Baviaanskloof-avontuur: Toe bloudraad my Kewer gered het

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vir die eerste 16 jaar van my lewe het ons klokslag een keer per maand die motor gepak en vir 'n naweek Baviaanskloof toe gegaan. My ouma en oupa was afgetrede kleinboere en het op die plaas Mistkraal gewoon.

Ons het in Port Elizabeth gebly en die Baviaans is net om die draai. My ouers het nooit gesê hulle gaan "Baviaanskloof toe" nie, maar het eerder gesê hulle gaan "huis toe" wanneer ons dié naweekbesoeke beplan.

Hulle was albei boorlinge van die kloof en is slegs daar weg vir hoërskool op Willowmore en om later in Port Elizabeth te gaan werk. Kloof toe was steeds huis toe. Die Baviaanskloof het sy naam gestand gedoen en ons het dikwels op troppe bobbejane afgekom soos ons gery het.

"Nader aan 'n mens sal jy nie maklik kry nie," het my pa dan altyd gesê. Sou ons vir 'n paar minute talm om hulle manewales dop te hou, sou hy dalk iets byvoeg soos: "Laat daai een jou nie baie dink aan oom so-en-so nie?"

In die middel 1970's word ek 'n student aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth. Ek ry 'n wit Volkswagen Kewer met 'n Uppie-plakker op die agterste ruit - ek is 'n Uppie in murg en been.

Ek studeer hard en geniet "gesonde ver-maak" saam met my maats. Kort voor een van ons finale eksamens besluit ek en drie vriende om op 'n staptog te gaan in die Baviaanskloof - op Doringkloof, die Smitte se plaas.

Ons het genoeg bloktyd voor die eksamen en oortuig ons ouers dat 'n wegbreek voor die eerste vraestel net die regte medisyne vir hulle hardwerkende bloedjies is. Seker omdat ek die oudste en skynbaar verantwoordelikste is, is ek in beheer van ons vervoer. My Kewer is die betroubaarste voertuig tot ons beskikking en ek ken boonop die pad goed.

Vriend Theuns beplan die logistiek van die staptog, en Pieter en Jakkie reël die kos en hou ons finansies dop omdat hulle die syfermanne is. Een laatlente-oggend pak ons die Kewer vir 'n tweedagstaptog met kos-voorraad vir goed twee weke. Daar word selfs bevrore vleis ingepak sodat ons sommer meer as een keer op 'n dag kan braai.

Ons is danksy Theuns voorts ook tot die tande gewapen vir enige moontlike gebeurlikheid en onheil: vuurhoutjies, flitse, batterye, noodhulpsakkie, insekweerder - dis omtrent net slangserum wat kort!

Toe ons vierstuks onsself tussen die rugsakke en kosvoorraad in die Kewer inwurm met gepaardgaande kwinkslae en geterg, kan my pa homself nie keer nie: "Nader aan 'n trop bobbejane sal jy nie maklik kry nie..."

Die Kewer draf deur Patensie en daarna lê die kloof se driwwe en berge voor. Maar dis die ideale voertuig vir die klomp kort draaie so vinnig op mekaar. Ons steek "Commering" se Berg (eintlik Combrink, maar die Kloof-mense sê "Commering") en die Kougaberg maklik oor ondanks ons sware vrag.

Ons ry kuier-kuier: Stop hier, swem daar, eet padkos. Ongevalle is daar weinig: Ons kry net een pap wiel. Soms moet iemand eers deur 'n drif stap om te kyk of die water nie te diep is nie - en dan weer met nat broek en al terugklim in die Kewer.

Toe ons agtermiddag ons bestemming bereik, gaan meld ons by die boer aan en word hartlik ontvang - natuurlik met koffie en beskuit. Daarna ry ons tot op 'n plek waar ons die Kewer onder 'n koelteboom parkeer en begin stap na ons eerste oornagplek.

Dis onder 'n bakkrans langs 'n swemgat in die rivier. Ons braai, swem en gesels om daardie kampvuur soos net studente dit kan doen. Ons filosofeer, redeneer, los die landsprobleme op, en kom eers lank ná middernag tot rus.

Die volgende dag doen ons 'n sirkelroete sodat ons weer by dieselfde bakkrans kan slaap. Skielik is die twee dae in die berge verby en moet ons die terugtog aanpak.

Ons stap die paar kilometer terug na die Kewer, laai die kos wat ons nie kon opgeëet kry nie en begin aanstoot in die rigting van Patensie. Die Kewer loop weer mooi, bergop en bergaf. Dit lyk selfs asof ons nog in Patensie gaan wees voor die koöperasie toemaak - Jakkie het sy oog op 'n knipmes daar.

Maar toe ons Combrink se Berg afgaan, voel ek daar's fout. Die Kewer neuk al links; afgrond se kant toe. Maak nie saak hoe knap ek swenk nie, ons foeter al sountoe. Ek is benoud, want wat as dit 'n pap wiel is… 'n noodband het ons nie meer nie!

Ek stop en ons klim uit. En daar sien ons dit: die Kewer se voorwiele staan so "ten past ten". Ons studierigtings is divers, met vakke soos letterkunde, chemie, finansies en onderwys tussen ons, maar ongelukkig is nie een van ons kwartet meganies aangelê nie.

Tog weet ons darem genoeg om te besef dat daar groot fout is en ons nie só verder kan ry nie. Die Kloof-pad word min gery en ons kans op redding is skraal; so skaars soos 'n student wat goed voorbereid is vir 'n eksamen.

En gepraat hiervan - Theuns moet die volgende oggend sy eerste vraestel skryf...

Maar 'n student maak 'n plan. Ek bestuur, Pieter sit voor om my geselskap te hou en aanwysings te skree indien nodig en die ander twee, dis nou Jakkie en Theuns, loop links langs die voorwiel - tussen die afgrond en die Kewer. Hulle maak beurte om die linkervoorwiel die heeltyd regs te skop sodat dit saam met die regtervoorwiel kan draai soos dit moet draai.

Só is ons teen looppas af tot aan die voet van die berg, waar ons by die eerste plaashek indraai. Die boervrou is tuis en sy sê ons sal moet wag tot haar man van die veld af kom vir middagete.

Om die tyd om te kry, lê ons weg aan haar tuisgebakte koekies. Intussen kan ek my ma bel en reël dat sy ry van Port Elizabeth af om die drie "akademiese reuse" te kom haal sodat hulle kan gaan voorberei vir hulle vraestelle.

'n Uur en 'n half later is my ma daar in haar Ford Escort, laai die drie op, en ry dadelik weer. Kort daarna is die boer uiteindelik terug by die opstal. Ek verduidelik my storie en hy gaan kyk na die Kewer.

"Tie rod ends, as jy my vra," sê hy en loop skuur toe. Hy kom te voorskyn met 'n tang en 'n stuk bloudraad en kruip onder die Kewer in.

Tien minute later is die kar weer padwaardig en ek padvaardig. Ek bedank die boer hartlik en trek weg. Toe ek die teerpad by Patensie vat, toe draf daai Bloudraad-Kewer sommer lag-lag 100 km/h.

Kort duskant PE se westelike voorstede steek ek my ma-hulle in die Ford Escort verby! Theuns was toe betyds vir sy eerste vraestel, ons het nog drie dae kon weglê aan die kos wat ons nooit tydens die staptog kon opeet nie. En die Kewer het tog te lekker gery met sy bloudraad-tie rod ends.

Toe ek ses maande later op die punt staan om die Kewer teen 'n goeie wins te verkoop, sê my pa vir my: "Jy moet net onthou om nuwe tie rod ends in daai kar te sit, jy gaan hom nie só deur die toets kry nie."

Deon Strydom

SPELETJIES VANDAG

CTA