Dis verbasend hoe baie natuur- en wildreservate wat deur provinsiale regerings bestuur word, eintlik maar net op papier nog bestaan.
Volgens navorsing deur die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) is swak bestuur die vernaamste rede vir die agteruitgang en hoekom daar so te sê niks van hierdie reservate oor is nie.
Die gebrekkige instandhouding van heinings het byvoorbeeld veroorsaak dat wildstropers byna vrye teuels het, terwyl beeste en bokke al hoe dieper in die reservate kan wei.
Dit is 'n erge knou op kosbare habitat, wat op plekke selfs vernietig word. Dit spoel natuurlik dan oor na dinge soos bedreigde plante, bome en verskeie insek- en voëlspesies waarvan die oorlewing al hoe minder moontlik lyk.
Dit gaan jare en jare neem vir hierdie ekostelsels om te herstel.
In 2020 is die ganse bestuur van die Ezemvelo KZN-wildbewaringsagentskap geskors ná 'n onervare politikus se aanstelling as direkteur van dié provinsiale entiteit.
Binne 'n paar maande is 275 renosters in die Hluhluwe iMfolozi-park gestroop. Daar was ook geen noemenswaardige onderhoud aan infrastruktuur soos paaie en heinings nie en dit het ook tot meer gevalle gelei waar mens en dier in konflik gebring is.
Ongelukkig is hierdie nie 'n uitgesondere voorbeeld nie. Ek glo die onderhoud en opgradering van kampplekke in die meeste parke en reservate onder die sambreel van provinsiale parkerade is oor jare al hoe minder belangrik geag. Is dit dalk omdat begrotings hiervoor grootliks opgeslurp word deur salarisse?
Mense in die bedryf reken daar is baie gevalle van kundiges wat afgetree het of deesdae elders werksaam is wat nie vervang is met mense met die nodige vaardighede nie.
Ek hoor die owerheid sukkel om byna die helfte van die natuurbewaarderposte wat tans landwyd vakant is te vul. 'n Mens kan maar net wonder hoeveel van die onlangse aanstellings in hierdie besonderse veld het wel 'n voorliefde vir natuurbewaring.
Daar is glo selfs voorvalle waar natuurbewaarders medepligtiges is in wildstroping. Daar heers na wat beweer word, ook kommer oor watter toerisme-opleiding nuwe werknemers ontvang om seker te maak hierdie belangrike bron van inkomste bly behoue.
Die landwye verval van hierdie reservate dra al hoe vinniger by tot die ekonomiese agteruitgang in plattelandse gebiede en bedreig die bewaring van biodiversiteit.
Wat kan ek en jy doen?
Die EWT verdeel Suider-Afrika in 18 endemiese gebiede op. En daar is inisiatiewe waar die organisasie bewareas en reservate onder sy vlerk neem. Kyk byvoorbeeld na die Soutpansberg- bewarea.
Die Medike-natuurreservaat (ken jy hom?) tussen Vivo en Louis Trichardt is die tuiste van byna 60 spesies skoenlappers, 15 spesies skerpioene, 19 amfibiese spesies, 61 reptielspesies, 60 soorte soogdiere, 229 voëlspesies en 237 boomspesies. 'n Inisiatief soos dié deur 'n organisasie soos die EWT vergoed dus vir die provinsiale owerheid se gebrekkige bestuur deur sulke gebiede tot nasionale bates verklaar te kry.
Medike is ingesluit in die UnescoVhembe-biosfeerreservaat en dit bied beskerming teen oorkommersialisering en politieke kaping.
Nog iets wat 'n mens nie uit die oog moet verloor nie wanneer jy oor dié klas van ding gesels, is dat die agteruitgang van kampplekke in provinsiale reservate geleenthede skep vir entrepreneurskap in die omliggende gebied.
Die mense wat grond in die Dinokeng-wildreservaat besit, is 'n goeie voorbeeld, en daar is groot geleenthede in agritoerisme op werkende plase en kleinskaalsee kampering op private plase om hierdie gaping te vul.
Haak dus jou wa en mik in die rigting van Medike en die Soutpansberg. Of as jy eerder suid wil reis, gaan verken die endemiese gebiede suid van die Gariep.
Só kan jy help om ons natuurskoon te bewaar.









