Ek was ’n klompie jare gelede betrokke by pogings deur deur drie instellings wat onderskeidelik probeer het om die kampbedryf te verbeter.
Die veldtog van die Toerismegraderingsraad van Suid-Afrika (TGCSA) was die omvattendste, maar nie sonder sy tekortkominge nie.
Die groot probleem was die gebruik van sogenaamde meesterassessors, wat ’n beduidende sê gehad het in gradering, maar in baie gevalle erg tekort geskiet het wanneer dit by praktiese kampervaring kom.
Hierdie assessors moes alle graderingsverslae goedkeur, wat onvermydelik tot konflik gelei het.
In een saak het hulle daarop aangedring dat die badkamers van die weelderige Mount Nelson-hotel en dié van Mbizi, Suid-Afrika se eerste vyfster-woonwapark, aan dieselfde standaarde moet voldoen.
Dit was onrealisties, en toe die TGCSA se meesterassessor Mbizi se gradering terughou, het die eienaar sy misnoeë sterk uitgespreek.
Die TGCSA het daarop gereageer deur die graderingsbeampte summier te ontslaan.
Die Automobiel-assosiasie se poging om kampplekke in kategorieë te verdeel (soos boskampe, ATKV-oorde en kampplekke wat op spesifieke marksegmente fokus) was pragmaties en verdienstelik.
Ongelukkig het dié poging momentum verloor toe die projekbestuurder die organisasie verlaat en die nuwe bestuur besluit om die gehaltestelsel af te skaal.
Die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde het nasionale standaarde vir die kampbedryf probeer daarstel, en ek en my goeie vriend wyle Willie Bromehead was vrywillige deelnemers aan hierdie proses.
Ons primêre doel was om die belange van kampeerders te beskerm, en hoewel ons nie vir ons tyd en moeite betaal is nie, het ons kennis en ervaring bygedra.
Hierdie inisiatief het egter ook misluk. Soveel so dat net die TGCSA-graderingsstelsel sedert 2014 regtig gebruik word.
Een van die vreemdste dinge wat ek in daardie tyd ervaar het, was met die SABS-proses. Een van die selfverklaarde “kundiges” wat ’n sê in die graderingstelsel gehad het, was ’n weeldebehepte sosiale vlinder van Sandton en haar idees was die vergestalting van onpraktiese wensdenkery.
Sy was vasbeslote om Suid-Afrikaanse kampplekke te omskep sodat dit weelde en glans bied, iets wat volgens haar juis ontbreek het.
Volgens haar was die ATKV en Forever Resorts se ablusiegeriewe niks beter as dié van mynhostels nie.
Haar lys van voorstelle was nie net onuitvoerbaar nie, maar ook skreeusnaaks. Toiletpapier moes aromaties wees en ysblokkies moes elke halfuur in urinale geplaas word.
Spieëls mag geen kampeerder laat lyk of hulle oorgewig is nie, want volgens haar is dit “negatiewe energie” wat mense ontmoedig om ’n kampplek te besoek.
Volgens haar moes tente nie meer van kakiekleur materiaal gemaak word nie, maar eerder in bloospienk en ander pastelkleure, om iets aan die vervelige landskap van tradisionele tente te doen.
Woonwaparke moes boonop pastelkleur pepersproei en gloei-in-die-donker armbande verskaf om ape, spinnekoppe en nagadders weg te hou, en woonwaens se standaardtoerusting moes insluit ’n cappuccino-masjien en alarmstelsel.
Willie, ’n ervare kampeerder met diep wortels in eenvoudige en realistiese kampervarings, het haar probeer oorreed dat kamp oor eenvoud en ’n aanpassing met die natuur gaan, en nié oor oordrewe luukshede nie.
Hy het vertel hoe sy oumagrootjie van Cradock met ’n ossewa na die Natal-streek gereis het – en dít sonder lekkerruik-witgoud of ’n bloospienk tent.
Ondanks tegnologiese vooruitgang en die onrealistiese idees van mense wat kamp net as ’n manier sien om te wys hoe deftig hulle is, bly die kern van die leefstyl dieselfde.
Dit is ’n geleentheid om die natuur te ervaar soos dit is, al lek jou tent, al steel apies jou beskuit of al raak die gassilinder halfpad leeg terwyl jy ’n potjie aan die gang het.
Kamp is en sal altyd ’n eenvoudige dog kosbare leefstyl wees wat avontuur en ’n liefde vir die buitelewe aanwakker.















