat hul baba nie genoeg borsmelk inkry nie. Omdat 'n mens nie kan sien hoeveel die baba drink nie, is 'n mens dikwels gespanne hieroor - meer nog as jy 'n borsverkleining gehad het. Alle ma's moet weet hoe om te bepaal of hul baba genoeg drink.

'n Baba wat genoeg melk per voeding inkry, sal:

  • gereeld voed - minstens agt tot 12 keer binne 'n 24 uur-tydperk,
  • die voeding self beëindig,
  • duidelik hoorbare slukgeluidjies maak,
  • vier tot ses nat weggooidoeke hê (in die eerste twee tot drie dae ná geboorte kan dit slegs een tot twee nat doeke wees), en
  • genoeg gewig aansit.

As jy dus baie seker is dat jou baba nie genoeg borsmelk kry nie, kan jy jou borsmelk ná 'n borsverkleining aanvul. Probeer egter om jou melkproduksie steeds soveel moontlik te stimuleer deur jou baba gereeld aan die bors te sit en vel-teen-vel-aanraking te geniet. Dis moeilik om te voorspel in hoe 'n mate borsvoeding en melkproduksie beïnvloed gaan word ná 'n borsverkleining.

'n Ma kan moontlik daartoe in staat wees om ten volle en eksklusief te borsvoed, gedeeltelik te borsvoed of sy kan glad nie borsvoed nie. Indien die borsweefsel (melkkliere en -buisies) deur die borsverkleining beskadig is, kan dit 'n laer melkproduksie tot gevolg hê as waaraan jy gewoond was.

As 'n vrou dus 'n borsverkleining oorweeg, maar sy beplan om daarna weer swanger te raak, moet sy dit met die chirurg bespreek en noem dat sy ná die operasie weer wil borsvoed. Narkose kan 'n invloed op die baba se soek- en suigvermoë ná die geboorte hê omdat hulle ook aan die doofmiddel blootgestel was.

Dit word aanbeveel dat 'n ma haar baba binne een uur ná geboorte aan die bors sit om te verseker dat die borsvoedingverhouding 'n goeie begin het. Narkose kan jou oriëntering aantas en veroorsaak dat jy en baba nie kort ná geboorte reeds bymekaar kan wees nie.

In die geval van 'n beplande keisersnee kan 'n mens jou besluit om te borsvoed met jou ginekoloog en narkotiseur bespreek sodat hulle die nodige ondersteuning in plek kan stel om jou wens te respekteer.

Het jy 'n vraag?

E-pos jou vrae na sharing@ypbmagazine.com. Vrae kan ongelukkig nie persoonlik beantwoord word nie.

Prof. Lisanne du Plessis, Borsvoedkonsultant

SPELETJIES VANDAG

CTA