Dis Saterdagoggend op Rietvlei en ek ry saam met my ma na 'n kamp genaamd Waterkloof, waar ons stop en uitklim en kyk na die gitswart drakensbergers, blinkvet in die laatsomer.
'n Enkele gemsbok - wat eens op 'n tyd van die buurman se plaas oor die grensdraad gespring het - staan verder terug tussen die blinkblaar en soetdorings, sy maskergesig na ons gedraai.
Die wind roer die liggroen besembosse hoër op teen die hang, en die gemsbok proes en spring weg met klaterhoewe wanneer hy ons reuk vang.
My ma tel die beeste en die kalfies. "Ek kort twee kalfies," sê sy, en ons stap 'n entjie met die tweespoorpad om te soek.
My ma boer op gevoel eerder as wetenskaplik. Maar sy onthou presies hoeveel koeie in hierdie kamp dragtig was, en daarom verwag sy 'n sekere aantal kalfies. Dáár lê hulle, sien ons nou.
Sy was reg. Gelukkig met die beeste, draai ons om, klim terug in die bakkie en kruie teen die steilte af tot in die kloofpad, waar ons links draai.
Eers lê die Draaikrans na links en nadat ons deur 'n drif is, verskyn die Ooievaarkrans na regs. Twee groot swart ooievaars het in my kinderdae jaarliks hier kom broei.
Die groot stokke homp wat 'n mens tans duidelik van die pad af sien, is egter 'n hamerkopnes. My ma vertel dat sy laasjaar hier gery het saam met mysuster se twee seuntjies toe hulle sommer vier hamerkopkuikens op die kranslangs die nes gewaar het besig om hulle vlerke te strek vir vliegoefening.
Ek ry stadig na waar ons 'n plek met twee klippe gemerk het; aan die rand van die pad. 'n Paar dae vantevore (kort voor die reën) het ons gesien hoe 'n bergskilpad hier gat grawe.
Oornag het sy eiers gelê, en die volgende oggend toe ons weer kom kyk, was sy besig om die grond vas te stamp met haar agterbene, meer as 14 uur nadat sy begin het.
Nou hoop ons dat 'n likkewaan nie die eiers sal kom uitgrawe nie. (Die kans is goed, en ongelukkig neem skilpadeiers enigiets van 8 tot 15 maande om uit te broei...)
Ons ry teen Draaihoogte op, verby Gert se Fontein en sien dan die plaasopstal voor ons.
Maar ons het nog 'n draai om te ry en volg die pad na 'n kamp genaamd Rondehoek.
Ek ry stadig sodat my ma kan sien of die nuwe afvoerslote wat onlangs deur die stootskraper gemaak is, hulle werk gedoen het met die stormwater.
Dit het vroeër in die week meer as twee duim gereën, en die bergpaaie verspoel maklik.
"Daai man het regtig mooi gewerk," sê my ma. Sy verwys na die stootskraperdrywer, Babsie.
Amper aan die verste punt van die kamp stop ons en klim uit, en kyk nadie spore in die pad. Koedoe, en ribbok. Ook iets kleiners, miskien duiker. Rooijakkals.
En dan iets vreemds, gróót.
Dit kan 'n hond wees, maar sê nou dis 'n bruinhiëna? Dis iets wat ons nog nooit op die plaas gesien het nie.
Laatmiddag bel ons buurvrou, Karin, en vra of ek nie tamaties, perskes en appels wil kom haal nie. Sy hét laasweek ook mandjies vol vir ons gebring,maar haar oes was hierdie somer só goed dat daar weer vrugte aan die bome hangwat te veel is vir selfs haar eie inmaak- en droogdoeleindes.
Ek klim in die bakkie en ry uit ons jaart, verby die voerstoor, parallel met die fonteinvoor langs, oor die motorhek en dan deur die Diepdrif net duskant hulle huis.
Rondom Leliekloof se opstal lê 'n uitgebreide tuin waarvan party dele meer as 100 jaar oud is. Hier is kersies, okkerneute, moerbeie, turksvye,kwepers... Die appelkoos-oes is al verby, maar tussen tannie Karin en my ma het hulle genoeg konfyt gekook om hulle (en, natuurlik, hulle kinders, en kleinkinders,
en vriende wat kom kuier) 'n jaar of drie te hou.
Loer 'n mens in by tannie Karin se donker spens sien jy hoe glim die Consol-bottels op die rakke.
Niks hier gaan verlore nie. Elke ding uit die grond word gebruik. Elke ding wat ryp word, word geëet.
Dadelik, of later.
Oom Johann stap saam na die boord. "Hierdie is Kakamas en daai een is 'n oom Sarel," vertel tannie Karin vir my van die verskillende perskevariante.
"Maar die suigmot was al onder hulle in," sê oom Johann en ons begin pluk totdat die mandjies vol is.
Dan gaan drink ons koffie en gesels om die etenstafel van waar ek foto's sien van hulle kinders; een in Kanada, een in Phalaborwa, een in Bloemfontein.
Wanneer ek terugry na Rietvlei, stop ek en kyk hoe die son sak teen die rotsstapels wat bo die kloof uittroon.
Dieselfde son sak al vir ewig hier oor dieselfde skilpadneste, bruinhiënaspore - en suigmotte. Soms is dit goed om te onthou tyd kán stilstaan, selfs al woer die lewe elders voort.















