Die toekoms van twee van die bekendste bakens aan die Durbanse strandfront, die Elangeni- en Maharani-hotel, lê in die weegskaal wanneer Southern Sun se huurkontrak verstryk. Nog sewe hotelle op die strandfront se huurkontrakte word heroorweeg deur die grondeienaar, die eThekwini-metroraad.
Die twee Southern Sun-hotelle, jare al die kroonjuwele van die stad se goue myl, is gebou op grond wat aan die stadsraad behoort. Volgens die ooreenkoms gaan die persele met al die verbeteringe terug na die metroraad wanneer die kontrak aan die einde van 2025 verstryk.
Die eThekwini-metroraad het op 10 November 'n tender uitgereik vir nuwe huurkontrakte vir die Elangeni, die Maharani en sewe ander hotelle en dit sluit op 8 Maart aanstaande jaar.
Southern Sun sê hulle bestudeer nog die dokument om te besluit of hulle weer hul naam in die hoed gaan gooi.
Hoewel Durban dié vakansie 'n miljoen besoekers verwag, sê die Durbanse Kamer van Handel en Nywerheid die huidige toestand van verval in die stad voorspel niks goeds vir die toekoms van sake-ondernemings in die stad nie.
Die Durban Funworld-pretpark, ook op raadsgrond op die strandfront, het in Mei vanjaar gesluit. Volgens die eienaar, Nic Steyn, het besoekers eenvoudig weggebly weens die verval in die omgewing, met die gevolg dat dit nie meer volhoubaar bedryf kon word nie.
Die perseel is steeds leeg.
Volgens André Beetge, DA-lid van die uitvoerende komitee van eThekwini, hoop die metroraad om internasionale vier- en vyfsterhotelle na die strandfront te lok as deel van 'n omvattende vernuwingsprojek. Die onafhanklike toerisme-adviseur Gillian Saunders twyfel of dit sal werk, want "internasionale hotelgroepe vereis 'n skoon strand".
Wanneer die kontrakte verstryk, kry die metroraad prakties die geboue verniet in ruil vir die huur van die grond oor die tydperk.
Die DA is bekommerd dat die ANC "behep" kan raak met die vernuwingsprojek. Goed gevestigde sake-ondernemings het al landwyd ten gronde gegaan onder "ANC-geaffilieerde bestuur of eienaarskap", sê Beetge.
Volgens Southern Sun het die metroraad in die 1960's die grond waarop die Elangeni- en Maharani-hotel gebou is, beskikbaar gestel vir verhuring.
Southern Sun het in die 1970's die huurkontrak vir die Elangeni-perseel bekom en die hotel op eie onkoste gebou.
In die 1980's het die Tollman-familie die Maharani gebou, maar in geldelike moeilikheid beland, waarna Southern Sun die huurkontrak oorgeneem en die bouwerk voltooi het.
Wanneer die kontrakte verstryk, kry die metroraad prakties die geboue verniet in ruil vir die huur van die grond oor die tydperk, volgens Southern Sun. Die hotelgroep is bekommerd dat die metroraad die waarde van wat hulle het om te verhuur, oorskat. "Hulle kry die grond en struktuur, nie 'n lopende saak nie."
Southern Sun mag die toerusting en meubels aan die einde van die huurtermyn verwyder.
Saunders sê Southern Sun, wat die land se grootste hotelgroep is met nog eiendom op die strandfront, was 'n goeie huurder wat 'n groot rol gespeel het op die strandfront. Die hotelgroep sê self hy het die afgelope 12 jaar byna R500 miljoen bestee om verskeie hotelle op die strandfront op te knap. Southern Sun besit ook die Garden Court Marine Parade South Beach- en die Edward-hotel op hul eie grond en die Garden Court Marine Parade op grond wat hulle van iemand anders huur.
Southern Sun sê die agteruitgang van die strandfront het vererger sedert die Covid-19-pandemie.
"Dit kan reggeruk word as die metroraad gereeld skoonmaak en instandhouding doen en munisipale verordeninge afdwing teen goed soos drink in die openbaar. Veiligheid kan ook verbeter word as die wil daar is. Dis nie 'n groot gebied nie."
Die metroraad moet regtens korrek optree met die huurkontrakte en die proses wat hulle tans volg, is korrek, sê Southern Sun. "Die risiko is dat hulle dit verbrou deur onrealistiese verwagtinge of toelaat dat mense wat nie daarvoor gekwalifiseer is nie, die eiendom beset en nie die beloftes in hul tenders nakom nie. Dan sal die strandfront sterf.
"Dit is 'n baie belangrike tyd in die geskiedenis van Durban en die besluite wat nou geneem word, gaan in die toekoms 'n geweldige impak op die stad hê."
DA sê in mosie raad moet ontbind
Volgens die DA is die toestand in eThekwini so beroerd dat die plaaslike koukus met die steun van die provinsiale strukture 'n mosie ingedien het om die raad te laat ontbind en 'n verkiesing in al die wyke te hou, sodat 'n nuwe raad verkies kan word.
Die party sê die verskaffing van water en elektrisiteit is nou die uitsondering met meer as een miljoen inwoners wat gedurig deurloop onder onderbrekings wat soms weke duur.
Soos al die munisipaliteite in KwaZulu-Natal word eThekwini regeer deur 'n uitvoerende komitee waarin al die partye in die raad verteenwoordiging het. Die DA het drie setels en die IVP een, maar die ANC, NFP en EFF oorheers die komitee met sewe lede.
Die mosie sal na verwagting op 10 Desember voor die raad dien, maar dis te betwyfel of die DA die tweederdemeerderheid steun sal kry wat nodig is om dit te laat slaag.




















