Reis

Mendoza: Argentinië se wynstad wat voel soos Stellenbosch

Ek was 24 jaar oud toe ek na Brasilië toe gevlieg en ’n bus na Chili gehaal het. Ná twee dae op die pad het ek in die Argentynse stad Mendoza afgeklim en wat veronderstel was om slegs ’n tydelike verposing te wees, het ’n verblyf van twee jaar geword.

Ek het leer Spaans praat, by die plaaslike muurbalklub aangesluit (waar die legendariese Puma-stut Frederico Méndez gereeld die vloer met my gevee het), en waarskynlik ’n hele kudde beeste se vleis verorber.

Ek het ’n woonstelletjie in die stadskern gehuur (die bure het my eenkeer versoek om my musiek hárder te speel!) en by skole en maatskappye in Mendoza Engelsklasse gegee.

Getrou aan die Argentynse leefstyl was ek bykans altyd platsak, maar die goeie gees en vriendelike mense het daarvoor vergoed.

Een van die gesinne vir wie ek taallesse gegee het, het my selfs vir Kersdag genooi, waar die hoofmaal haas was wat in 'n ploegskaar gekook is!

Nou, twee dekades later, is ek steeds vriende met die man wat die internetkafee op die grondvloer van my woonstelblok bestuur het. (Sy Engels is egter nog net so power soos destyds.)

Mendoza is Argentinië se vierde grootste stad, maar dit voel meer na ’n dorp met slegs drie supermarkte.

Hoewel die stad en die onmiddellike omgewing heel aangenaam is, is dit ver van skouspelagtig.

Maar sodra ’n mens net ’n bietjie verder uitwyk, verander die landskap dramaties: Die Andesgebergtes lê net wes van die stad en Aconcagua – die hoogste bergspits buite die Himalajas – is slegs twee ure se ry ver.

Ek het menige naweek in dié berge gaan kamp en vét forelle in die rivier gevang. Mendoza het waarskynlik van die breedste sypaadjies wat jy ooit sal sien, en dit spog boonop met ingewikkelde teëlpatrone in rooi, oranje, swart en wit.

Die plaaslike inwoners – hulle word Mendocinos genoem – hou dit self skoon.

Elke liewe oggend sien jy mense wat – nog steeds in hulle pajamas – op straat verskyn, die teëls skoonspuit en dit dan met paraffien poets.

Ek het selfs eendag gesien hoe ’n man met 'n verfskraper klontjies kougom afkrap.

In die herfs voer dié toegewyde inwoners egter ’n hopelose stryd teen die vallende blare wat die strate omsoom.

Sonder dié koeltebome sou die stad ’n stowwerige drukkoker gewees het, maar danksy ’n netwerk van acequias – oop slote wat gesmelte sneeu van hoog uit die Andes aflei stad toe – floreer hulle.

Hierdie watervore vorm deel van ’n komplekse watervoorsieningstelsel wat die Inkas nog ontwikkel het.

Te danke hieraan produseer die streek – wat eintlik veronderstel is om 'n woestyn te wees – sowat 80% van Argentinië se wyn. (Ek het beslis nooit in daardie twee jaar dors gely nie…)

En dís waarom die plek my gereeld aan Stellenbosch herinner het: Wingerd wat in alle rigtings tot aan die voete van hoë berge uitstrek.

Aardbewings het die stad al ’n hele paar keer laat verkrummel, en gevolglik is die geboue maar lelik hoewel prakties.

Soos in alle Argentynse nedersettings is die strate in 'n roosterpatroon rondom 'n sentrale plaza uitgelê, met kleiner plazas wat simmetries van dié middelste een uitstraal.

Dié oop pleine is oorspronklik as versamelpunte tydens aardbewings bedoel, maar deesdae is dit die vryplek vir paartjies wat nog nie hulle ouerhuise verlaat het nie – iets wat Argentyne maklik eers hier rondom die ouderdom van 35 doen!

Ek gaan nie veel meer hieroor uitbrei nie, kom ons sê maar net: Dis nogal moeilik om ’n onbesette bankie op 'n plaza te vind.

Mendoza het ’n interessante verhouding met Chili. Laasgenoemde se hoofstad, Santiago, is soos die kraai vlieg, baie nader as Argentinië se eie hoofstad, Buenos Aires.

Om die waarheid te sê, ander Argentyne beskuldig die Mendocinos gereeld daarvan dat hulle soos Chilenos klink wanneer hulle praat. En niks maak ’n Mendocino warmer onder die kraag as verwysings na Chilenos nie; hulle glo vas dat die rede waarom Mendoza besig is om sy greep te verloor op die titel as “Argentinië se skoonste stad”, te wyte is aan die Chilene wat oor die grens kom.

Daar was in die verlede al oorloë tussen die twee lande en ’n strook land van sowat 50 km breed wat aan die Chileense grens lê (dit strek oor die rug van die Andes), is tot vandag toe ’n militêre gebied.

Maar deesdae spruit die grootste renons uit ekonomiese verskille.

In die ou dae het Mendocinos Santiago toe gery vir goedkoop kruideniersware, transistorradio’s en sitkamerstelle. Tóé was Argentinië nog verreweg die rykste land in Suid-Amerika en Chili was niks meer as ’n paar plaasdorpies nie.

Maar nou is die bordjies verhang: Chilene reis nou Mendoza toe om klere te koop, in luukse hotelle te bly en stadiggebraaide Argentynse biefstuk te geniet… en tussendeur glo ook hulle tjipspakkies in acequias smyt…

Mendocinos sal jou met groot trots vertel dat hulle stad tranquilo is, en dis wel waar: Wyn, vriendskap, goeie gesinswaardes en die heilige siësta vier steeds hoogty in dié stad.

En mis ek dit? Natuurlik!

Het ek trane van blydskap gestort toe Argentinië in 2022 die Wêreldbekersokkerbyeenkoms gewen het? Beslis.

Maar kan Mendoza kers vashou by Kaapstad? Um… nie heeltemal nie. Hoewel hulle ons beslis ’n ding of twee oor die instandhouding van sypaadjies kan leer.

Nick Dall

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM