Ek en Karin het besluit dat Lillie-Marie met skool sal begin aan die einde van die maand waarin sy begin loop. Dit is die logiese volgende stap omdat ek net soveel werk met 'n baba op my skoot gedoen kan kry en Karin weer dringend aandag aan haar praktyk moet gee. Twee maande voor die verwagte tyd het ek navraag gedoen oor hoe ons te werk moet gaan om Lillie-Marie by die skooltjie van ons keuse in te skryf. Ons is gewaarsku dat hulle net 15 kinders per klas aanvaar en dat hulle reeds 13 inskrywings het. Ons is aangeraai om solank die nodige vorms in te vul en dat Lillie-Marie dan maklik sou kon inval sodra sy gereed is.
Met die vorms ingevul ry ek en Lillie-Marie vroeg een Vrydagoggend na haar toekomstige skooltjie. Daar aangekom, besluit Lillie-Marie dat sy nóú al met die maatjies wil kennis maak. Vreesloos wriemel sy haar uit my greep met haar arms uitgestrek na die maatjies. Sy kruip met 'n spoed na haar portuurgroep en maak dadelik kennis. Dit is 'n stryd om haar te kry om saam met my te vertrek.
Tydens die rit huis toe worstel ek met die besluit of ek die oggend se gebeure met Karin moet deel. Ek is gewoonlik so opgewonde om alles wat Lillie-Marie met ons uitstappies aanvang en ervaar vir haar ma te vertel, maar oor dié een is ek onseker. Ek kyk na Lillie-Marie in die truspieëltjie en begin hardop met haar gesels.
"Wat gaan jou ma met dié inligting maak?" Lillie-Marie antwoord nie.
Sy stel meer belang in die prinses met die pienk balrok in haar hande.
"Sê nou net sy wil jou vroeër skool toe stuur?" Sy kyk vir my en glimlag.
"Jy is vreesloos," sê ek hardop vir haar en dit is asof haar blik dit beaam. Asof sy sê: "Ja Pappa, ek is."
"Jy is vreesloos en dit maak my angsbevange."
Ek weet ek moet bly wees dat sy nie bang vir alles deur die lewe gaan nie. Dat sy nie skrik vir nuwe interaksies nie en dat sy so gewillig, eintlik opgewonde is, om nuwe maatjies te maak.
By die huis aangekom besluit ek om maar oop kaarte te speel en my selfsugtige vrese weg te bêre. Sy is gereed. Ek dalk nie, maar sy is gereed. Die enigste voorbehoud is dat sy die enigste een in haar klassie gaan wees wat nog nie loop nie.
Die vriendelike juffrou het egter daardie vrees besweer en ons die versekering gegee dat sy goed sal aanpas en selfs gemotiveerd sal wees wanneer sy sien hoe die ander maatjies rondstap.
Die eerste oggend se aflaai by die skool is 'n emosionele storie. Dis 'n reuse-tranedal en die sneesdoekies word die een ná die ander deurdrenk. En dan praat ek nie eens van Lillie-Marie nie. My vreeslose dogtertjie se onseker kyk met daardie eerste aflaaislag het tot diep in my binneste gekloof en ek was skielik oorweldig deur onbekende emosies. Vir die eerste keer sedert haar geboorte sou ek nie volle beheer uitoefen oor hoe haar dag verloop nie.
Die volgende dag was dinge 'n bietjie makliker en in die dae daarna het ek en Lillie-Marie mooi by die daaglikse roetine aangepas.
Maar steeds wou sy nie loop nie. Baie van 'n ouer se kennis is gegrond op wat jy by ander ouers hoor. Op 'n dag gesels ek met 'n vriend wie se vrou voorheen 'n kleuterskool bedryf het en sy vertel dat een dogtertjie daar eers op 15 maande geloop het. In daardie stadium troos ek my daaraan dat my dogtertjie darem nog twee maande oor het voor sy daar is. Vyftien maande het egter gekom en gegaan en op 16 maande het sy steeds nie geloop nie.
Ouers se reaksie wanneer jy noem dat jou kind nog nie loop nie, kan uiteenlopend wees. Een ouer sal sê dat jy geduldig moet wees en dat alles vir elke kind op sy tyd gebeur. 'n Ander ouer sal jou omtrent laat glo dat hul kind op 10 maande 'n Parkrun van 5 km kind-alleen voltooi het.
Intussen het ons 'n speelding (walker) aangeskaf met die doel om Lillie-Marie aan te moedig om te loop. Sommer vinnig het sy die nuwe toestel ingespan om haar terreur teen 'n hoër snelheid deur die huis te versprei. As jy haar in die gang sien afstorm, weet jy dat dit enkele oomblikke is voor honde en katte in alles rigtings gaan spaander. Ek sien elke dag hoe sy groei, hoe haar woordeskat ontwikkel en hoe my klein babatjie 'n peuter word. Ek sien elke dag hoe sy 'n bietjie sterker word, meer gemaklik op haar voete is en vir langer tye selfstandig staan.
Lillie-Marie gaan dalk nie in die nabye toekoms 'n Parkrun van 5 km aflê nie, maar ek kan sien hoe sy ál nader aan loop kom. En sy sal. Sodra sy reg is.















