Reis

Habitatverlies en strikke: Luiperds se stryd in die Wes-Kaap

Wêreldwyd is luiperds reeds 'n yslike 75% van hulle oorspronklike verspreidingsgebied kwyt.

Net soos vir die meeste ander diere op aarde hou die verlies van 'n gesonde habitat die grootste bedreiging vir luiperds in.

Ander bedreigings verskil tussen lande en streke, maar sluit in prooi wat al minder word, konflik met mense, onvolhoubare trofeejag, en stropery vir liggaamsdele en velle.

In die Kaapse streek is bedreigings soos habitatverlies, onvoldoende korridors om te beweeg, asook die doodmaak van luiperds in reaksie op veeverliese, goed gedokumenteer. 'n Minder bekende maar toenemende bedreiging is onwettige strikjag...

Foto: Christel Liebenberg
Foto: Christel Liebenberg

'n Mens dink gewoonlik nie aan strikke as iets wat in die Kaap voorkom nie. Dit was altyd hoofsaaklik iets wat jy met die bosveld of woude geassosieer het, maar dis duidelik dat dit 'n al groter probleem in fynbosstreke word.Trouens, strikke om wilde diere te vang is wêreldwyd 'n groot probleem.

Maar wat presies is 'n strik? Dis 'n geankerde lus van draad, tou, kabel of nylon wat gestel word om diere om die been, nek of onderlyf te vang.

Voorlopige navorsing toon dat bosvleis die hoofrede vir strikke in die Wes-Kaap is. Die onwettige handel in liggaamsdele speel wel ook 'n rol.

Foto: Cape Leopard Trust
Foto: Cape Leopard Trust

Wat hierdie jagmetode nog erger maak, is die vermorsing wat daarmee gepaard gaan. Baie strikke word nooit nagegaan nie, en gevange diere vrek in die strik.

Gevange diere kan soms met 'n gestoei die strik van die anker losruk, maar dan is hulle dikwels beseer of vermink.

Strikke hou ook negatiewe gevolge in vir mense - bosvleis kan ernstige siektes veroorsaak, en troeteldiere en vee kan ook in strikke beland.

Strikke is onoordeelkundig en eis 'n hoë tol op die ganse ekosisteem,insluitend roofdiere soos rooikatte en luiperds.

Die bedreiging van strikke vir luiperds is tweeledig: Dit verminder die aantal prooispesies soos klein bokkies en ystervarke, en hulle kan self gevang word.

Daar is landwyd verskeie groepe wat bewustheid rondom strikke skep.Hulle lei ook dikwels patrollies om strikke te verwyder.

Lees gerus meer by snarefree.co.za.

Jeannie Hayward

CTA