Vir haar is dit meer as ’n stad – dis ’n polsende lewenswyse wat haar motiveer om haar horisonne te verbreed.
Hoekom Hongkong?
Ek was nog altyd gefassineer deur die stad wat ’n kruispad is vir Oos en Wes soos nêrens anders in die wêreld nie, met ’n unieke mengsel van moderne innovasie en diepgewortelde tradisie.
Toe ek die kans kry om hier te kom woon en werk, het ek nie gehuiwer nie. Ek is ’n kleuterskoolonderwyseres en vriende van my wat hier woon, het my in verbinding gebring met ’n plaaslike skool.
Voor ek my kon kry, was ek op ’n vliegtuig na een van die mees dinamiese en unieke plekke in die wêreld.

Noudat ek hier is, is dit ’n wonderlike ervaring. Dit is ’n voorreg om nie net hierdie opwindende metropool my tuiste te noem nie, maar ook om ’n rol te speel in die opvoeding van jong kinders, wat ’n ewe groot inspirasie is.

Elke dag bring nuwe ontdekkings. Of dit nou gaan oor die kos, die mense, die landskappe of selfs net die alledaagse gewoel op straat, ek leer voortdurend.

Dit is ook ’n globale finansiële sentrum, bekend vir sy ikoniese stadskim, bedrywige hawe en kosmopolitiese atmosfeer.
Vir reisigers bied dit ’n mengsel van avontuur, kultuur en luuksheid. Of jy nou op ’n sakereis is of ’n toeris is, dié administratiewe streek van China sal jou nie teleurstel nie.
Wat maak die land besonders?

Hongkong bied soveel kontraste in een klein gebied. Hoewel die hoofstad bekend is vir sy wolkekrabbers, bestaan 70 persent van Hongkong uit groen, bergagtige landskappe en eilande.
Jy kan in minder as ’n halfuur van die besige stadslewe na rustige strande of woudgebiede ontsnap.

Die inwoners het hul eie Kantonese identiteit, maar omdat hulle lank onder Britse koloniale bestuur was, is daar ’n sterk Britse invloed, veral in die argitektuur, kos en taal.
Daar is nie iets soos BTW hier nie, en baie produkte is goedkoper as in ander dele van die wêreld.
Die plaaslike metro, MTR, is een van die beste openbare vervoerstelsels ter wêreld. Die stad is ook een van die veiligstes wat daar is, selfs snags.
Vertel meer oor die eilande?

Hongkong bestaan uit meer as 260 eilande! Van die bekendstes is Hongkong-eiland, waar die finansiële en kulturele kern is.

Die plaaslike Disneyland is op Lantau-eiland, wat ook die tuiste van die Groot Boeddha, Tian Tan, is.
Dié bronsbeeld van 34 meter hoog is die wêreld se grootste sittende Boeddha-beeld in die buitelug. Die uitsig vanaf die trappe is ongelooflik – ’n moet-sien.

Die skilderagtige Lamma-eiland is bekend vir sy rustige vissersdorpies en talle vegetariese restaurante.

Cheung Chau, ’n klein eiland naby Hongkong, het ’n ryk geskiedenis.
Tydens die agtiende en negentiende eeu was dit ’n skuilplek vir berugte seerowers soos Cheung Po Tsai, wat glo die omringende waters geterroriseer het.
Volgens legende het hy sy skatte versteek in grotte op die eiland, soos die Cheung Po Tsai-grot wat vandag nog deur toeriste besoek word.
Die eiland se strategiese ligging en beskutte hawens het dit die ideale skuilplek gemaak vir seerowers wat die magtige Britse en Chinese vlote wou ontvlug.
Peng Chau is ’n stil, motorvrye eiland. Omdat dit net kleiner as een vierkante kilometer is, kom almal te voet of met fietse oor die weg.
Die enigste uitsondering is noodvoertuie, konstruksievoertuie en voertuie wat goedere oor die eiland vervoer.
Wat móét ’n toeris eet en drink?

Hier is ’n fees van lekkertes, soos dim sum, ’n groot verskeidenheid happies wat saam voorgesit word. My gunstelinge is siu mai (vark-en-garnaalpasteitjies) en cha siu bao (varkbroodjies).
Die tradisionele Chinese wonton-noedelsop, kluitjies (dumplings) in ’n smaaklike sous, is ’n absolute móét.
Vir die suikertande is daar ook groot bederwe, soos eiertert. Die kors word gemaak van lae dungerolde deeg wat heerlik bros bak. Die vlavulsel bestaan uit eier, suiker en room wat soms met vanielje of kaneel gegeur word.
Die onweerstaanbare melktee met versoeters soos suiker, kondensmelk of ingedampte melk is baie gewild.
Hoe ervaar jy die mense?

Hongkongers is besige mens wat teen ’n ongelooflike spoed beweeg. Hulle waardeer bekwaamheid en respek vir hiërargie. Engels word oral verstaan, maar as jy Kantonees praat, is hulle meer ontvanklik. Baie praat ook Mandaryns.
Meer oor koeng foe en feng shui?
Koeng foe is ’n tradisionele Chinese vegkuns wat in Hongkong besonder gewild is, veral danksy Bruce Lee-flieks.
Koeng foe beteken letterlik “vaardigheid deur harde werk en oefening”. Dit verwys nie net na vegkuns nie, maar ook na enige kuns of vaardigheid wat deur toewyding vervolmaak word.
Feng Shui, wat “wind en water” beteken, is ’n antieke Chinese praktyk wat fokus op die harmonie tussen mense en hul omgewing.
Dit gaan oor die rangskikking van ruimtes om energie – chi – vrylik te laat vloei en balans te skep. Die doel is om voorspoed, gesondheid en geluk te bevorder.
Daar is baie tropiese siklone, nè?
Ja, tussen Mei en November is hier nogal baie tropiese siklone, oftewel tifone. Die stad is goed voorbereid en die waarskynlikheid van ’n ernstige storm is taamlik laag.
Wanneer ’n tifoon nader, word waarskuwings uitgereik – van T1 tot T10, met T10 die gevaarlikste. Mense bly tuis vir tifone vanaf T3 en sterker, tot dit verby is.
Hoe bekostigbaar is Hongkong?

Die stad is een van die duurstes ter wêreld, veral wat verblyf betref. Hotelverblyf begin by R1 500 per nag vir ’n kamer. Huurgeld vir ’n eenslaapkamer-woonstel is gemiddeld R21 600 per maand.
In die middestad is dit ’n verstommende R42 000 tot R58 000 per maand, met groottes wat gewoonlik wissel tussen 37 en 56 vierkante meter.
Straatkos is bekostigbaar en sal jou tussen R50 en R100 uit die sak jaag vir ’n ete. ’n Restaurantmaal kos gemiddeld R300 tot R500 per persoon.
Vervoer op die MTR is bekostigbaar teen R20 tot R50 per rit.En as jy gaan fliek, betaal jy tussen R170 en R300 vir ’n kaartjie.
Kan jy SA produkte daar koop?
Ja! Hier is ’n groot Suid-Afrikaanse gemeenskap en selfs Suid-Afrikaanse restaurante en ander verskaffers wat dinge soos vleis, biltong en wyn verkoop.
Watter reuke mis jy van die huis?
O, braairook! Daardie geur van vleis op kole kry jy nie hier nie. En roosterkoek en tradisionele kookkos soos aartappels, vleis, rys en groente.
En net die gedagte aan die reuk van die Bosveld laat my verlang na die Krugerwildtuin of ’n kamp iewers in Limpopo.
Is jy ’n reisiger?

Ja, ek reis gereeld en ontdek nuwe kulture. Hongkong bly vir my een van die mees opwindende bestemmings.
Interessante wette?

Harde, luidkeelse verkope is verbode. As jy ooit in ’n Hongkong-mark is en iemand skree te hard om hul produk aan jou te koop, is dit ’n oortreding.
Die wet bepaal dat uitroepe met die doel om enige artikel hoegenaamd te koop of te verkoop, verbode is. Jy kan beboet word as jy dit doen. Maar die boete is net HK$50 (sowat R115), so ek twyfel of dit ooit enige verkoper ernstig sal afskrik. Hier by my woonstelblok is daar ’n verkoper wat daagliks skree!
Jy mag nie op diere in Ocean Park vloek nie. Dié temapark op Hongkong-eiland het ’n dokument van 16 bladsye lank wat uiteensit wat besoekers mag en nie mag doen nie.
In een van die regulasies word bepaal dat die gebruik van onvanpaste taal, ’n geskreeu of om ’n oorlas van jouself te maak teenoor ’n mede-besoeker of enige dier in die park verbode is. Doen jy dit, kan jy gevra word om die park te verlaat.
Dis moeilik om te dink hoekom enigiemand op ’n panda sou wou vloek, maar Ocean Park het dit as ’n verbode daad uitgesonder.
Dis ’n oortreding om jou hond toe te laat om bure of verbygangers te irriteer deur te blaf. Ja, daardie klein hondjie waaraan jy byna jou hele salaristjek spandeer om dit te voer en te versorg, kan nóg rekeninge laat ophoop.
Sy blaf kan jou ’n boete van HK$500 (sowat R1 140) of selfs drie maande tronkstraf op die hals haal.
Oor vyf jaar gaan ek . . .?

Dalk terug Suid-Afrika toe, of miskien verder reis na nuwe plekke, soos Europa. Vir nou geniet ek Hongkong vreeslik baie en bou aan ’n gelukkige en avontuurlustige lewe hier.


















