Ek moes dit as 'n voorbode beskou het, die dag toe ek in die Jack Lemkus-sportwinkel diep in gedagte voor die visgerei staan en ewe skielik die stem hier langs my hoor vra: "Can I be of assistance, Sir?"
Totaal onkant betrap, antwoord ek: "No fanks, hey, I'm just looking at de… at de… katrouls."
Na 'n effense weifeling in die gemoed gaan die lig vir die verskoopsman op: "Oh! You mean the reels, Sir. You are looking at the reels?" Voorbode. Dis wat dit was.
Net daar moes ek my pêl Erasmus gebel het. "Daai kamp-en-visvangtrippie wat ons vir die naweek beplan… dit gaan nie gebeur nie. Ek het 'n aardige voorgevoel."
Maar ek het nie gebel nie.
En so is ons toe die Vrydagmiddag skuins ná bier uit die stad weg, Weskus toe. Verlorenvlei, om meer spesifiek te wees.
My 1982 Toyota Corolla 1.3-sedan swaar gelaai met die noodsaaklike items om kamp te maak en vis te vang. Soos 48 Black Labels, 2 bottels Jack Tarr-rum, genoeg Coke om dit te verdun. 'n Coleman vol ys.
Ons bly immers twee dae in die wonderskone natuur, reg teen die "V'loor'vlei-rivier", soos die Weskussers sê. Nou kyk, dit was reeds vroeglente. Daai tyd van die jaar waar jy moet begin weghou uit enige hoeke aan die Weskus, want as die son jou dáár vaskeer, word daar kastaiings van jou gebraai.
Ons was dus voorbereid op 40 ºC plus rente. Sonbrandmiddel, breërandhoede, kortbroeke en T-hemde, stewige rots- en watersandale. Halfpad tussen die skilderagtige Redelinghuys en die kusdorpie Elandsbaai swaai ons op 'n plaaspad af en kies koers op 'n grondpad viswaters toe, al aan die voet van die Muishoekberg.
"Grondpad" moet hier in die baie breë sin van die woord vertolk word. Dit was aanvanklik een, maar dit word gou duidelik hierdie is 4x4-wêreld. Dongas en fris rotsblokke maak die pad allesbehalwe begaanbaar vir 'n swaargelaaide liggewig sedan.
En dan volg los klippe so groot soos Jonah Lomu se bobeen en 'n diksand- tweespoor met 'n hoë middelmannetjie, wat aanhoudend kap en skraap aan die Toyota se onderstel. Matroostaal is gebesig. Konstant.
'n Keer of wat is daar noodgedwone gestop, ballas afgegooi, 'n entjie verder gery, weer gelaai. Einde ten laaste, 5 km en 75 minute later, is ons by Muurtjie, ons kampplek vir die naweek. Dis al goed skemer.
Maar as vindingryke stadsjapies het ons - ná drie stewige doppe elk - tjoef-tjaf die tweemantent binne die bestek van 'n uur met sewe en 'n halwe penne staangemaak en die (enigste) sak rooikrans aan die vlam gekry, ondanks heen-en-weer-beskuldigings oor wie se verantwoordelikheid dit was om die Blitz te koop (niemand het nie).
Die lyne is in die water. Maar dis stil. Gevrek. Nie eens 'n ou knibbeltjie nie. Die poeliesmanne van deeg wat oor die water aan die lyn waghou en jou moet waarsku daar is aksie by die hoek, róér nie.
Niemand vang hier, so wyd en ver van die beskawing af, nie, het my visvangmaat belowe. Die karp sal onder mekaar baklei om eerste te byt, het hy gesweer. Maar die moddervreters swem wye draaie om die mieliepitte.
Trek hulle neus op vir die deegbomme, selfs dié wat met groot moeite gegeur is met kerrie en karamel. Die Saterdag is die situasie nie veel beter nie.
Vroeg uit die vere en met 'n paar droë takkies op die vuurmaakplek, 'n oorskietstompie of twee later, en die vuurtjie knetter gesellig voor die tent.
Die koffiekan gesels gou saam en, selfs in die afwesigheid van melk (wat een van ons sou bring, maar…), smaak die boeretroos vorentoe saam met die klam beskuit, wat oornag in die Coleman saam met die ys vergeet is.
Rondom middagete is ons egter goed gatvol vir die droogte langs die waters. Die gevoel word vererger deur die feit dat jy die skermunkels kan síén swem. Die son steek reeds sy ongenadige voelers uit. Nêrens is 'n boompie in sig nie, die tent is 'n sauna.
Vieruur daai middag word daar 'n uitvoerendebestuursbesluit geneem: Die ys is besig om teen 'n hewige tempo te smelt. Dus: Dit moet nóú benut word, terwyl daar nog ys is. In daardie stadium het die oorblywende tweeliter-Cokebottel al boepens in die son gelê en bak.
Teen die tyd dat ons nommer twee oopskroef, was daar genoeg Tarr in ons om al die slaggate van die Kaap tot Kaïro te vul. En net daar, asof 'n skakelaar aangesit is, begin die karp byt! Die mieliepitte tref skaars die water, dan sing die katrolle.
Nou nie juis makhulu's nie, maar darem regte, egte, lewende vis. Ons is só gefokus op ons taak om soveel as moontlik van hulle uit te sleep dat ons nie dadelik oplet dat die noordwes opgesteek het nie.
ál hoe kwater blaas hy. Die temperatuur sak merkbaar. Grys wolke begin saampak. Toe die eerste groot druppels ons tref, is dit al sterk skemer. En toe die sluise 'n uur later oopgetrek word en die laaste sluk Jack Tarr met reënwater verdun word, was dit donker genoeg om die flitslig met die gaar batterye in die motor te gaan soek.
Deurdrenk en op soos ou botter kies ek toe maar koers na die tentjie, wat ons darem intussen, in 'n oomblik van nugterheid, met klippe vasgepak het. Maar Erasmus staan vas.
Nog een gooi, asseblief. Die grote gaan nou byt, sê hy. Hy kan dit aanvoel. Skaars 15 minute later, pas ná wat geklink het soos 'n vlakkerige ingooi, sing sy katrol.
Hy katrol vervaard in, maar die lyn sing weer soos die gedierte die aas dieper insleep. Hy katrol weer in, en wéér sleep die vis die aas weg.
"Dis 'n moerske een," skrou hy uitasem. "Ek skat 'n vyfkilogrammer, minstens."
Die geveg duur vir wat voel soos 'n ewigheid. Hy buig daai koolstofvesel-Shimano dat dit met 'n gevaarlike boog staan, maar die karp - of watter monster daar ook al in die diepte skuil - weier om die stryd gewonne te gee.
Die katrol skree hoog bo die gehuil van die noordwester, die reën is meedoënloos, maar die visserman is in die pylvak en niks gaan hom stop nie.
"Ek dink ek het hom nou, hy begin moeg raak," skrou hy weer. "Bring daai skepnet. En die flitslig, dat ons die bul kan uithaal!"
Ek strompel die donkerte in - tierende dwarswind, reën in die oë, beteuterde ligkolletjie soek-soek voor my vastrapplek op die gladde rotse. Uiteindelik vind ek sy lyn en lei myself daarlangs ál nader aan waar die ou grote op sy laaste is…
Jare later sou Erasmus my vertel dit was die lelikste lag wat hy iemand nog hoor lag het. Daai aand, aan die eindpunt van sy lyn. My lag. Een wat tot vandag toe by hom spook.
Want wat ek daar aan die hoek gevind het, was nie die grootste karp in Verlorenvlei nie, maar 'n kniehoogte doringbos sowat 20 m voor my vriend, die hengelaar.
Dis waar hy aanvanklik in die donker sy aas ingegooi het. Waar die hoek in die takke verstrengel geraak het. Hy katrol in, die wind en die bos se weerstand trek weer die lyn terug.
Ons het daai nag in die reën tent opgeslaan. In die Toyota gesitslaap. En die volgende oggend douvoordag al sukkelende, met 'n swanger stilte in die motor, teruggery Kaap toe.
‘Ek dink ek het hom nou, hy begin moeg raak,' skrou hy weer. ‘Bring daai skepnet. En die flitslig, dat ons die bul kan uithaal!'













