Kwashaal vir kwashaal gee Victor Geduldt, 'n gevierde Vrystaatse kunstenaar, hoop aan jong mense op die platteland deur sy vaardighede met hulle te deel. Maricelle Botha het by hom in Winnie Mandela-dorp gaan kuier.

Soos baie Vrystaatse dorpies het Winnie Mandela, of Brandfort soos dit voor 2021 bekend gestaan het, 'n sterk historiese ruggraat. Dié eens waardige klein dorpie is egter vandag die produk van jare lange swak dienslewering. Verval en armoede is oral sigbaar en hoewel dit na 'n wanhopige situasie klink, was dit dié juiste omstandighede wat as inspirasie vir 'n Bloemfonteinse kunstenaar gedien het om 'n verskil hier te kom maak.
Victor Geduldt (51) is 'n bekende Vrystaatse skilder wat hom sowat vyf jaar gelede, in die middel van die Covid-pandemie, op dié dorpie kom vestig het. Hy het een doel voor oë gehad en dit was om 'n verskil te maak. Sedertdien verf hy nie net die dorp rooi nie, maar met die hulp van 'n klomp aspirant-kunstenaars het hulle dit in 'n buiteluggalery omskep met opvallende muurskilderye regdeur die dorp.

Nederigheid
Nadat 'n kennis my van dié merkwaardige man vertel het, besluit ek om hom te gaan besoek. Nadat ek die aanwysing na sy huis heeltemal verkeerd verstaan het, kom ek uiteindelik voor 'n huis te staan met verskeie verfblertse in die pad, kompleet soos dié op 'n palet. Buite wag 'n vriendelike Rastafariër met 'n groot rooi-en-groen mus my in.
"Skuus, man, ek het 'n ongelukkie met 'n paar blikke verf gehad," verwys hy laggend na die verfkolle.
Hy nooi my binne. In sy sitkamer staan 'n verskeidenheid lewensgroot skilderye. Sommige is bekende Vrystaatse beelde soos 'n ou wyse Sotho-man in tradisionele drag wat in die son sit en bak, of 'n jong man wat met 'n hond in die township speel. Ander werke beeld karakters uit wat musiekinstrumente bespeel. Daar is ook 'n roerende selfportret.
Sommige van die skilderye moet eersdaags na België versend word, waar Geduldt aan 'n Suid-Afrikaanse groepuitstalling deelneem.
Ek wil natuurlik weet hoe hy dit regkry om sy kuns voltyds te beoefen en nog tyd het om opheffingswerk te doen.
"Mense weet as ek vir so 'n paar weke wegraak, is dit omdat ek besig is om te werk. Dan sit ek hier in my huis en fokus net daarop."

Bemagtiging
Die werk wat hy hier in Winnie Mandela doen, sluit in werkskepping vir die jeug, die skep van voedselsekerheid en die aanmoediging van nuwe maniere van dink oor jou omgewing en situasie.
Geduldt is reeds sedert 2017 besig met opheffingswerk op die platteland. "My droom is om teen die tyd dat ek 70 jaar oud is, in elke klein dorpie rondom Bloemfontein 'n verskil te kon gemaak het."
Dit alles het begin toe hy Rina Els, die organiseerder van die eertydse Claerhout-fees in Excelsior, in 2007 by 'n uitstalling in Bloemfontein ontmoet het. Els het Geduldt uitgenooi om sy werk by die fees uit te stal. Só het hy 'n gereelde gesig op die fees en in Excelsior geword. Hier is hy met die uitdagings van plattelandse gemeenskappe gekonfronteer.
"Mense kry swaar en jong mense het niks om te doen nie."
Hy het begin om jong mense in Excelsior en Tweespruit van kuns te leer, hoe om 'n skilderdoek oor 'n raam te span en om hul eie esels te bou. "Só kon hulle ten minste 'n inkomste genereer. Hulle kan ook die geld wat hulle sodoende inkry, gebruik om in iets anders te belê, om groente te plant en om só 'n beter lewe te hê."
In 2019 het Geduldt besluit om na die volgende dorp aan te beweeg en dit is hoe hy in Winnie Mandela beland het.
Hier het hy met soortgelyke werk begin en kon hy en sy studente met finansiering van die Nasionale Kunsteraad hul eerste groot muurskildery skep, op die buitemuur van die maatskaplikedienskantoor van Vrystaat Versorging in Aksie.
"Geweldmisdade teenoor vroue en kinders is 'n groot probleem, asook dwelmmisbruik. Ons het besluit om standpunt daarteen in te neem deur middel van kuns. Ek weet 'n mens kan nie almal red nie, maar al stop net een mens voor hierdie werk en word daardeur geraak, het dit al gehelp."
Daarna het hulle soortgelyke skilderye op die buitemure van die plaaslike drankwinkel geverf. Die nuus van die nederige kunstenaar met die groot hart het soos 'n veldbrand versprei en sommer gou het plaaslike ondernemings begin toustaan vir muurskilderye.

Muurskilderye
Gerhard van der Walt, eienaar van Koffie's-kroeg, het Geduldt se werk in die dorp gesien en wou graag 'n portret van Elvis Presley hê. Vandag is die Elvis-portret die eerste ding wat jy sien as jy by die kuierplek inloop.
"Victor is 'n great mens. Ons het intussen groot vriende geraak en ons kan vir ure hier sit en gesels. Ek sal hom geweldig baie mis as hy die dag besluit om aan te beweeg," vertel Van der Walt.
Intussen moes Geduldt ook al 'n portret van die voormalige leier van die Afrikaner-Weerstandsbeweging, Eugène Terre'Blanche, en 'n motorfietsbendetoneel in die kroeg verf. Terwyl ons by die kroegtoonbank sit en die Terre'Blanche-portret bekyk, sê Geduldt op sy rustige manier: "Daar is goed en sleg in ons geskiedenis, dit maak dit nie minder geskiedenis nie."
Van Koffie's stap ons in Voortrekkerstraat af op 'n kunstoer. Op linkerhand wys hy waar hulle onlangs die biblioteek se buitemuur geverf het.
Verder aan loer ons by Hendrikz & De Vletter Prokureurs in om na die muurskildery in hul raadsaal te kyk.
Skuins oorkant die straat pryk twee nuutgeverfde logo's van Dagbreek Boeredienste en DB Automotive. Deon Erasmus, mede-eienaar, was so beïndruk met Geduldt en sy span dat hy ook 'n gesinsportret bestel het. Om die draai ontmoet 'n viool en 'n paar djembe-tromme mekaar. Tot aan die einde van die straat sien jy Geduldt se kleurvolle skeppings.
Vandaar besoek ons die township waar Ma Winnie haar plek volwaardig volstaan. Sy pryk lewensgroot op die eerste huis wat jou in Majwemasweu verwelkom. Aan die kant van die huis is 'n portret van Madiba in 'n Sotho-uitrusting met aangrypende aanhalings van hom.
Een van die dinge wat Winnie in die agt jaar wat sy hier gewoon het op die been gebring het, is die Thusano-dagsorgsentrum. Ook hier pryk 'n pragportret van haar. Nthabiseng Seseane, een van die onderwysers by die crèche, vertel hoe beïndruk mense is as hulle daar kom en dit sien.
Ons ry verder. Geduldt wys my 'n paar tavernes en winkels wat hulle geverf het. Musikante teen die mure speel trompette, saxofone, kitare en tromme en jy kan jou net voorstel hoe hier gekuier word wanneer die son saans sak.
Heelwat kerke het ook Geduldt se hulp ingeroep en in die ry wys hy die verskillende logo's en van die groentetonnels wat hy by plaaslike skole opgerig het.
Geduldt is merkbaar geliefd in die dorp. Oral waar ons gaan, wil mense geselsies aanknoop en hy het vir ieder en elk tyd. Selfs in die verbyry hoor jy iemand vanuit die verte roep, "Rasta!" en dan word daar gewaai.
Ná 'n lang dag in die strate is ons uiteindelik terug by Geduldt se huis. Ons gesels oor die werk wat hy hier gedoen het, wat die toekoms vir hom inhou en wat die volgende dorp sal wees waar hy sy merk wil maak.
Die trane sit vlak en hy vee met sy sakdoek oor sy oë. "Ek is nie 'n ou wat hou van koebaai's nie. Dit is eenvoudig net te swaar vir my. Die dag as my werk hier klaar is, sal ek seker in dieselfde stilte verdwyn as wat ek hier aangekom het."
- Botha is 'n redaksielid van Beeld.
Winnie en HF Verwoerd
- Brandfort is in 1866 gestig toe die Voortrekker Jacobus van Zijl 'n kerk op sy plaas, Keerom, gebou het. Die Vrystaatse president, Johannes Brand, het dié dorp besoek en kort daarna is dit ter ere van hom Brandfort genoem.
- H.F. Verwoerd, latere eerste minister, het as kind saam met sy ouers in Brandfort gebly.
- In die apartheidsera is Winnie Mandela na Brandfort verban. Die ontslape apartheidsaktivis wat tussen 1977 en 1985 hier onder huisarres was, se huis is vandag 'n museum.
- John Weston, wat as die vader van Suid-Afrikaanse lugvaart beskou word, se huis is ook 'n gewilde toeristeaantreklikheid omdat die eerste vliegtuig in Afrika op sy eiendom gebou is.


















