Kaapse diamant blink gepoets

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Spoghotel in Kaapstad het weer sy deure heropen ná 'n uitgebreide opknapping. En na 'n besoek meen Willemien Brümmer die pandemie is nou 'n lank vergete babelaas.

Southern Sun The Cullinan het onlangs weer sy deure heropen ná 'n uitgebreide opknapping. Die beroemde voorhal het nou 'n ligter, moderner palet.
Southern Sun The Cullinan het onlangs weer sy deure heropen ná 'n uitgebreide opknapping. Die beroemde voorhal het nou 'n ligter, moderner palet.

As jy tas-in-die-hand in die imposante voorhal van The Cullinan in Kaapstad opdaag, weet jy oombliklik die pandemie is 'n nagmerrie uit vervloë dae.

'n Elegante heer in 'n vlootblou pak blits jou en jou bagasie na die 12de vloer, waar 'n slim-TV jou welkom heet en verseker: "Please let us know if we can assist you in any way".

'n Uitstalrakkie voor die spieël lok jou nader met miniatuur-fyngebak en kanapees en doer onder lê die Moederstad uitgestrek soos 'n sluimerende bruid.

Vergete is die dae toe gestyfde tafeldoeke vir elektrostatiese steriliseerders moes plek maak - of toe die personeel hulle drie keer per dag moes laat toets vir Covid-19 terwyl die Springbokke hier tuisgegaan het.

Sterre soos Paul McCartney en Bear Grylls (hulle was albei al gaste by The Cullinan) kan nou weer maskerloos en ongehinderd in die suites kerjakker - en die Bokke kan in en uit by die gimnasium en span­kamer (dit gebeur ook gereeld).

Die Arabella Hotel, Gholf en Spa-oord is geleë in die Kogelberg-biosfeer, een van die wêreld se rykste blomme-reservate. Foto's: SOUTHERN SUN
Die Arabella Hotel, Gholf en Spa-oord is geleë in die Kogelberg-biosfeer, een van die wêreld se rykste blomme-reservate. Foto's: SOUTHERN SUN

Ná 'n uitgebreide opknapping van byna R200 miljoen, hoor jy weer die beskaafde roesemoes van Amerikaans, Duits en Frans tussen die marmer-suile - en Southern Sun se bemarkingsmasjien is in volle gang. Smaakmakers en plaaslike TV-persoonlikhede neem selfies langs die verhitte swembad en 'n groep joernaliste lê weg aan gebraaide sosaties en sagtedop-krap sodat die hotel kan spog met sy nuwe ingeboude braai en pizza-oond.

Ek is deel van die media-groep wat genooi is op 'n blitstoer van 'n dag en 'n nag van die Southern Sun-groep se twee kroonjuwele in die Wes-Kaap - The Cullinan op die voorstoep van die Waterfront en die Arabella Hotel Gholf en Spa-oord in die Kogelberg-biosfeer aan die walle van die Botrivier-strandmeer buite Kleinmond.

Jacques Moolman, hoofbestuurder van The Cullinan, verseker ons dit gaan weer dooddollies met die luukse hotelbedryf - selfs in die hartjie van die Kaapse winter. "Ons was die afgelope paar dae weer tjok-en-blok en gisteraand was ons selfs 'n bietjie bekommerd, want ons het twee kamers te veel bespreek, maar alles het toe gelukkig mooi uitgewerk," sê hy met 'n sjarmante glimlag.

Vloer vir vroue

'n Standaard-kamer in The Cullinan, met sy uitsig oor die wolkekrabbers en motors van die Moederstad wat geluidloos aan jou voete verby-kruie, kan wissel tussen R2 500 en R12 500, afhangende van wanneer dit is en hoe lank voor die tyd jy bespreek.

Een van die vier uitvoerende suites hier kan jou tot R22 000 per nag uit die sak jaag - maar dan kan jy reken op weelderige whiskey in jou private sitkamer en selfs blinkgepoetste skoene.

Dié hotel het ook nou vir die eerste keer ná die opknappings sy sewende vloer net aan vroue wat alleen reis, gewei. "Ons het al die verskillende gaste wat ons besoek, ondersoek en gekyk na waarvan hulle sal hou en waarvan hulle nie sal hou nie," sê Moolman.

"Ons het spesifiek vroue wat alleen reis geïdentifiseer en vir hulle is die persepsie van ekstra veiligheid en gemak belangrik. So, daar is 'n klein blommetjie en 'n lugstrooier in die kamer - en baie van die vroue hou daarvan dat daar nie mans op hul vloer is nie."

Benewens die opknapping van die kamers, met hul slim-TV's, individuele Wi-Fi-toegangspunte en verligte spieëls, is veral die hotel se infrastruktuur verbeter, insluitende nuwe hittepompe, sentrale lugversorgings-eenhede en warmwatertenks. "Ons het elke liewe waterpyp in die hotel vervang," sê Moolman.

"Die hoofrede was omdat die pype begin lek het en sodat ons meer energie-doeltreffend kan wees. Die hittepompe maak die water vinniger warm sodat ons die standaarde hoog kan hou vir al ons gaste. Ons oogmerk met die opknapping was om ons erfenis te eer en tegelykertyd die toekoms te omhels. Ons glo ons het 'n ruimte geskep wat tydlose skoonheid sowel as eietydse gemak bied."

Dié imposante klassieke reus oorkant die Waterfront staan volgens hom bekend as die "vieringshotel" omdat die oorspronklike eienaar dit gebou het om vir sy vrou dankie te sê. Dit is ook hoekom die mitiese held in die ingangsportaal 'n edelgesteente aan sy rondborstige vroulike metgesel gee. Ek neem aan dis die wêreld se grootste diamant wat hy in sy hand hou. Die een wat nou in die Britse koning se septer pryk. "Die simboliek agter die hotel is kom vier saam met my. Hier is vir jou 'n diamant," verduidelik Moolman.

Die "Laughing Waters"-swembaddens by die Arabella.
Die "Laughing Waters"-swembaddens by die Arabella.

Fynkos en reën

Die volgende oggend vertrek ons per bus na die Arabella, waar ons getrakteer word op vonkelwyn en versnaperinge in die presidensiële suite. Indien hy saamgenooi was, sou my negejarige seun egter waar­skynlik meer beïndruk gewees het met die sogenaamde premium-suite, wat spog met 'n badkamer wat hom vir 'n dag lank sou vermaak: Die bad het naamlik 'n uitsig oor die lagune . . . en 'n waterdigte TV. Om nie eens te praat van die swembad - bekend as "The Laughing Waters", wat in die somermaande vol jillende, plassende kinders is nie.

Ná 'n middagete van heerlike fynkos soos mossels in 'n suurlemoen-en-dille-sous en calamari in 'n ponzu-mayonnaise by 'n langtafel in die Jamani-restaurant, is dit tyd vir die Arabella-spa. Ons groep van meestal vroue word ingedeel in klompies van vier en ons word vriendelik versoek om ons baaikostuums aan te trek.

Buite sif 'n ligte reën oor die lagune. Ons is sat van die Kaap se knaende koue en dus nie oorgretig om van jasse en truie ontslae te raak nie. Nietemin tree ons aan, gehul in wit japonne.

Ons skop af met die Rhassoul-behandeling - 'n eeue-oue Turkse bad-ritueel, waar jy jouself eers afskuur met 'n masker van alge, waarna jy vir 20 minute in 'n louwarm stoomkamer sit. In die laaste minute sif die reën soos 'n toegif vanuit die plafon om die modder af te spoel. Die TV-ster vlug uit die stoomkamer terwyl die res van ons stoïsyns wag op die reinigende water.

Hierna word ons afwisselend in koue water of 'n louwarm stoomkamer of sauna ingejaag - óf ons moet ons voete eers in wat voel soos kokende warm water dompel en daarna in byna Arktiese yswater.

Die grand finale is 'n kring van waterdigte beddens waar ons lê en wag vir die hemelsluise bo ons koppe en rûe sonder dat ons weet of dit warm of koud gaan wees. Die skoonheidsterapeut wat die knoppies druk en die bevele gee, put duidelik 'n behae uit ons vrees vir verdere koue.

Ons wag vir die mens­gemaakte reën, wat soos alles teen 'n stewige prys kom - 150 minute van die African Rainforest & Rhassoul (darem met 'n kort rug-en-nek-massering) sal jou R4 500 uit die sak jaag. Gelukkig is die water meestal warm en vir die salige uur of so in die spa vergeet jy van jou sorge.

Heel laaste pamperlang ons onsself met room en sing lofsange oor hoe sag en blosend ons velle voel. Een van die ouer joernaliste bely wel sy het geweier om aan verdere koue blootgestel te word. Nog een of twee kla dat die sauna en stoomkamer 'n bietjie warmer kon gewees het.

Die hoogtepunt is die vonkelwyn en kaaskoek agterna - 'n smelt-lekker happie waaroor daar na bewering al vuisgevegte uitgebreek het.

Ek sal wéér Kleinmond toe ry net vir die kaaskoek. Die pakket hier kom nou wel teen 'n vyfster-prys, maar die strandmeer in een van die wêreld se rykste blomme-reservate saam met dié romerige delikatesse is beslis 'n wen-wen-kombinasie.

  • Brümmer is 'n redaksielid van Netwerk24 en was 'n gas van Southern Sun.

SPELETJIES VANDAG

CTA