Emilie, my dogter, het hom eerste gesien. Hy't weggedraf terwyl ons die De Hoop-kampterrein in die Richtersveld-oorgrenspark binnegery het.
Sy ribbes het effens deur sy vel gebult. Maer en lenig.
'n Kruis tussen 'n windhond en 'n Africanis.
Nadat ons kamp opgeslaan het, probeer Emilie en Bella tevergeefs om die hond te nader.
Hy bly pal tien meter van hulle af.
Toe ek my man, Tobie, ontmoet het, was ons dit eens dat ons eendag 'n hond sou hê, 'n groot hond, 'n waghond.
Maar nou het ons 'n pragtige tuin vol tiptolle, janfrederiks, olyflysters...
Daar streep gereeld 'n fisant- of tarentaalfamilie met 'n rits kleintjies oor die gras.
Daar was selfs al 'n reier by die swembad, om nie eens te praat van die geitjies en akkedissies nie.
Dis byna soos om in 'n natuurreservaat te bly.
Ek weet troeteldiere kan net goed wees vir kinders. 'n Wetenskaplike het nou die dag juis oor die radio gesê kinders wat met troeteldiere grootword, beter immuniteit het vanweë die blootstelling aan mikroskopiese gediertetjies.
Maar sodra die kinders vir 'n hondjie begin vra, sien ek en Tobie voor ons geestesoog 'n omgedolwe tuin en verminkte fisantkuikens wat op die stoep lê.
En dan is daar die alewige geblaf vir elke ding wat beweeg, én veeartsrekeninge...
Die Oranjerivier bruis verby ons kampplek.
Ons swem in die rivier. Stap 'n ent, hou 'n bontvisvanger dop wat jag en kyk hoe 'n slanghalsvoël sy vere droogmaak, maar niks maak Emilie se bui beter nie.
Sy drentel teen die randjie van die kampplek en hou die hond dop.
Wie se hond is dit, vra sy telkens.
By een van die koeltebome is 'n paar 5 ℓ-waterbottels vasgemaak, en die hond draai gedurig daar rond.
In die aand slaap hy naby die bottels.
Ons vertel haar die hond se baas het waarskynlik die bottels daar gelos vir drinkwater en dat hy die hond binnekort gaan kom haal.
Die aand stel Tobie voor Emilie los die oorskiet-braaivleis op 'n klip naby die hond.
Die hond hou eers sy afstand, maar trippel later nader.
Die volgende middag staan Emilie haar braaitjoppie aan hom af.
Die kinders sorg saam-saam vir die hond, want net Bella kan fluit.
Hy vreet gulsig terwyl hulle toekyk.
Teen sonsondergang gaan klim ons 'n kop agter die kampterrein uit. Fyn paadjies en klipstapels dui aan ons is nie die eerste mense hier nie.
Die hond volg ons, nou nader.
Bo gekom, kou ons droëwors en sit vir hom 'n bakkie water uit. Hy kom drink eers na 'n paar minute.
Van die kop af lyk die landskap van die Richtersveld nóg meer dramaties: 'n Ruwe bergwoestyn in skakerings van bruin, rooi en swart en net die donker rivier omsoom met groen.
Wanneer die son sak, versag die landskap na grys, pers, pienk.
Die hond gaan lê. Saam sit mens en sy beste vriend stil en kyk hoe die son die landskap vergewe.
Op pad terug stap die hond heeltyd voor; so al asof hy vir ons die maklikste pad terug tent toe wil wys.
Daardie aand om die kampvuur begin dink ons aan hondename: Jack, Huberta, Sjarrap, Hendrik...
Die volgende oggend sien ons die hond het 'n gaatjie in die sand reg teen ons tent gegrawe vir slaapplek.
Ons ry vandag huis toe, en hy en Emilie kyk mekaar met hartseer oë aan.
Ta staan nou net sowat drie meter van haar af.
Ek wens ons kon hom inlaai, maar hy behoort aan die Richtersveld, nes die halfmense en die kokerbome.
Maar ná enige reis neem 'n mens iets van die landskap met jou saam.
In die Richtersveld is dit die eenvoud van die plek, die tydloosheid, die lekker van saamwees as gesin wat 'n mens bybly.
En ook iets heeltemal onverwags - ek het onthou van 'n troeteldier se onvoorwaardelike liefde.
Miskien kan ons gesin tog doen met 'n hond.


















