Kuberkuier: E-pos uit Rumailah, Irak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sonsondergang oor die Tigris, met Bagdad op die agtergrond.
Sonsondergang oor die Tigris, met Bagdad op die agtergrond. (Getty Images)

Hoe het jy in Irak beland?

Irak se vlag.
Irak se vlag. (Getty Images)

Ek het my lewe lank op afgeleë plekke gewerk. Somalië, Ethiopië, die Ivoorkus, Liberië, die Kongo, om net ’n paar te noem.

’n Militêre agtergrond en graad in mediese noodsorg het my geskik gemaak vir werk in konfliksones. ’n Amerikaanse maatskappy het my in 2012 genader om in ’n afgeleë kliniek in Irak te werk, en net daar het ek geweet hier kom ’n avontuur.

Die uitsig vanaf my werkplek, die kliniek.
Die uitsig vanaf my werkplek, die kliniek. (Foto: Viktor Kühn)

Die toestande was baie beter as in die lande waar ek al was. Ons het krag, lugverkoeling en internet, en ons bly nie in tente nie. Ek kon die geleentheid nie laat verbygaan nie.

My slaapkamer is ’n skeepshouer wat deel vorm van my kliniek, waar ons  24 uur aan diens is.
My slaapkamer is ’n skeepshouer wat deel vorm van my kliniek, waar ons 24 uur aan diens is. (Foto: Viktor Kühn)

So nou is dit ses maande van die jaar my tweede tuiste – ses weke in Rumailah, ses weke in Pretoria.

Wat maak die land besonders?

’n Kraak in die Boog van Ctesiphon, of Taq Kisra. Ctesiphon, so 35 kilometer suidoos van Bagdad, was meer as 800 jaar die hoofstad van die Persiese Ryk.
’n Kraak in die Boog van Ctesiphon, of Taq Kisra. Ctesiphon, so 35 kilometer suidoos van Bagdad, was meer as 800 jaar die hoofstad van die Persiese Ryk. (Getty Images)

Dis die land van die ou Mesopotamië, tussen die Tigris- en Eufraatrivier, die tuin van Eden, die plek waar Jakob van Esau gaan skuil het. Abraham, die vader van die twaalf stamme van Israel, is hier gebore.

Dis die land van Noag se ark en die Groot Vloed. Babilon en die legendariese koning Gilgamesj. Dis die inspirasie vir die Arabiese nagte-verhale, dis waar die veldslag tussen Darius van Persië en Alexander die Grote van Macedonië plaasgevind het.

Dit is die plek waar skrif ontstaan het, waar mense wat hitte kan hanteer leef en floreer.

Vooraansig van die beroemde Al-Mustansiriya, ’n universiteit en madrassa (skool) in Bagdad.
Vooraansig van die beroemde Al-Mustansiriya, ’n universiteit en madrassa (skool) in Bagdad. (Getty Images)

Jy kan die geskiedenis hier sien en voel, die donker romantiek, onbeskryflike konflik en geweld, burgeroorloë, maar ook vrede en sielsrus as jy jouself oopmaak daarvoor.

Hoe ervaar jy die mense?

Elke Vrydagaand braai ons karp.
Elke Vrydagaand braai ons karp. (Foto: Verskaf)

Die mense, die taal en kultuur is alles vreemd . . . maar tog braai hulle net soos ons vis, skaap en sosaties. Hulle is manies oor karphengel, dubbelkajuitbakkies en filterkoffie, hulle skree hul longe uit vir hul sportspanne en raak redelik diklip as hul span verloor.

Hulle verstaan nie rugby nie, maar krieket is hulle mee vertroud.

Dis sout-van-die-aarde-mense met ’n sin vir humor, wat hulle bekommer oor finansies, bloeddruk, Chinese namaakselfone en inflasie, en wat foto’s van hul kinders by hulle dra.

Hulle kwel hulle oor hul groterwordende mae, haarlyne wat krimp, grys hare en plooie, net soos ons.

Hier eet jy nooit alleen nie, elke ete is ’n sosiale geleentheid.
Hier eet jy nooit alleen nie, elke ete is ’n sosiale geleentheid. (Foto: Verskaf)

Hulle droom van seevakansies, kan lekker skinder, en kan vreeslike liegstories vertel oor hul laaste visvang-trippie.

Gedra jou soos ’n gas in hul land, los jou hoogmoed by die deur, en hulle dra jou op die hande.

Vertel van die weer.

In Junie haal die temperatuur maklik 53 grade Celcius, my termometer het die gees gegee net ná die foto.
In Junie haal die temperatuur maklik 53 grade Celcius, my termometer het die gees gegee net ná die foto. (Foto: Viktor Kühn)

Dit is warm hier, tot 53 grade Celcius, en ’n droë hitte wat slaan soos ’n plank. Ons kry wel reën in Januarie.

Woestynreën is iets wat almal een keer in hul lewe moet ervaar. Dis iets om op jou CV te sit, soos om die noorderlig of ’n sonsverduistering te sien. Dis winderig, omtrent elke dag, nie Port Elizabeth se seebriese of die Kaapse dokter wat oor Tafelberg kom nie.

Die wind wil die stopsels uit jou mond waai. As ’n sandstorm (haboob) kom, is daar niks wat dit keer nie, dit kom orals in . . . jou bed, die yskas, deur die lugverkoeling, oral. Jy kan nie tien meter ver sien nie.

Ek draf in plakkies om my voete son te gee – kaalvoet is nie ’n opsie in die warm sand nie.
Ek draf in plakkies om my voete son te gee – kaalvoet is nie ’n opsie in die warm sand nie. (Foto: Viktor Kühn)

Dis ’n gemors, maar ook groot sports en meestal van korte duur. Die beste is om moed op te gee, dit te aanvaar, te wag dat dit uitwoed, en dan die volgende dag skoon te maak.

Tipiese eet- en drinkgoed?

Die Arabiese weergawe van ’n kebab.
Die Arabiese weergawe van ’n kebab. (Foto: Viktor Kühn)

Ek kan ’n boek skryf, maar daar is sekere dinge wat net beter is hier in die suide, die droë, aaklige, warm suide.

Die gegeurde maalvleis word om ’n staalpen gevorm en direk oor die kole gebraai.
Die gegeurde maalvleis word om ’n staalpen gevorm en direk oor die kole gebraai. (Foto: Viktor Kühn)

Ons het nahr khuz, ’n resep wat jaloers bewaar word, wat net beskryf kan word as hummus wat soet gemaak word, dan gestol word en met ’n mes in blokkies gesny word.

Lekkernye by ’n mark in die stad.
Lekkernye by ’n mark in die stad. (Getty Images)

Dit bevat hope kalorieë en is baie verslawend, ons loop lig daarvoor as ons nog in ons jeans wil pas op die vlug huis toe.

Dan is daar die karp, meestal net die koppe wat in olie gaargemaak word met uie.

Dit skop dwars in die krop van die meeste buitelanders, maar ek is nou mal daaroor.

Stalletjies by ’n mark in die hoofstad.
Stalletjies by ’n mark in die hoofstad. (Getty Images)

In die woestyn kweek hulle tamaties en waatlemoen op ’n skaal wat ons nie ken nie, hulle ry dit by die ton na die plaaslike mark (souk) in, en teen tienuur is daar niks oor nie. Uie ook, en ons eet dit soos appels.

Nog een van die talle stalletjies by die mark.
Nog een van die talle stalletjies by die mark. (Getty Images)

Hulle skop nie so woes soos ons uie nie, en is eintlik effens soet. Die tradisionele brood lyk amper soos ’n pizzabasis en ons noem dit khub.

Daar word ’n vars besending elke oggend by ons afgelewer, maak nie saak hoe afgesonder ons kamp is nie.

Die heilige maand van Ramadan is ’n ander ding. Omdat niks deur die dag geëet word nie, is die kombuis heelnag oop, en die kos ’n feesmaal.

Ons kry tradisionele lekkers en heel dadels in stroop, soetgoed wat jou pankreas oortyd laat doen.

Kenmerkende nagereg by ’n souk.
Kenmerkende nagereg by ’n souk. (Getty Images)

Daar is hoender, vis en skaap, bees en groente in olyfolie, speserye wat jou asem wegslaan.

Ons staan douvoordag op, wanneer dit nog donker is en die lug dik is van die reuk van skaapvleis en Cheffie se rissie-omelette met hummus en tahini.

Voor die son sy kop uitsteek, sterk ons aan met kardemomtee, pannekoek en wortelkonfyt. Want die res van die dag word niks geëet nie.

Irak is olieryk, sien jy baie rykdom?

Een van die  ingange by die Al-Kadhimiya-moskee in Bagdad. Dit is ryklik versier met Islamitiese beeldhouwerk en verse uit die Koran.
Een van die ingange by die Al-Kadhimiya-moskee in Bagdad. Dit is ryklik versier met Islamitiese beeldhouwerk en verse uit die Koran. (Getty Images)

Ongelukkig soos in enige land waar daar olie en gas is, is daar ook korrupsie. So die miljoene word ook onder ’n minderheid verdeel, of dit verdwyn landuit via internasionale maatskappye.

Dié wat goed doen is die entrepreneurs, die ouens wat moontlikhede sien en op ’n stokvelbasis geld kry en kontrakte sluit met die groot oliemaatskappye.

As jy ’n kontrak kan kry om produkte in groot maat te verskaf, raak jy vinnig ryk. Of as jy vir buitelandse maatskappye deur die burokrasie kan sny en die regte permitte en lisensies kan bekom.

Ek het ’n ou man geken wat in 2012 as ’n drywer gewerk het, en in tien jaar ’n maatskappy gebou het wat internasionaal aandele koop en verkoop.

Hoe lyk die vervoer daar?

Amerikaanse Dodge-sedanmotors is baie gewild en soos gesê dubbelkajuit-bakkies. Hulle verstaan nie die konsep van ’n ritsmotor of ’n studentekar nie.

Ek het my eerste rit in ’n elektriese voertuig hier geneem. Dit was ’n taxi wat my lughawe toe geneem het. ’n Soort kombi.

As dit kom by veiligheid?

Sekuriteit is baie streng vir ons buitelanders. Ons mag nie rondbeweeg nie, selfs nie na souks nie, en as ons beweeg is dit in ’n pantservoertuig met gewapende wagte.

Ons is agter bomvaste mure en daar is ’n grag om elke kamp. Die gevaar is nie polities van aard nie, maar die risiko van ontvoering.

Dit klink vreeslik, maar as jy hul gebruike aanvaar, is hulle vinnig om joune te respekteer. Die wit Suid-Afrikaners hier word as eksoties gesien omdat ons uit Afrika kom. Dit maak nooit vir hulle sin nie.

Sien jy oorblyfsels van die oorloë?

Die eerste Golfoorlog in 1991 was van korte duur, die tweede vanaf 2003 tot 2011.

In 2014 het die jihadgroep Isis groot dele van die land afgevat. Daaroor is baie berig.

Maar ’n groot impak was die oorlog tussen Iran en Irak vanaf 1980 tot 1988.

Dit was ’n Eerste Wêreldoorlog-tipe konflik, met loopgrawe, die grootskaalse gebruik van senugas, mosterdgas en selfs lewisiet, wat arseen bevat.

Daar was biologiese oorlogvoering, massa-bajonetstormlope agter gasmaskers reguit in die wagtende Vickers-masjiengewere in.

As die 1 000-ponder-lugbomme, gas en artillerie jou nie gekry het nie, was dit ontwatering of geen mediese sorg nie. Dinge wat nooit hoofstroommedia gehaal het nie.

Daar is hadji’s (ou mans) hier wat daar was, en ons luister oopmond na hul stories. Hier is nog massagrafte en landmyne, en op baie plekke mag jy nie van die pad af beweeg nie – as jy jou ledemate wil behou.

Volgens my het dit mense gekweek wat graag vrede wil hê, wil reis en sosiaal wees, wat hulle nie wil bemoei met ander se politiek of internasionale krisisse nie.

Mense wat normaal wil wees, inkopies doen, skinder en gesels, kinders grootmaak, besluit oor iPhone- of Android-selfone, oud wil word en op ’n stoep sit met ’n sigaret en koppie tee.

Wat mis jy wanneer jy daar is?

Viktor Kühn
Viktor Kühn (Foto: Verskaf)

Ek mis enige kommunikasie, die meeste van die ouens hier se Engels is maar gebroke, en my Arabies is net so vrot.

Ons kan kommunikeer soos nodig, maar gewone klets is moeilik. Partykeer gaan dae verby wat ek nie ’n woord praat nie. Die mediese personeel is meestal Suid-Afrikaners, so as ons mekaar sien en ons gesels, staan hulle verwonderd, hulle terg en sê Afrikaans klink soos skuurpapier op ’n sinkplaat . . . of ’n bakkie met ratte wat krap . . . vreeslik baie ggg-geluide!

Hulle neem aan ons moedertaal is Engels, en skrik as ons begin gesels.

As ’n uitdaging probeer ek hulle een woord leer: grondboontjiebotter. In al my jare hier kon nog nie een dit uitspreek nie, ons het maar ’n unieke taal.

Arabies is moeilik om te leer, elke land het sy eie dialek, amper soos Afrikaans, Hollands en Vlaams. Selfs die landelike en stedelike dialekte verskil, ook in provinsies. Soos wat Kapenaars, Swartlanders en Namakwalanders anders praat as ons in Gauteng.

Wat ek die meeste mis, is my kinders. Dit het nie einde nie, ek verlang my gek. Maar die ses weke wat ek tuis is, is ek pal by hulle en ons gaan grou avonture uit. Eintlik voel ek ek het meer tyd saam met hulle as ’n pa met ’n 9-5-werk.

Vreemdste reëls en regulasies?

Ons afgeleë kamp diep in Rumailah. Ons skuif die hele kamp elke ses weke.
Ons afgeleë kamp diep in Rumailah. Ons skuif die hele kamp elke ses weke. (Foto: Viktor Kühn)

Die reëls en redes om toegesluit te word verskil van plek tot plek. Enige buitelander wat hier aankom, moet eers bloedtoetse laat doen, vir MIV, hepatitis en vir ons uit Afrika, malaria.

In ons kampe mag ons nie meer krieket speel nie omdat Pakistani’s, Indiërs en Suid-Afrikaanse ekspats aartsvyande is in die sport en gemoedere hoog loop.

Die bal het al in ’n mynveld geland, en die versoeking was vreeslik om dit te gaan haal.

Ná ure speel ons skelm krieket. Die foto is halfsewe die aand geneem, dit word baie laat donker in die somer.
Ná ure speel ons skelm krieket. Die foto is halfsewe die aand geneem, dit word baie laat donker in die somer. (Foto: Viktor Kühn)

Ons is maar versigtig met foto’s neem by padblokkades of staatsinstansies. Ons het saam met ons visum ’n sekuriteitsklaring nodig om te reis, en bewaar jou siel as dit verval het en hulle jou kry.

Met die vroue wat hier werk, moet ons versigtig wees. Selfs as ons net onskuldig gesels, doen jy dit in die openbaar, of jy het iemand naby as ’n “chaperone” sodat gerugte nie rondvlieg nie.

Oor vyf jaar gaan ek . . . Inshallah (as dit God se wil is) sal ek nog hier wees en die taal al magtig wees, en nog stories hê om vir my kinders te vertel oor ’n plek waar die sand baie geheime hou, waar voetspore verskuil in geskiedenisboeke nog roep.

SPELETJIES VANDAG

CTA