Ons roete begin op die piepklein dorp Op-die-Berg in die Koue-Bokkeveld.Maak tenk vol by die koöperasie voor jy noordwaarts koers kies op die R303-streekpad - die pompe is heelweek oop, maar sluit laatmiddag.
Skaars 500 m buite Op-die-Berg tref jy 'n padpredikant aan wat jou na regs stuur op die "Swartrug afd pad" en Ceres-Karoo - neem hom.

Die teerpad loop verby talle vrugteplase, waaronder Boplaas waar die digters Boerneef en Carl Boplaas grootgeword het en waar die Van der Merwe-familie vandag nog boer.

Ná 17 km eindig die teer en dit word grondpad.
Pleks van reguit aan hou, draai jy links op die P2244- ondergeskikte pad Ceres-Karoo toe.

Dit is 'n gawe grondpad met vrugteboorde regs en besproeiingsdamme links van die pad. Ná ongeveer 2 km op dié pad ry jy oor 'n vlak bergpassie, die Klein-Sederbergpas, en dan, 7 km verder, bereik jy 'n enkelbaanbrug oor die nie-standhoudende Rietrivier.
Regs van die brug is sandduine met spore tussendeur en bo-oor die duine- dis dalk 'n 4x4-speelplek vir die omgewing se jong mense.
Kort anderkant die Rietrivier slaan die grondpad oor na teerpad - dit is die Katbakkiespas wat voor jou teen die Skurweberg uitkronkel.

Dis 'n taamlik steil bergpas met 'n gradiënt van 1:4 - vir elke 4 m wat jy dus vorentoe beweeg, styg jy ook 1 m. Dit klink dalk nie besonder steil nie, maar voertuie met 'n kleinkapasiteit-enjin sal die laer ratte moet haak om die skuinste baas te raak.
Bo-op Katbakkiespas is daar twee uitkykpunte waar jy kan aftrek om dielandskap agter jou te waardeer.
Soek veral die hoogste spits in die weste; dit is Sneeukop, wat teen 2069 m die horison oorheers. Katbakkiespas, wat oorspronklik 'n veetrekroete was, is in 1999 geteer en sy kruin lê op 1 190 m bo seespieël.
Die oorsprong van die naam is onduidelik, maar die bergpas is genoem na die nabygeleë plaas Katbakkies.

Hier is baie luiperds in die Skurweberg, 'n uitloper van die Sederberg,maar die kans dat jy een gaan raakloop, is laer as jou kanse om sneeu hier te sien - laasgenoemde is glad nie ongehoord in dié wêreld nie.
Kort hierna word die geteerde bergpas weer grondpad en hy neem ons op en af deur leegtetjies op 'n plato.

Hier is talle aftrekplekke, waaronder die bouval van 'n ou plaasopstal (S32.88049 E19.66055).Dit is 'n gewilde kampplek vir avontuurmotorfietsryers, want die klipmure beskerm jou so effens as dit snags ysig koud raak.
Plek-plek is daar nog tekens van kampvuurtjies.

Ons stryk aan met die pad, verby tipiese Sederbergse sandsteenformasies tot by die kruin van die Peerboomskloofpas (1 121 m bo seespieël) waar die pad weer geteer is.
Hierdie bergpas het ook 'n aftrekplek van waar jy die wye vlaktes van die Ceres-Karoo kan bespied - dit is 'n pragtige uitsig.

Aan die voet van die pas lê Skitterykloof se piekniekplek, 'n gewilde uitspanplek vir die streek se karretjiesmense en hulle donkies.
Ons het in die verlede ook al ryhuise hier sien uitspan, én stowwerrige avontuurmotorfietsryers. Die pad loop dood in die R355-streekpad, die langste ononderbroke grondpad in Suid-Afrika - 'n volle 208 km.
Die grondpad tussen Loeriesfontein en Kakamas is teen 289 km dalk langer, maar dit is nie 'n "ononderbroke grondpad" nie omdat 'n ander grondpad hom kruis.
Dit is kennelik 'n netelige punt.
Die R355 is ons land se eie Camino-pelgrimsroete, en stappers en fietsryers loop en trap gereeld die 208 km tussen Calvinia in die noorde en die Karoopoort naby Ceres in die suide.
En een keer per jaar sien jy tientalle luikruggies langs die pad gestrand met 'n pap wiel - dit is die stadsvoertuie van blommekinders wat opruk na die AfrikaBurn-fees.
Draai links by die R355 en volg die pad vir 2 km totdat jy die wrak aantref van 'n vlieënde piering wat halflyf uit die grond steek.

Dit is 'n oorblyfsel van 'n kunswerk wat een slag by AfrikaBurn te sien was en dui die afdraaiplek aan na die Tankwa-padstal.
Hier kan jy enigiets van lekkergoed tot vuurwerk koop, en langsaan is 'n kroeg.
Nadat jy die padstal goed deurgekyk en dalk in die dam se verfrissende water afgekoel het, is dit tyd om aan te stryk op die stofpad na die noorde.
Daar lê nog 50 km grondpad en 5 plaashekke voor...

Ongeveer 30 km verby die padstal is 'n halfbegrawe trekkerband met die naam Die Mond daarop geverf. Draai hier links. In die Junie-Julie 2021-uitgawe van Ry & Sleep het ons oor dié oase in die Karoo geskryf - dit is 'n gawe plek om ons roete af te sluit.
Bly sommer 'n paar dae oor, want daar's nog baie te sien en doen in die omgewing.

Jy kan byvoorbeeld vashaak in die Tankwa-padstal se kroeg en na die skinderstories van die plaaslike mense luister, en by die nabye Tankwa- nasionale park gaan inloer.
Selfs al bestee jy 'n maand in hierdie hoek van die Karoo, sal jy nie die helfte van sy skatte ontdek nie.

Wat jy moet weet
Maksimum aantal voertuie? Dit is 'n openbare pad en daar is geen beperking nie.
Kry ek 'n kaart? Nee, maar die pad word op kaarte aangedui.
Sal my voertuig krap? Nee, dit is hoogs onwaarskynlik.
Moet ek 'n kompressor neem? Net as jy bang is jy kry 'n pap wiel.
Kan ek halfpad braai? Ja, daar is heelparty piekniekplekke langs die pad.
Kan ek halfpad omdraai? Inderdaad.
Is daar selfoonsein? Meestal nie, maar daar is wifi by die Tankwa-padstal en Die Mond-vakansieplaas.
Beste tyd om te gaan? Heeljaar, maar in Februarie raak dit bloedig warm.
Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.
Mag my hond saamry? Reël vooraf met Die Mond of jou troeteldier mag saamkom.
Net vir die dag of die naweek? Minstens 'n naweek, want hier's baie te doen.
Hoe lank neem dit? Die roete duur ongeveer 2 uur as jy nie stop om bene te rek nie.
Is daar ablusiegeriewe? Op-die-Berg se vulstasie het toilette; daar's baie basiese geriewe aan die voet van die Peerboompas; en dan is daar beter kleedkamers by die Tankwa-padstal én Die Mond.
Aanwysings Jy kan die roete van Ceres af takel as jy oor Prince Alfred Hamlet na Op-die-Berg ry - of andersom as jy uit Calvinia wegtrek.
Kontak hlange@breede.co.za (Tankwa-padstal); 023 004 0079 (Die Mond; slegs WhatsApp)
Koste Die roete kos jou niks nie buiten brandstof, en by Die Mond het ons R150 p.p.p.n betaal om te kamp.















