Reis

Richtersveld: Die berge spog met blomme

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Vir jare moes hierdie blomme se saadjies in die harde aarde lê en wag. En wag. En wag… Totdat alles saamwerk sodat hulle vir ’n maand of twee onder die son kan feesvier. Foto: Willem van der Berg
Vir jare moes hierdie blomme se saadjies in die harde aarde lê en wag. En wag. En wag… Totdat alles saamwerk sodat hulle vir ’n maand of twee onder die son kan feesvier. Foto: Willem van der Berg

Wonderwerke is skaars. Mense het te slim geraak en lieg te veel. Nes jy dink 'n wonderwerk het gebeur, kom iemand met 'n verduideliking. Of jy hoor dis 'n opgemaakte storie.

Toe Facebook verlede jaar in Julie toe is onder die Richtersveld se blomme, was ek seker 'n robot het die bohaai veroorsaak.

Ek was al 'n paar keer in die Richtersveld en dit het nog nooit eens naastenby só gelyk nie. Trouens, tydens 'n besoek in die lente die vorige jaar was dit pure woestyn; die kokerbome ineengekrimp van die dors.

Maar Sanparke het bevestig: Die blomme is eg en oorvloedig.

Hierdie bergwoestyn in die noordwestelike hoek van die land kry amper geen reën nie, selfs in "goeie" jare val hier net sowat 100mm.

Die Richtersveld-park is nie vol wild nie. Maar dit is ook nie hoekom jy hiernatoe kom nie. Foto: Willem van der Berg
Die Richtersveld-park is nie vol wild nie. Maar dit is ook nie hoekom jy hiernatoe kom nie. Foto: Willem van der Berg

Verlede jaar het hier vroegwinter rondom 200mm geval! Pieter van Wyk, 'n veldwagter en botanis in die park, het in die omgewing grootgeword. Hy vertel hy het in 2006 laas soveel reën gesien.

"Toe skryf ek matriekeksamen en kan nie veld toe gaan nie!"

Reën bring egter nie altyd blomme nie. Die koms van die reën, die temperatuur en die wind moet saamwerk vir massas saadjies om te ontkiem. Die saadjies kan lang jare in die grond lê en wag vir die perfekte toestande. En dit het glo in die 1970's laas gebeur.

"Die Richtersveld is nie bekend as 'n blom-paradys nie," verduidelik Lucius Moolman, streeksbestuurder van Sanparke in die Noord-Kaap.

"Maar as dit die slag blom, voel ons dis net regverdig dat besoekers soveel moontlik van die skouspel sien en dis die dat ons die Armanshoekvallei ook oopgestel het. Dit is 'n belewenis wat jy waarskynlik net een keer in jou lewe sal ervaar."

Japie Kruger besig om 'n halfmens te word. Foto: Willem van der Berg
Japie Kruger besig om 'n halfmens te word. Foto: Willem van der Berg

Lucius had gelyk. Ek skuif 'n paar spertye uit en pak die kampgoed in die bakkie. My vriend Japie Kruger klim ook in, want ooggetuies is belangrik wanneer jy stories oor wonderwerke vertel. Ons vertrek vroegoggend uit Bloemfontein.

Vyf dae in die Richtersveld is altyd opwindend, maar hierdie keer gaan anders wees.

Dis Augustus en hóógblomtyd, maar langs die N7 tussen Springbok die dorpie Steinkopf is die kolletjies kleur nog skraps.

Die wye rooi vlakte naby die dorpie Kuboes, waar daar die laaste paar jaar net die stokkerige geraamtes van soutslaaie gestaan het, het 'n groen see geword.

"Ek hoop nie ons het nou al die pad vir dié klas blomme gery nie," mompel ek onderlangs.

Anderkant Steinkopf draai ons links op die R382 na Port Nolloth. Hier's dit nou! Alkant van die pad spoel groen, wit, oranje, pers en geel teen die heuwels en rante af tot in bont mere. En dit hou aan, verby die dorpie Lekkersing, die Wildeperderante, Tierhoek en Ploegberg.

Die wye rooi vlakte naby die dorpie Kuboes, waar daar die laaste paar jaar net die stokkerige geraamtes van soutslaaie gestaan het, het 'n groen see geword.

In die namiddag daag ek en Japie by die ingangshek van die park op.

Jy sou dink dat hierdie uitsonderlike landskappe die mees skeptiese hart teenoor die Richtersveld sal versag. Maar in die ontvangskantoor by Sendelingsdrift staan 'n vrou wie se hare deurmekaar geskud is op die grondpaaie.

"Menere, welkom by die Richtersveld se wonderwerk!" groet William Joseph.

Dis dus so, ons gaan dit sien?

"Wel, julle gaan sien, maar of julle sal glo, kan ek nie sê nie," preek William in die stofpad.

"Gaan kyk. As julle uitkom, sal ons weet wie is bekeer."

Jy sou dink dat hierdie uitsonderlike landskappe die mees skeptiese hart teenoor die Richtersveld sal versag. Maar in die ontvangskantoor by Sendelingsdrift staan 'n vrou wie se hare deurmekaar geskud is op die grondpaaie.

"Nee, hierdie paaie maak my gedaan," sê sy en vra dan hoe ver is dit nog na De Hoop toe.

"Nog 42km, Mevrou."

Ja, sê Mevrou, maar hoe lank gaan dit neem?

"So drie ure, Mevrou."

Mevrou gee 'n paar vloeke.

"Die blomme is baie mooi soontoe, Mevrou."

Blomme gaan nie die arme vrou beter laat voel nie. Sy wil huis toe. Maar haar man sit in die Range Rover en sien uit na die kronkelroetes wat wag.

Jy mag dalk dink dat dié net 'n interessante vetplant is. Maar dis ook mens. Die storie loop dat dié halfmensplante oorblyfsels is van 'n groep Namas wat uit die suide van Namibië na die Richtersveld moes vlug ná bloedige konflik met ander stamme. Toe hulle terugkyk na hulle geliefde land in die noorde, het die gode hulle in halfmense verander. Die Namas noem hulle noordemannetjies. Foto: Willem van der Berg
Jy mag dalk dink dat dié net 'n interessante vetplant is. Maar dis ook mens. Die storie loop dat dié halfmensplante oorblyfsels is van 'n groep Namas wat uit die suide van Namibië na die Richtersveld moes vlug ná bloedige konflik met ander stamme. Toe hulle terugkyk na hulle geliefde land in die noorde, het die gode hulle in halfmense verander. Die Namas noem hulle noordemannetjies. Foto: Willem van der Berg

Ek en Japie stoot aan na die Kokerboomkloof-kampplek heel aan die oostekant van die park. Op die Halfmenspas hou ons stil om na dié skaars plante te kyk. Nog skaarser om te kry is afdrukke van die Here se hande.

In die Richtersveld is een, want dit is Sy gunsteling-plek. Met Sy regterhand het Hy aan 'n rots in die Kouams se droë loop gevat. En dié rots bewaar dit.

Penkop- en Akkedispas klouter behoorlik teen die skurwe berghange uit. Dit gaan stadig hier, die smal paadjie styg skud-skud boontoe.

By die Kokerboomkloof kan jy heeldag tussen die wonderlike rotsformasies en kokerbome rondstap. Gaan soek na hierdie ongelooflike witgatboompie wat aan die suidekant van Die Toon-rotsformasie vasklou. Foto: Willem van der Berg
By die Kokerboomkloof kan jy heeldag tussen die wonderlike rotsformasies en kokerbome rondstap. Gaan soek na hierdie ongelooflike witgatboompie wat aan die suidekant van Die Toon-rotsformasie vasklou. Foto: Willem van der Berg

Witgat- en botterbomme staan kniediep tussen die blomme rond terwyl kokerbome van die hoogtes af waghou.

Die Koeroegabvlakte slaan jou asem en woorde weg. 'n Paar maande gelede was hier net 'n rooi kaalte en nou lyk dit asof daar vir ewig blomme sal wees.

Ná die paar dae in die Richtersveld het ons net geel gesien wanneer ons ons oë toegemaak het. Foto: Willem van der Berg
Ná die paar dae in die Richtersveld het ons net geel gesien wanneer ons ons oë toegemaak het. Foto: Willem van der Berg

Dit is onmoontlik om die belewenis van 'n wonderwerk oor te vertel. Want jy kan dit self nie verstaan nie. En hoe verduidelik 'n mens dat jy nét blomme sien?

Alles het blomme geword. Tot die oergebergtes met hulle skerp rûe is nou sagte wit- en blousporries. Die harde aarde is heldergeel asters. Amper net die tweespoorpaadjie het kaal gebly.

Die uitsig van die bokant van die Domoroghpas af is altyd fantasties. Maar in Augustus 2023 jaar was dit vir 'n rukkie amper te mooi om te glo. Foto: Willem van der Berg
Die uitsig van die bokant van die Domoroghpas af is altyd fantasties. Maar in Augustus 2023 jaar was dit vir 'n rukkie amper te mooi om te glo. Foto: Willem van der Berg

Die Domoroghpas sny deur al die kleure wat bestaan en nog uitgedink moet word. Ons kyk en kyk en wil nog kyk, maar die son gaan lê agter die Kodaspiek. Die laaste uur na Kokerboomkloof toe ry ons in die skemer en later donkerte.

Om die vuur by ons kampplek is my en Japie se kele droog van die aantal kere wat ons moes gil: "Kyk hoe mooi!", "Absolute malligheid!" of: "Dit maak nie sin nie!" En dis maar ons eerste dag hier.

Kokerboomkloof is een van die mooiste kampplekke waar jy ooit sal vuurmaak. Die staanplekke is almal teenaan indrukwekkende rotse. Foto: Willem van der Berg
Kokerboomkloof is een van die mooiste kampplekke waar jy ooit sal vuurmaak. Die staanplekke is almal teenaan indrukwekkende rotse. Foto: Willem van der Berg

Die volgende oggend lê die Richtersveld onder 'n swaar miskombers. Dis ook mooi, maar dit sal 'n gatslag wees as die blomme heeldag insluimer in die Armanshoekvallei.

Dié vallei aan die onderkant van die Vandersterberg, in die suidweste van die park, is gewoonlik gesluit vir lede van die publiek juis om die sensitiewe veld te beskerm.

Langs die pad onder die uitgestrekte arms van 'n basterkokerboom, ook genoem die reuse-kokerboom, maak ons koffie. Dié koker ís hoog. Hy kan sien wat aankom. In die koue oggendluggie sê hy, wees rustig, sit op 'n klip, die son kom.

En dit gebeur net so. Die dag begin blom soos 'n woestynroos.

Die Richtersveld bly 'n klipperige bergwoestyn en selfs in die mooiste blommejaar is daar dele waar net die taaiste woestynroos kan vasklou. Foto: Willem van der Berg
Die Richtersveld bly 'n klipperige bergwoestyn en selfs in die mooiste blommejaar is daar dele waar net die taaiste woestynroos kan vasklou. Foto: Willem van der Berg

Ons ry terug waarlangs ons gisteraand nie meer kon sien nie tot by die afdraai na Armanshoek, reg onder die Domoroghpas.

'n Vrou spring uit 'n blou Fortuner. Moeilikheid?

Nee, darem nie, sê Sharon Gounder van Johannesburg.

"Kan ons saam met julle die vallei inry. Ons kar is nie 4x4 nie. Gister het ons probeer en lank in die sand vasgesit. En ons moet vandag nog by Augrabies uitkom. 'n Mens kan nie weggaan sonder om Armanshoek te sien nie."

Sharon se oë smeek. Ek stel voor hulle volg ons en ons kyk hoe dinge vorder.

Na baie moeite, 'n vassittery en gewag het Sharon Gounder en Joseph Nomdoe uiteindelik in die Armanshoekvallei uitgekom wat net vir twee weke oopgestel was. Die uitsigte hier het trane, glimlagte en verwondering tegelyk laat gebeur. Foto: Willem van der Berg
Na baie moeite, 'n vassittery en gewag het Sharon Gounder en Joseph Nomdoe uiteindelik in die Armanshoekvallei uitgekom wat net vir twee weke oopgestel was. Die uitsigte hier het trane, glimlagte en verwondering tegelyk laat gebeur. Foto: Willem van der Berg

Joseph Nomdoe lyk nie baie ingenome met die plan nie, maar hulle val agter ons in. Die twee voertuie beweeg al dieper tussen die Paradys- en Vandersterberg in.

Waar die roete effens rof raak, maak ons seker Joseph en sy Fortuner kom ongeskonde deur. Hulle doen dit met al meer gemak en Joseph se glimlag raak al breër.

Om die Armanshoekvallei te beskryf voel na 'n onbegonne taak. Ek weet nie watter woorde genoeg gaan sê nie.

Ons staan daar, tussen berge wat by was met die geboorte van die aarde. Berge wat gesien het hoe die heel eerste kokerboom opkom. Elke luiperd, klipspringer, bleeksingvalk en pofadder hier geken het. En wat vir die eerste keer in 'n baie lang tyd weer derduisende blomme in die windjie voel wieg.

"Ek is so dankbaar dat ons dit kan sien," sê Sharon. Botterblomme blink in die trane in haar oë.

"Ek is bly jy het dié manne voorgekeer en my gedwing om te kom," sê Joseph en gee vir Sharon 'n drukkie.

Dis die ding met wonderwerke, jy moet ook jou deel doen.

Ná vyf dae is my en Japie se skoene geel van die stuifmeel.

Ons is van De Hoop af op pad Sendelingsdrift toe om die park te verlaat. In die Koeroegabvlakte se geel wei 'n troppie skape en bokke. Pieter de Wet en sy honde, Geweer, Pistool, Gevaar en Toekoenaas, is die oppassers hier.

Geweer, Pistool en Gevaar het rowwe name, maar is drie vriendelike skaapoppassers. Foto: Willem van der Berg
Geweer, Pistool en Gevaar het rowwe name, maar is drie vriendelike skaapoppassers. Foto: Willem van der Berg

Die mense van die Richtersveld trek met hulle diere agter somer- en winterweiding aan en mag ook dele van die park se veld gebruik wanneer hier genoeg kos is.

"Die eerste paar dae het die skape hulle maer gehardloop agter die blomme aan. Nou het hulle darem gesien dit is meer as wat hulle kan vreet en tot bedaring gekom," vertel Pieter.

"Die plante is so vol sop, die diere wil amper nie eens by die krippe kom drink nie. Ek moet hulle aanjaag water toe dat ek en die honde darem daar kan uitkom."

By die hek staan William wraggies weer.

"Hoe lyk dit, Menere, glo julle nou?"

Ons glo. Op die Richtersveld kan 'n mens vertrou en soms, net soms, gebeur hier 'n wonderwerk.

BLY HIER

Sendelingsdrift

De Hoop is 'n lieflike kampplek teen die Oranjerivier met genoeg spasie en lekker swemplek. Foto: Willem van der Berg
De Hoop is 'n lieflike kampplek teen die Oranjerivier met genoeg spasie en lekker swemplek. Foto: Willem van der Berg

Jy moet eers by die ruskamp se ontvangs aanmeld voordat jy verder die park kan inry. Hier is 'n kampterrein en tien self-sorgchalets met lugversorging. Dis die "bedrywigste" blyplek in die park, maar 'n goeie oornagplek as jy laat by die park aankom. Die ander ruskampies is almal 'n paar uur se ry van hier af.

Potjiespram (18 staanplekke), De Hoop (12 staanplekke) en Richtersberg (6 staanplekke) is die drie kampplekke teen die Oranjerivier. Hulle het ablusies met koue water, maar geen krag nie.

Potjiespram is 10km van Sendelingsdrift - blouapies raak soms lastig hier. De Hoop (42km van Sendelingsdrift) is die gewildste kamp, met verskeie mooi staanplekke op die oewer. Richtersberg is 8km stroomop van De Hoop, en hier is gewoonlik min mense.

Kokerboomkloof

Hierdie is voorwaar een van die mooiste en mees afgeleë kampplekke (8 staanplekke) in die land. Elke kampplek het 'n spoeltoilet en klein opwasarea met koue water. Behalwe vir al die kokerbome kan jy tussen die rante en rotsformasies rondstap.

Klim die rant uit waarop Die Toon-rotsformasie staan en maak koffie teen sonopkoms.\

Tatasberg

Tatasberg. Foto: Willem van der Berg
Tatasberg. Foto: Willem van der Berg

Hier's drie basiese selfsorghuisies met warm water, 'n gasstofie en gas-yskas teen die rivier. Elkeen het 'n dek met 'n braaiplek, en die uitsig oor die rivier sal jou heeldag besig hou. En as dit te warm raak, kan jy induik.

Gannakouriep

Gannakouriep. Foto: Willem van der Berg
Gannakouriep. Foto: Willem van der Berg

Dis in die suide van die park, tussen die Vanderster-, Oemsberg en Claimpiek. Hier's ook drie basiese selfsorghuisies met warm water, 'n gasstofie en gas-yskas. Dis lieflik stil en 'n gawe alternatief as jy nie wil kamp nie.

Koste Kamp: vanaf R291p.n. (maksimum ses mense en twee voertuie). Chalets: vanaf R1131p.n. (slaapplek vir twee).

WEET VOOR JY WAAI

Teen sowat 6000km² lê die |Ai|Ai/Richtersveld-oorgrenspark wyd. Die Sendelingsdrift-ruskamp is 250km van Springbok af en meer as die helfte daarvan is grondpad.

Dis dus nie 'n park wat jy net vir 'n dag kan besoek nie. Bly ten minste twee of drie aande. Beplan jou reis so dat jy die eerste aand by De Hoop (of Tatasberg as jy nie wil kamp nie) kan oorslaap.

Van hier af kan jy na Kokerboomkloof (of Gannakouriep) toe ry. Van daar kan jy met Helskloofpas die park verlaat en hoef jy nie weer Sendelingsdrift om te ry nie.

Moet ook nie van die groter Richtersveld-wêrelderfenisgebied wat aan die park grens, vergeet nie. Dit sluit die gemeenskappe van Kuboes, Eksteenfontein en Lekkersing in. In dié omgewing is wonderlike, wilde kampplekke (jy moet selfversorgend wees).

  • Daar is inligtingskantore op Kuboes en Eksteenfontein. Kontak Abé Koopman op 065 590 9726 vir inligting oor kampplekke in die erfenisgebied. Loer ook op richtersveldwhs.org.

Brandstof en winkels.

Hier is 'n vulstasie by Sendelingsdrift. Die winkeltjie hou net die basiese produkte aan; bring eerder alles saam. Die naaste dorp is Alexanderbaai.

Het ek 'n 4x4 nodig?

Jy sal ver kom met 'n 2x4-voertuig met goeie grondvryhoogte, maar daar is plekke waar so 'n voertuig gaan sukkel. Die sanderige dele teen die rivier, veral tussen De Hoop en Richtersberg, kan jou pootjie. En die meeste van die passe het 'n paar rowwe, klipperige en steil dele.

Helskloofpas is die rofste van die lot en die 14km kan jou maklik 'n uur besig hou. By ontvangs kry jy 'n kaart van die park en daar sal die personeel ook vir jou kan sê waar jy eerder moet wegbly. Al die park se roetes is op Tracks4Africa - die selfoontoepassing werk perfek.

Onthou water!

Die water by die kampe kom uit die rivier uit. Bring jou eie drinkwater as jy behandelde water verkies.

Nóg blomme.

Die kokerbome wat in Mei en Junie blom, is ook 'n mooi gesig.

Koste Bewaringstarief R78p.p. en R39 vir kinders. Gratis met 'n Wild Card.

Kontak 027 831 1506 (Sendelingsdrift) | 012 428 9111 (besprekings) | sanparks.org

Bly op die hoogte

Sluit aan by die Sanparks-|Ai|Ais/Richtersveld-oorgrens-park-groep op Facebook om op die hoogte te bly van die blomopkoms.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM