Daai eensame windpomp wat op nét die regte plek uit die landskap uittroon. Die laaste gloed van die sonsondergang wat die wang van 'n koppie verlig. 'n Kudde skaap langs 'n ou klipkraal. Ja, die Karoo is enige reis- en landskapfotograaf se droom!
Op hierdie toer word jy vergesel deur die fotojoernalis Toast Coetzer - hy help met enige kameravrae, en leer jou oor komposisie en beligting. Die reisplan sorg dat jy elke dag by mooi plekke uitkom om af te neem.

Nie-fotograwe is natuurlik meer as welkom! Die toer is 'n fees vir enige nuuskierige reisiger wat die Karoo teen 'n rustige pas (ons kyk ook voëltjies) saam met kenners van die streek wil verken Die hoofgids Douwe Vlok (Heuningland-toere) sowel as Toast is boorlinge van die Karoo en neem jou na van hulle gunsteling-plekke.
Padlangs sien jy 'n paar plekke waar min mense kom - was jy byvoorbeeld al by die fabelagtige rotsgravure van Nelspoort? En dalk het jy al gehoor van die bekende storieverteller Antoinette Pienaar?

Wel, op hierdie toer oornag ons die eerste aand op Theefontein, Antoinette se plaas! Van hier ry ons agterpadlangs tot by 'n private versameling karre, mik dan vir mooie Murraysburg, en uiteindelik vir die Doornberg-gasteplaas aan die voet van die Kompasberg buite Nieu-Bethesda.
Doornberg is ons basis vir twee dae - ons verken in hierdie tyd die grondstrate van Nieu-Bethesda, en natuurlik Die Uilhuis. Maar was jy al by die Stone Folk van Ongeluksloot? Hier stap ons in die veld verby oulike klipstandbeelde. Fotogeleenthede wissel van landskappe tot portrette en meer abstrakte foto's.

Nag vier verskuif ons na die wonderlike Ganora-gasteplaas aan die oostekant van Nieu-Bethesda.
Hier sien ons die besonderse fossielmuseum en neem plaasaktiwiteite af. Ná ete is daar tyd om saam met Toast te sit vir 'n terugvoersessie oor jou onlangse foto's. Die laaste stop op ons Karoo-reis is Waterval Farmstay in die Graaff-Reinet-distrik.
Daarheen volg ons 'n pad wat oor die laer hange van Nardousberg loop, en bereik ons bestemming in die middag, net betyds vir 'n portretfotosessie saam met Toast.
Die aand kuier ons vir oulaas om die braaivuur en groet dan die volgende oggend net ná ontbyt.
Bespreek vandag!
- Bel Liezl by 072 243 5251, stuur ‘n e-pos na info@heuningland.com of gaan na heuningland.com vir meer inligting.

Wat jy moet weet
Datum 9-14 April 2026
Koste R17 500 p.p. wat deel (Enkelreisiger: 30% bybetaling)
Tydsduur 6 dae, 5 nagte
Beginpunt Whistling Bridge-padstal, N1 (naby Drie Susters)
Eindpunt Waterval Farmstay, Graaff-Reinet
Afstand 450 km (ongeveer)
Maksimum aantal gaste 14
Ingesluit by die prys
• Formele akkommodasie
• Drie etes per dag
• Professionele gids
• Fotografiegasheer
• 4x4-bystand (indien nodig)
Wat jy moet bring
• Jou eie voertuig (4x4 of sportnuts met goeie grondvryhoogte)
• Reisversekering
• Drankies, peuselhappies, ens.
• Kamera, driepoot en ander toerusting
• Kampstoel
















