Rotspoele, stilte en geen selfoonsein... As jy smag na só 'n wegbreeknaweek dan is Beaverlac net die plek.
Wat kan ek verwag?
By Beaverlac is dinge basies. Net party van die ablusieblokke het warm water en hier is nie elektrisiteit nie - dus kan jy agteroorsit sonder die geblêr van musiek óf Justin Bieber op jou tienerdogter se selfoon. (Hier's nie ontvangs nie, maar as sy dan nou haar kêrel móét bel, is hier wel 'n tiekieboks.)
Om die waarheid te sê, musiek en 'n rumoer word glad nie hier geduld nie en almal dobber heeldag vredig in 'n poel in die Ratelrivier rond terwyl die kinders bommies maak en paddas vang. En saans sit jy langs jou vuurtjie met net die nagdiere wat om jou roep.
Die kampterrein het 'n winkel waar jy enigiets van hout en bier tot roomys en vars brood kan koop.
In die wintertyd sal dit waarskynlik net ysbere wees wat by Beaverlac uithang, maar dis steeds enige tyd van die jaar 'n lekker wegkomplek uit die stad.
En die beste is…
Daar's 'n groot swemgat skaars vyf minute se stap van die kampterrein af. Aan die een kant is die water vlak, met plat rotse net onder die oppervlak waar die kleingoed kan plas, en oorkant die poel is 'n hoë rotswand van waar die dapperes kan inspring. En stroomop- en -af is 'n horde kleiner poele - gaan soek jou eie swemplek uit.
Wat kan ek in dié omtes doen?
Beaverlac lê op die plaas Grootfontein en jy kan met jou fiets tussen die lemoen- en nartjieboorde gaan rondrits. (Maar los uit daai vrugte!)
Die Olifantsrivier is sowat 5 km van die kampterrein af. Bring jou visstok, maar net baars mag jy hou. Bring jou verkyker en soek roofvoëls - veral die witkruisarend en rooiborsjakkalsvoël.
Hoe kom ek daar?
Draai 2,5 km noord van Porterville regs op die Cardouwpad en ry 9 km voor jy regs draai op die Dasklippas. Die afdraai na Beaverlac is bo op die pas. Onthou, die laaste stuk is grondpad, maak seker jou kar kan dit maak.
GPS S32.90346 E19.04214 (afdraai)
Prys: Geen dagbesoekers word toegelaat nie. Kampplek kos R60 p.p.p.n. (R40 vir kinders 4-17) plus R30 vir jou kar. Hier's ook 10 selfsorghuisies met die basiese dinge: stapelbedjies (bring jou eie beddegoed), 'n yskas, ketel en tweeplaatstofie. Pryse wissel van R250-R350 p.n. vir 'n huisie. Honde betaal R50 elk.
Kontak: 022 931 2945; www.beaverlac.co.za
- Sophia van Taak

















