Reis

Aanpassing vs Uitwissing: Luiperds se oorlewingstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Panthera pardus - só noem ons die luiperd in Latyn. Saam met leeus, jaguars, tiereen sneeuluiperds vorm hulle deel van die sogenaamde groot katte in die Panthera-genus.

Van die hele groep is luiperds in terme van die habitat waarin hulle kan oorleef sowel as die prooispesies wat hulle kan benut, die mees aanpasbare en veelsydige kat.

Byvoorbeeld: Luiperds kom in welige woude voor, maar ook in oop grasveld, klipwoestyne, ruwe berge en digte bosveld. En dieetstudies toon dat luiperds wêreldwyd meer as 100 verskillende spesiesoorte as prooi vang.

In die algemeen verkies hulle middelslag-prooi van rondom 10 kg-40 kg (afhangende van die omgewing), maar luiperds sal op enigiets van rotte en muise tot 'n jong eland jagmaak.

Hulle is absoluut opportunisties en sal selfs in swaar tye insekte soos kewers en krieke vreet. (In Indië is daar selfs 'n bevolking luiperds wat suksesvol rondloperhonde jag...!)

Maar ten spyte van hierdie aanpasbaarheid lyk die prentjie vir luiperds steeds nie rooskleurig nie. 'n Yslike 75% van dié spesie se historiese verspreiding is reeds weens habitatverlies daarmee heen.

En daar waar luiperds steeds hou, word hulle gebiede vanweë voortdurende ontwikkeling verder gefragmenteer.

Daar is ook ander groot bedreigings, soos die gebrek aan prooi, direkte konflik met mense, onvolhoubare trofeejag en stropery vir liggaamsdele en velle.

Om hierdie redes word luiperds as kwesbaar geklassifiseer deur die Internasionale Unie vir Bewaring van die Natuur (IUCN) se Rooilys van Bedreigde Spesies, en hulle bevolkingskurwe neig steeds afwaarts.

Luiperds kom slegs in Afrika en Asië voor - hulle was nog altyd afwesig in die Amerikas, Antarktika, Europa en Australië.

Hoewel alle luiperds steeds tot dieselfde spesie - Panthera pardus - behoort, is daar redelike variasies binne dié spesie - genoegsaam om een groep van 'n ander te onderskei. (Die onderskeid word gewoonlik op grond van genetiese verskille getref, maar grootte, kleur- en patroonverskille speel ook 'n rol).

Ons eien verskeie afsonderlike groepe op grond van waar hulle voorkom en elkeen van dié groepe word 'n subspesie genoem. Vir elke subspesie word 'n derdewoord aan die spesienaam gelas, en daar word tans nege subspesies van luiperds erken.

Alle luiperds in Afrika behoort tot die subspesie Panthera pardus pardus. Dis ook die oudste een van die subspesies. Verder is daar die Arabiese, Indiese en Persiese subspesies, sowel as die Sri Lanka-, Amur-, Java-, Indo-Chinese en Noord-Chinese subspesies. (Jy wonder dalk nou waar die sneeuluiperd inpas. Dit is egter nie 'n soort luiperd nie, maar 'n aparte grootkatspesie, Panthera uncia.)

Luiperds kom in 63 lande voor, maar dis net 'n fraksie van die totale gebied waar hulle eens versprei was. Navorsing en bewaringsaksies wat daarop gemik is om luiperdhabitat en prooi te beskerm is dus van uiterste belang!

Jeannie is die kommunikasie- en mediabestuurder van die Cape Leopard Trust (capeleopard.org.za).

Jeannie Hayward

CTA