Dís dan hoe ek aan my einde kom - vermorsel deur 'n renoster. Skaars vyftien minute gelede het ek nog heel vredig deur 'n droë rivierloop gestap, en hier hol ek nou vir my lewe.
Dis 2014, en ek is 16 jaar oud. Ons groep stap al die afgelope twee dae deur die doringveld van Suid-Afrika se oudste wildreservaat en ek geniet dit gate uit.
Ek is hier saam met my ouers, twee familievriende en 'n paar gidse wat ons kort-kort laat stop om op 'n voëlroep of dierespoor in die sand te let. Ons stap in gelid met die een gids aan die voorpunt en die ander een heel agter - albei met 'n geweer oor die skouer.
Dis net 'n voorsorgmaatreël, sê hulle. Slegs as dit régtig nodig raak, sal hulle 'n skoot op 'n dier afvuur. Maar nooit op 'n renoster nie, dié bedreigde spesie is eenvoudig te kosbaar om te dood.
Ons sou maar net die naaste boom móét vind. Gelukkig het ons tot dusver net rooibokke, 'n paar sebras en 'n bosvark teëgekom.
Teen die middag verlaat ons die rivierloop en klim die oewer uit. Ewe skielik verskyn twee witrenosters op die oorkantste oewer - 'n koei en haar kalf. Hulle drentel in ons rigting, maar is - danksy die windrigting en hulle swak sig - nog salig onbewus van ons nabyheid.
Die gidse lei ons agter 'n plaat riete in en beduie ons moet plat sit. Ons wag met ingehoue asem. Die renosters kom ál nader. Ek kan hulle pote se plofgeluide hoor. Twintig meter.
Die kalfie gaan staan elke nou en dan om 'n bek vol gras te pluk. Sy ma wag geduldig. Ons ook.Met die renosters uiteindelik 'n goeie ent verder, fluister die gidse dat ons maar kan opstaan.
Interessante klippe en miskruiers trek ons aandag en die wit reuse is gou vergete. Maar intussen het die wind effens gedraai en dra ons reuk nou mooitjies in hulle rigting. En die kalfie raak rusteloos…
Die dag toe ons stapsafari begin het, het die gidse gewaarsku dat ons nie hulle aandag met 'n uitroep of ander tipiese mens-geluid moet probeer trek nie - dit vang ook die wild se aandag. Nee, klik eerder met jou tong.
Dié geluid is meer... natuurlik. Ek is skynbaar die enigste een in die groep wat sien dat die kalfie (nou sowat 40m weg) onrustig lyk, en ek klik my tong vir 'n vale, maar geen gids reageer nie.
En dis tóé dat die kalf storm. Hoewel hy nie naastenby so intimiderend soos 'n volwasse renoster lyk nie, het hy steeds 'n taamlike humeur en gewig om mee rekening te hou. Om dinge te vererger, kom Ma - met haar volle 2t en 1m lange horing! - ook in volle vaart aan, en alles gebeur ewe skielik gelyk.
Die hoofgids spring na regs uit die pad, my pa na links tot binne-in 'n boskasie.
Die agterste gids skreeu: "Op! Op! Op!" en ons laat spaander in alle windrigtings.
My ma is so oorstuur sy dag die gids bedoel sy moet teen iets uitklim en klouter toe sommer teen 'n boompie uit! Maar sy bedoel natuurlik ons moet teen die helling uithol.
Ek ploeg tussen die riete neer en skraap my handpalms stukkend, maar spring weer op en hardloop. Genadiglik maak ons almal dit betyds tot bo.
Die renosters is weg, en ons veilig. My ouers tussen die bosse ook. Die groepie bondel saam. Namate die adrenalien wegsyfer, begin ons bewe en sweet. Ek kan skaars regop bly, my knieë wil net knak.
Maar saam met die skok voel ek ook 'n high - die besef dat ek nog lééf! Dat ons brose lywe die stormloop van twee renosters kon pypkan.
Dan tref dit my: Sonder die beskerming van 'n voertuig is ons ontbloot hier in die wildernis. Ons is ook net lywe, klein en kwesbaar - ook net diere.
Iets wat die wild hier in Hluhluwe-Imfolozi elke dag alte goed besef. De laaste senuwee in my lyf was op aandag. My sintuie wakker, en my vel so warm soos 'n vlam.
My hart het aanhou hamer "lewe, lewe, lewe" en al manier hoe ek aan al dié lewenskrag kon uiting gee, was met 'n gegiggel van pure ongeloof.





















